Seun (6) oorleef gru-ongeluk: ‘Hy is ʼn vegter’

Janco Oberholzer. Foto: Verskaf

Janco Oberholzer (6), die seuntjie van Phalaborwa in Limpopo wat die gru-ongeluk oorleef het waarin vier ander mense Saterdag gesterf het, het reeds in sy kort lewe kanker ook oorwin.

“Ek voel skuldig en daar is baie vrae. Hoekom is my kind gespaar en die ander mense in die voertuig nie? Maar my kind leef en ons is dankbaar. Ons is so ongelooflik dankbaar,” sê Cornel Oberholzer, Janco se pa.

Maroela Media het vroeër berig Frank (41), Celesté (40) en Franko Streicher en Lenisè Janse van Vuuren (19) is dood nadat die voertuig waarmee hulle gery het op die R71 naby Gravelotte reg van voor teen ʼn vragmotor gebots het. Janco, wat ook in die motor was omdat hy saam met sy maatjie, Franko, wou ry, is ten tyde van die ongeluk uit die voertuig geslinger.

Die Streicher-egpaar se oudste kind, Lua (8), was nie ten tyde van die ongeluk in die voertuig nie.

“Ons was op pad terug van die bulletjierugbydag in Letsitele en het so ʼn entjie agter hulle gery,” vertel Oberholzer. “So ʼn paar minute nadat die ongeluk gebeur het, het ons op die toneel afgekom. Toe ek die ongelukstoneel sien, het ek besef my kind is in daardie motor. Net toe ons daar stilhou, het my vrou geskree: ‘Daar lê Janco!’”

Hy sê hy het Janco sowat 30 m van die voertuig af langs ʼn draad aangetref nadat hy vermoedelik deur ʼn voertuigruit geslinger is. “Daar het bloed by sy mond uitgekom. Sy arm was sleg gebreek en hy het ʼn reusesny oor sy kop tot op sy skedel gehad. Ek het eers gedink hy is weg, maar toe ek aan sy gebreekte arm vat, het hy gekreun. Toe besef ek hy is nog daar. Ek het net aanhou met hom praat totdat die ambulans opgedaag het.”

Celesté, Frank en Franko Streicher is in die ongeluk oorlede. Foto: Facebook

Janco is in die waakeenheid van die Mediclinic Tzaneen opgeneem waar hy ʼn operasie ondergaan het om ʼn pen in sy arm te sit en die wond aan sy kop te herstel. “Hy slaap maar meestal en maak nie regtig sy oë oop nie, maar hy sal kreungeluide maak wanneer ons by hom is, so hy is bietjie wakker. Die dokter sê dit is normaal dat hy nou meestal slaap. Hy het gelukkig nie bloeding op sy brein opgedoen nie, maar daar is wel swelling op sy brein.”

Oberholzer het gesê Janco se toestand is stabiel, maar dit is nog te vroeg om te sê of hy buite gevaar is of nie. “Hy het baie pyn. Sy lyfie is vol krap- en brandmerke soos hy oor die teer geskuur het.”

Hy sê Janco is drie jaar terug met leukemie gediagnoseer, maar het dit sedertdien oorwin en is nou heeltemal kankervry.

Oberholzer is ʼn onderwyser by Laerskool Phalaborwa (Groenskool), dieselfde skool waar Celesté Streicher ʼn gr. 1-onderwyseres en Janse van Vuuren ʼn leerlingonderwyseres was. Frank was ʼn fisioterapeut op Phalaborwa.

Volgens Oberholzer voel die hele gebeurtenis vir hom steeds onwerklik. “Ek fokus nou op my kind, so ek was nog nie eens terug in Phalaborwa nie. Maar dit is ʼn verskriklike tragedie. [Die Streicher-gesin] was ons vriende … ons weet nie hoekom dit moes gebeur nie. My kind is vir nog ʼn ruk aan ons geleen en ons kan net dankbaar wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Annie ·

Elke keer wat ek iets lees oor die gesinne is ek in trane. My hart is in twee geskeer vir julle. Ons bid dat Janco spoedig sal herstel en dat Lua berusting sal vind. Dit is so hartseer! Ek bid dat God elkeen van julle sal dra en julle sal sterkter maak! Sterkte vir julle. Julle sal altyd in my gebede wees!

Rikku ·

Prys die Here !! dat Kleine Janco gespaar was.
Ons bid vir ‘n spoedige volkome herstel.

Ben ·

My innige simpatie. Pad ongelukke is so onnodig. Die Here se genade is groot, ek glo die Here het ‘n spesiale taak vir Janco. Weet iemand dalk wat die kleur van die motor voertuig en die vragmotor was?

Elize Roets ·

Die hele Phalaborwa gemeentskap wag om tehoor. Al wat ons weet is dat dit op n draai was en dat die trok bestuurder beheer verloor het. Begrafnis vir gesin is op Saterdag die 13 Mei 12:30

Belinda ·

Netwerk24 het fotos op van die ongeluk. Wit trok. My hart gaan uit na almal wat deur die hartseer moet gaan! Mag God elkeen dra in die moeilike tyd!

Lenise se sussie ·

Die motor was wit, die vragmotor was ook wit, met die blou maatskappy naam. Baie groot vervoer motor

Johan ·

My hart gaan uit na almal betrokke. Dit kan nie maklik wees nie.

lw ·

Ek is baie dankbaar hier is darem ñ ligpunt in ñ geweldige tragedie. Janco alle sterkte vir jou. Die Here is inderdaad goed en genadig.

Jan Uys ·

Sterkte vir die gesin van Janco, kom ons almal bid weer saam soos ons vir Christian Prinsloo gebid het twee weeke terug en vertrou die Here vir volkome herstel van die jong seun.

Amazing ·

Wow!!! Janco het verseker n groot calling op sy lewe. Al die teënspoed van kleins af en hy staan nogsteeds sterk. Niks kry hom onder. Amazing!! Prys die Here. Hy gaan n verhaal hê en dit gaan mense raak.

HEB ·

Wat ‘n hartverskeurende tragedie is dit nie; my hart breek vir almal betrokke…soveel lewens en families geraak…

Dankbaar ·

Die naam JANCO beteken GESKENK VAN GOD. Dankbaar saam met jul dat hy weer aan jul geskenk is.

Dankbaar ·

Die naam Janco beteken GESKENK VAN GOD. Dankbaar saam met jul dat hy weer aan jul geskenk is.

rb ·

Verskriklike tragedie om te oorkom. Sterkte vir familie vriende en Janco.

Benita ·

Sterkte aan Lenise se familie, die Streicher familie en ook vir Janco se familie. Ons dra julle in gebed op en bid saam met julle vir vertroosting.

Nakkie ·

So jammer vir almal wat hierdeur geraak word. God seën en alle sterkte.

Boerin ·

Aan Lenise se sussie…. Ousus sterkte vir jou. Ek weet nie hoeveel ouer jy is nie. Ek sien, hoor en voel jou kreet. Onthou die goeie tye. Ons dink altyd dat ouer persone eerste sal sterf… Daarom is dit so skokkend as iemand jonger sterf. Veral in onnatuurlike omstandighede. Dis ‘n bitter pil. Ousus…. Mag jy my warm drukkie ontvang… (Sterkte ook aan die ander families)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.