
Michael Nortjé het baie seergekry toe ’n vragmotor op sy ouers se plaas oor hom gery het. Foto: Verskaf
ʼn Vyfjarige seuntjie van Mpumalanga is in ʼn ernstige toestand in die waakeenheid van ʼn Oos-Randse hospitaal nadat ʼn vragmotor oor hom gery het.
Klein Michael Nortjé se been is gebreek en sy skedel op drie plekke gekraak in die ongeluk wat tussen 17:00 en 18:00 Donderdag op sy ouers se plaas by Kinross plaasgevind het.
“Soos hyself verduidelik,” het sy ma, Monica van der Merwe, Vrydag aan Maroela Media vertel, “het hy agterop die 8 ton-trok gespeel. Die mechanic wat ʼn werkwinkel op die plaas het, het hom nie gesien nie, en die trok aangeskakel en weggetrek. Toe val Michael van die trok af.”
Van der Merwe sê Michael vertel die vragmotor het bo-oor hom gery. “Ek is nie 100% seker hoe dit gebeur het nie; toe ons op hom afkom, het hy daar by die pad gelê.”
Sy sê Michael is nog deurentyd by sy bewussyn, maar kla hy het seer. “Sy een been is heeltemal gebreek en sy skedelbeen gekraak, maar gelukkig het hy geen bloeding op die brein nie.”
Van der Merwe en haar man, Walter Nortjé, het eers met Michael na die hospitaal op die nabygeleë Evander gejaag. Omstreeks 22:00 is sy saam in die ambulans na die Sunshine-hospitaal in Benoni, terwyl Nortjé sy ouers op Springs gaan haal het om saam hospitaal toe te kom.
Die egpaar het nog vier kinders: Johan (9), Alex (8), Sulanica (2) en klein Morné (5 maande).
“Al wat ek vra,” het Van der Merwe Vrydagmiddag gesê, “is dat mense vir Michael moet bid. Enige ander bydrae wat hulle wil gee, is meer as welkom, maar ons vra veral dat hulle vir hom sal bid.”
Sy vertel die motorwerktuigkundige wat na bewering oor Michael gery het, ene Theo, “is in ʼn toestand” oor wat gebeur het. “Hy bel en whatsapp time and again. Hy wil hê die polisie moet hom toesluit en het vir my man gesê, as hy hom te lyf wil gaan, sal hy hom nie kwalik neem nie.”
Dis nie bekend hoe lank Michael in die hospitaal sal moet bly of wanneer hy vir die eerste keer geopereer sal word nie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
29 Kommentare
Nee regtig..2de kind nou al…sterkte aan gesin…. mens kan nie klippe gooi nie, maar mens moet die kindertjies maar mooi dop hou.
Theo, glad nie jou skuld. Wie moes toesig hou oor die seuntjie en seker maak hy speel op n veilige plek, wat beslis nie n vragmotor se bak is nie…
IS DIT NIE DIE SEUNTJIE WAT OORLEDE IS NIE
Dit is verseker nie die drywer se skuld nie. Ons bid dat hy volkome genees. Sterkte aan die family..
Dis verskriklik! Die 2de seuntjie in minder as 3 weke! Sterkte kleine lyfie!! Ons bid vir jou!! Theo, ons bid vir jou ook!!