Seun 33 keer met mes gesteek: ‘Dit affekteer ons almal’

Argieffoto

Byna ʼn maand nadat ʼn 12-jarige seun van Goodwood in Kaapstad in ʼn park naby sy huis aangeval en 33 keer met ʼn mes gesteek is, sukkel hy en sy familie steeds om dié traumatiese voorval te verwerk.

Die seun is op 11 Julie omstreeks 13:30 in die park in Paarlstraat aangeval. ʼn Man het hom genader en sy naam gevra voordat hy hom herhaaldelik met ʼn skerp voorwerp in sy nek, rug skouers en gesig gesteek het. Die seun het ook talle steekwonde aan sy hande opgedoen toe hy homself probeer verdedig het.

Die motief vir die aanval is nie duidelik nie, aangesien die seun niks waardevol by hom gehad het wat die aanvaller kon roof nie. Moain Salie (31) is later dieselfde dag deur die polisie in hegtenis geneem.

Die seun se ma het versoek dat die familie se name nie bekendgemaak word nie. Sy het Donderdag aan Maroela Media gesê die seun was vandag weer by ʼn dokter en moet Vrydag weer teruggaan hospitaal toe. “Baie van sy senuwees is beskadig. Hy moes onmiddellik ná die voorval ʼn noodoperasie ondergaan om ʼn aar in sy nek en ander wonde te heg. Twee dae later het hy nóg ʼn operasie aan sy hande gehad en twee weke gelede moes hy ʼn operasie ondergaan om die senuwees in sy gesig te herstel.”

Sy het gesê weens die skade aan die senuwee is die linkerkant van die seun se gesig dood en wil sy ooglid nie behoorlik knip nie. Hy kan ook nie behoorlik glimlag nie. “Ons weet nog nie watter langtermyn skade hy sal oorhou nie en wag nou om te sien of die senuwees sal herstel,” het sy ma gesê.

Sy het gesê die seun sukkel ook emosioneel om die voorval te verwerk. “Hy kry sulke uitbarstings en na vandag se besoek aan die dokter, is hy baie af. Dit is vir hom moeilik, veral omdat hy nou weer moet teruggaan dokter toe. Ek het ook vandag by die dokter in trane uitgebars. Ek probeer om sterk te wees en nie voor hom ontsteld te raak nie, maar die voorval affekteer ons almal.”

Salie is tydens sy vorige verskyning in die hof vir psigiatriese waarneming verwys. Hy sal weer op 15 Augustus in die hof verskyn.

Volgens die seun se ma het sy nog nie een van Salie se hofverskynings bygewoon nie en is sy onseker of sy dit wel in die toekoms sal doen. “Ek het tot nou toe nog net gefokus op my seun en sy welstand. Ek weet nie of ek sterk genoeg sal wees om in die hof te wees wanneer hy verskyn nie. Vir nou wil ek net op my seun fokus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ada ·

Dit is n vreeslike ding om te verwerk.Natuurlik gaan dit baie baie lank neem! Hou net aan die seun ondersteun en sterkte aan die ouers.

Nel79 ·

Ek sê ook hier is beslis meer agter hierdie saak as net ñ mal ou wat ñ kind aangeval het. Hoe het hy sy naam geken?
Hopelik is daar speuders op hierdie saak… dis deesdae te maklik om mal te pleit en hy smile van oor tot oor want sy opdrag is voltooi en hys vry om weer so iets te doen.

Piet Pompies ·

Kinders is onskuldig en ons is geleer om hulle so groot te maak, ongelukkig is die wêreld (Suid Afrika) daar buite nie so onskuldig as gevolg van die wreedheid van misdaad is SA.
Sterkte aan die kind en ouers, ons Trooster sal vir julle bystaan.

maria ·

Die ou wat die kind gesteek het met n mes , het sy naaam gevrae ????? dit se klaar iemand het hom op gesteek om dit te doen . wat het iemand teen die mense ?
ek bid dat die kind genees, mense kan lelik raak .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.