Seun (9) doodgeskiet, drie ander gewond in aanval

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die polisie in die Wes-Kaap het Saterdag met ʼn volskaalse soektog begin na ʼn onbekende aantal verdagtes wat Saterdagoggend vroeg, net ná middernag, ʼn negejarige seun doodgeskiet en drie ander mense gewond het tydens ʼn aanval by die gesin se huis.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, sê die voorval het in Ocean View in Kaapstad plaasgevind.

Volgens Rwexana is dit nie seker hoe die verdagtes toegang tot die huis verkry het nie.

Die drie beseerdes, onderskeidelik 19, 26 en 28 jaar oud, is ook in die voorval geskiet en is na die hospitaal gehaas om behandeling te ontvang. Die negejarige seun is ook na die hospitaal geneem, maar het aan sy beserings beswyk.

EWN berig die familie was glo besig om gereed te maak vir ʼn troue wat hulle Saterdag sou bywoon. Volgens die nuuswebwerf was die familie steeds om middernag besig om vir die troue voor te berei toe die verdagtes toegeslaan het.

Die kind is as Aqeel Davids geïdentifiseer.

Dit is nie seker of enigiets in die voorval gesteel is nie. ʼn Polisieondersoek duur voort.

Enigiemand met meer inligting oor die voorval of die verdagtes kan die Ocean View-polisie bel by 021 783 8300.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pastoor ·

Here snel ons te hulp. Bind hierdie sinnelose geweld in Jesus se Naam. Versterk die families. Here laat die moordenaars spoedig gevang en gesraf word. Die geweld ruk hand uit Here help ons

Dean ·

#Spook. Dit moet ń eensame en koue wêreld wees wat jy in bly..ek glo eerder in my God as wat ek glad nie glo nie..my gebede is vandag met jou en ek bid dat jy nooit ooit mag staan langs n kinder graf nie..nie ń geliefde ooit mag verloor in ń wrede sinnelose moord nie..mag my God sy hand van beskerm oor jou en jou geliefdes hou..

Mielie ·

Misdaad in die Kaap neem toe die polisie en plaaslike regering kan dit nie beheer nie.

Wetie so mooi nie ·

Maroela Media berig hulle “is nie seker of enigiets gesteel is nie” maar tog besluit hulle die opskrif moet “huisroof” wees?? Regtig!! Ek dink “aanval” sou beter werk. As hulle dan wil spekuleer wat gebeur het, sou “terroriste-aanval” net so waarskynlik soos huisroof wees.

Cyril Blackburn ·

Dagsê Wetie
Dankie vir jou kommentaar! Dit is steeds onduidelik of enigiets in die voorval gesteel is. Ons vra om verskoning – “aanval” sou inderdaad ʼn beter woordkeuse gewees het. Die artikel is gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

SARIE VAN HEERDEN ·

Dis wonderlik om mense aan te spoor om te bid vir die oplossing van hul probleme maar uit ondervindind (my eie) weet ek dat al bid jy jou kniee eelte en dis nie nie so bestem nie sal jou gebede nie verhoor word nie en sal jy realiteite in die gesig moet staar. Moenie mense valse hoop gee nie want daarvan het ek ook ondervinding.

Steekvlieg ·

Ek het geen woorde meer nie, al wat ek wil se is beterskap aan die slagoffers en sterkte aan die seun se familie.

LS ·

Sterkte aan die familie en vriende, dit moet vreeslik hartseer wees, mag God julle hande styf vashou in hierdie moeilike tyd.

Spook en Sarie, STERKTE AAN JULLE OOK, julle het dit duidelik nodig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.