Seun (4) sterf, meisie (5) in hospitaal ná hul in swembaddens beland

Argieffoto

ʼn Vierjarige seun is dood en ʼn vyfjarige meisie in die hospitaal opgeneem nadat albei kinders oor die langnaweek in twee afsonderlike gevalle in ʼn swembad beland het.

Russel Meiring, ER24-woordvoerder, sê die seun is Maandagaand by sy huis in Helderkruin in die weste van Johannesburg dood verklaar. ʼn Familielid het die seun glo oomblikke vantevore in die swembad sien dryf en hom onmiddellik uit die water gehaal.

Volgens Meiring het nooddienste omstreeks 19:35 by die huis aangekom waarna ʼn veiligheidswag reeds kardiopulmonêre resussitasie (KPR) op die seun begin toepas het. Hoewel nooddienste met gevorderde lewensondersteuningshulpmiddels ingegryp het, het die seun ná sowat 45 minute geen tekens van lewe getoon nie.

In die tweede voorval, wat Sondagaand gebeur het, is Netcare se nooddiensspanne ook na ʼn huis in Mondeor in die suide van Johannesburg ontbied.

Die meisie is glo ook in die swembad gevind, waarna mense op die toneel KPR begin toepas het. Paramedici het met hul aankoms op die toneel ingegryp, medikasie toegedien en haar op ʼn ventilator geplaas.

Sy is per helikopter na die gespesialiseerde noodeenheid van ʼn hospitaal geneem vir dringende mediese sorg vanweë die ernstige aard van die voorval.

Netcare het weer klem gelê op voorkomingsmaatreëls en bewustheid vir diegene met swembaddens tuis. Die maatskappy sê die aantal verdrinkingsgevalle verhoog dié tyd van die jaar en moedig ouers aan om meer waaksaam te wees. Netcare sê dit is veral ook belangrik om ʼn kursus in noodhulp en KPR-opleiding af te lê, veral as jy ʼn swembad tuis het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Swembadnet ·

‘n Net oor jou swembad? Maar té veel moeite om dit af te haal en terug te sit na elke swem? Gooi maar daardie gat toe!!!
Leer jou kind om te swem!!!

MM ·

Dit moet nie veronderstel te veel “Moeite” te wees om dit op en af te haal nie- Wees bly jy kan swembad bekostig – anders moet daar nie een in jou erf wees nie.

Hartseer&kwaad ·

Mense mense mense!!!!As jy n swembad het moet daar n veiligheidsnet op wees ten alle tye! Nog te meer as jy kleintjies het wat rondhardloop of kruip. As n kind in die water val wat nie kan swem nie is daar nie sparteling nie, hul sink direk na onder, daar is nie hulp krete nie! Jy dink jy gaan dit kan hoor, maar jy doen nie. Geen ouer moet deur so n nagmerrie n baba aan die dood afstaan nie deur hul liggaampie uit die water te haal nie. En dit hoef nie so te wees nie!!! Sit jul vervlakse nette op, en as jul nie n net kan bekostig nie, moet jul nie n swembad besit nie. Tap hom leeg want dis n doodvonnis vir n baba of kind wat nie kan swem nie. Verantwoordelikheid en veiligheid is ons as ouers se plig! Ons kan nie altyd oral wees met kleuters nie, dis menslik onmoontlik, ongelukke gebeur so vinnig, ons weet dit, maar dis hoekom sekere veiligheidsmaatreels in plek moet wees. Dit breek my hart om sulke stories te lees en terselfde tyd maak dit my briesend kwaad want dit kon voorkom word. RIV kleine prins. Sterkte klein prinsessie, ons bid vir jou.

Gaan voort ·

Wat het van ons mensdom geword in SA dat daar altyd ‘n verskoning gevind word vir ‘n kind se dood? NALATIGHEID is aan die orde van die dag, ‘n kind word nie vasgegordel nie, ‘n net word nie oor die swembad gespan nie, ‘n kind word nie dopgehou in die bad nie, ‘n kind val uit ‘n motor, ‘n kind word op ‘n ashoop gegooi en ALTYD moet ons die ouers se kant verstaan? Neewat ek het opgegee met SA se mense, snork nou maar op, dit is duidelik dat menselewens niks meer werd is nie.

marous ·

As die swembaddens nie beveilig is nie , is dit strafbare manslag. Diegene wat simpatie het moet mooi dink wat hulle sou doen, indien hulle kinders deur iemand anders se blatante nalatigheid omkom.

Karen ·

Ek is verstom dat mense verbaas is as goed verkeerd gaan……… wat verwag jy as jy nie jou swembad beveilig, of jou kind vasgordel in die kar nie? Ek gun geen ouer die verwyt na die tyd nie, maar sekerlik is iemand toerekeningsvatbaar??????

Mel ·

Ek stem saam 100% jou hartseer&kwaad, baie sterkte aan di betrokke gesinne

Alida ·

NALATIGHEID !!!! Dit kon voorkom gewees het. Arme onskuldige kindertjies gaan dood omdat die ouers of wie ookal die kinders moes oppas nalatig was en moet asb nie vir my kom sê dit was sy of haar tyd nie.. DIT was nie die Here se wil nie. As die kind opgepas was sou dit nie gebeur het nie.

A. Mac ·

Dis nou wat gebeur as daar ander dinge is wat meer belangrik is as om ‘n net oor jou swembad, of ‘n ordentlike heining om jou swembad, te sit. As jy geld het vir ‘n swembad en om dit in stand te hou dan moet jy sekerlik geld hê vir al die veiligheidsmaatreëls wat met ‘n swembad saamgaan. Maar nee, so iets sal mos nooit in jou swembad gebeur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.