Seun (8) verdrink langs waterpark

Argieffoto: NSRI

ʼn Agtjarige seun het Saterdag in die strandmeer langs die Wild Coast Sun Casino in die Oos-Kaap se waterpark verdrink.

John Nicholas, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se Port Edward-tak, het gesê NSRI-bemanning is omstreeks 13:20 na die strandmeer ontbied nadat lewensredders ʼn verdrinking aangemeld het.

“Ons het ʼn waterponie en swemmers na die toneel ontplooi. Die polisie se soek-en-reddingseenheid en Med-Evac-ambulansdienste het ook spoedig gereageer,” het Nicholas gesê.

Nicholas het gesê by die NSRI se aankoms op die toneel was ʼn lewensredder op ʼn Malibu-reddingsbord reeds besig om in die strandmeer na die seun, van Mzamba, te soek wat onder die water verdwyn het toe hy gaan swem het.

“Polisieduikers het in die water na die seun gesoek en NSRI-bemanning het bygestaan in ʼn soektog op die wateroppervlak. Ná ʼn uitgebreide soektog het die polisieduikers op die seun afgekom en hom uit die water gehaal. Ongelukkig kon daar niks vir hom gedoen word nie en hy is op die toneel dood verklaar.”

Dit is nie dadelik bekend of die seun ʼn besoeker aan die waterpark was en of hy die strandmeer van buite die oord af binnegegaan het nie.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek en staan die seun se familie by.

Nicholas het sy innige meegevoel met die seun se naasbestaandes betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Buffel ·

Hoofopskrif van jou artikel lees verkeerd seker dis “verdrink” ….as ek die artikel reg lees.

Phillip ·

Dagsê Buffel

Jammer vir die vingerfout. Die opskrif is gewysig.

Groete
Phillip Bruwer, nms. Maroela Media

Sandra ·

Sover ek verneem van betroubare bronne wat daar was het hierdie niks met wild coast sun of hul eiendom te doen nie..dit is n rivier monding wat nie op hul eiendom gelee is nie maar op die gemeenskap sn van Mazamba. Kinders is daar sonder toesig van enige volwassenes en kan glad nie swem nie.. herhaaldelik word ouers gewaarsku maar hul is onbetrokke.
Ek voel jammer vir diegene wat nou rou..dis baie hartseer

Stuiwer ·

Die artikel dui ook nie aan dat dit iets met Wild Coast Sun of hul eiendom te doen het nie (dis inelkgeval hoe ek dit verstaan). Hy is by die strandmeer gevind. Hy kon ‘n besoeker aan die waterpark gewees het, maar dis nie bevestig nie.

Charlotte Barnard ·

Hallo Phillip,
Is die provinsie nie Kwa-Zulu Natal ipv Oos-Kaap nie?

Phillip ·

Dagsê Charlotte

Wild Coast Sun en die strandmeer is inderdaad in die Oos-Kaap geleë waar die voorval plaasgevind het. Dit is egter baie naby aan die grens van KwaZulu-Natal.

Groete
Phillip Bruwer

Erica ·

Dit is altyd hartseer wanneer veral kinders doodgaan. My innige simpatie en dankie aan almal wat hom probeer red het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.