Seun (8) in koma ná baksteen hom in kar tref

Argieffoto: Netcare 911

Argieffoto: Netcare 911

Caden Slabbert (8) is in ʼn geïnduseerde koma in ʼn hospitaal in Johannesburg nadat ʼn baksteen hom teen sy kop getref het terwyl hy saam met sy pa en suster in die suide van die stad in ʼn motor gery het.

De seun is die slagoffer van ʼn reeks van vier voorvalle wat verlede Donderdag aangemeld is waarby vermoedelik dieselfde verdagtes bakstene na verbygaande voertuie op die N12 naby The Glen-winkelsentrum geslinger het, het Netwerk24 Maandag berig.

Caden, sy pa, Justin, en sy suster, Eden (11), was op pad na hul huis in Benoni nadat sy pa hulle by hul skool in Krugersdorp gaan haal het.

ʼn Man wat langs die N12 geloop het, het ʼn baksteen deur die motor se passasierruit gegooi.

Slabbert het die geluid gehoor en dadelik gekyk of sy kinders beseer is. Eden was ongedeerd, maar hy het geen reaksie van sy seun gekry nie. Caden se kop het gebloei.

ʼn Ambulans van Netcare 911 het in daardie stadium agter hulle gery. Slabbert het die ambulans in sy truspieëltjie gesien en van die pad af getrek om behandeling vir Caden te kry.

Nog ʼn motoris, wat deur ʼn soortgelyke ervaring is, het kort daarna by die ambulans stilgehou. Die bestuurder, Darrell Badenhorst, het gesê sy vriendin, Marionette Schwab (42), is ook deur ʼn baksteen teen die kop getref terwyl sy in die motor was. Sy was bewusteloos en het ʼn kopwond opgedoen.

ʼn Derde voertuig het kort daarna stilgehou om ʼn soortgelyke voorval aan te meld, maar daar was geen beserings nie.

Albei slagoffers is op die toneel behandel en na nabygeleë hospitale geneem.

Na wat berig word, is Caden en Schwab in ʼn stabiele toestand.

Caden sal na verwagting teen Maandag uit die koma wakker gemaak word. ʼn Gedeelte van sy skedel moes verwyder word om te verhoed dat sy brein verder swel.

Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van Johannesburgse metropolisie, het bevestig dat ʼn baksteen ook na ʼn vierde voertuig in die omgewing geslinger is. Dit was onduidelik of iemand tydens dié voorval beseer is.

Netwerk24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

VerVanRyn ·

Ek was self op daardie pad op daardie einste dag en is nou baie bly eks nie ook gegooi nie. Mens raak nogals moeg om bang om te wees in hierdie land…

anet ·

Dit is verskriklik om hiervan te hoor. Die Skurke is absoluut wreedaardig en daarop uit om onskuldige mense te beseer, en die eintlike doel is om te moor.

Ek hoop dat die Polisie die pad sal patroleer(of dit sal help weet ek nie), want hulle na-aap mekaar, en nog meer gevalle sal nog volg.

Schalk ·

Wens dit was moontlik om op n forum soos die te beskryf presies wat sulke lafaards verdien. Een ding is verseker, en ek sien en hoor dit elke dag, die punt waar mense reg in eie hande gaan neem is om die draai. En dit is presies waarvoor die massas wag.

Paplepel ·

Die massas doen dit reeds lankal, dis net die gevalle waar daar ooggetuies by was waaroor gerapporteer word. Hoeveel lyke dink jy tel die Polisie maandeliks op wat hulle geen idee het wat gebeur het nie? Dis baie meer as wat ons van lees.

SNEL ·

Dis vreeslik!!!! En daai skuldige/s sal nooit gevang word nie. Iemand kon dood gewees het. Dit wys net, ons wil niks steel, ons wil doodmaak. Mens se bloed kook sommer. Sterkte aan almal betrokke!!!!

antionette boshoff ·

Nou hoekom word daar nie teen die gemors opgetree nie? Is dit maar aanvaarbaar dat onskuldige mense ernstig beseer word? Wie gee hom die reg om motoriste met bakstene te gooi?

Neptunus ·

Omdat die uitvaagsels eers gevang moet word. Dit lyk nie asof iemand in die SAPD al besluit het om daar êrens naby die brandpunte te skuil en hulle dan vas te trek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.