Seun (6) byna dood ná motor per ongeluk oor hom ry

[OPVOLG] Die pa van die seuntjie het intussen aan Maroela Media gesê sy kind se poging om ʼn goeie daad te verrig het tot die traumatiese voorval gelei. Lees die opvolgberig hier.

Argieffoto: Netcare 911

ʼn Sesjarige seun van Germiston in Gauteng is in ʼn ernstige toestand na die hospitaal gehaas nadat ʼn geparkeerde voertuig Saterdagmiddag per ongeluk oor hom gery het.

Nick Dollman, Netcare Limited-woordvoerder, sê die seun het glo oomblikke voor die voorval in die geparkeerde motor gespeel wat in die oprit van die gesin se huis gestaan het. Volgens Dollman het die seun per ongeluk die motor se handrem losgemaak, uit die motor geklim en gaan sit om vermoedelik verder op die oprit te speel.

Die voertuig het glo teen die oprit afbeweeg en oor die seuntjie gery.

Dollman sê die kind het ernstige beserings opgedoen en moes onder meer sterk medikasie ontvang omdat hy glo baie pyn verduur het.

Die seun is vanweë die omvang van sy beserings per helikopter na die trauma-eenheid vir dringende mediese sorg gehaas.

Die seun was teen Sondagoggend steeds in ʼn kritieke toestand.

ʼn Polisieondersoek na die voorval duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

$ ·

Maroela, ek glo in hierdie geval kan julle maar gerus die aanhalingstekens by “per ongeluk” verwyder; die feit dat julle dit in aanhalingstekens aantoon maak dit duidelik dat julle probeer ruimte skep vir die moontlikheid dat dit nié per ongeluk was nie – dus aspris. Geen sesjarige kind sal aspris ‘n voertuig se handrem loslaat en dan voor of agter die motor gaan sit sodat dit oor hom/haar moet ry nie. Geen ouer sal ook aspris oor sy kind ry nie, dus is jul aanhalingstekens om te insinueer dat dit moontlik aspris kon wees, onnodig. As julle nie die aanhalingstekens wil verwyder nie, verwyder dan die woorde “per ongeluk” in geheel, dan word daar nie geinsinueer dat dit per ongeluk óf aspris was nie en julle hou slegs by die feite.

Sterkte aan die seuntjie en sy ouers – mag hy spoedig en volkome hestel.

Cyril Blackburn ·

Dagsê $
Dankie vir jou kommentaar! Ons het weer na die artikel gaan loer – die aanhalingstekens was aanvanklik om te wys dat dié stelling deur nooddienspersoneel gemaak is, maar jy is reg as jy sê die betekenis daarvan kan moontlik verkeerd verstaan word. Die artikel is reeds gewys, dankie vir jou valkoog!
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

Karina ·

Dis baie hartseer en sterkte aan die ouers.Hoop dat hul seuntjie gou sal herstel.(Wil net graag weet hoekom hy in die kar gespeel het?)

Se net ·

Karina die motor het in die oprit gestaan en heel moontlik was die ouer besig om goed uit te laai of iets dergliks. Natuurlik is kinders net kinders en sonder sy ouers se medewete in die kar geklim en sommer allerhande knoppe te druk en goete te trek, nes kinders maar is nuuskierige wesens, onbewustelik van sy aksies uitgeklim om verder te speel. As ons net 100% van elke dag by ons kinders kan wees. Weereens net ‘n ongeluk. Arme ouers sterkte en bid dat die seuntjie ten volle sal herstel.

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek weet nie of ‘n 6jarige kind ‘n handrem onklaar kan maak nie. Moontlik was dit ‘n outomatieseratkas-motor en dat die bestuurder net die motor in ‘PARK” gesit het en dat die kind die ratte toe “verander” het. Mens is geneig om nie die handrem op te trek as jy die motor slegs in “park” sit nie. Dis sommer vir my ook ‘n les want dis wat ek uit gewoonte doen.

Mariska Botha ·

Hallo. Ek is die mamma van die seuntjie wat omgery is. Ek wil dit net regstel. My seuntjie het nie in die kar gespeel nie. Dit als het gebeur deur n goeie daad wat hy wou doen. Ek wil ook net byse dat hy vandag ontslaan is en ons dank die Here dat daar geen ernstige skade is nie. Hy sal nou volkome herstel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.