Seun (9) ‘held’ ná hy ma se lewe red

Argieffoto

ʼn Negejarige seun van Milnerton in Kaapstad het Maandag sy ma se lewe gered toe hy nooddienste na hul huis in dié voorstad ontbied het oomblikke nadat hy sy ma bewusteloos aangetref het.

Volgens ʼn verklaring van Community Medics, nooddienste wat in Kaapstad gestasioneer is, het die negejarige seun aanvanklik eers nooddienste in Pretoria gekontak.

Die beampte wat dié oproep in Gauteng beantwoord het, het ʼn kennis in Kaapstad gekontak wat as vrywilliger vir Community Medics werk.

“Die beampte het al die nodige inligting aan die Community Medics-beampte deurgegee. ʼn Ambulans is na die gesin se huis in Milnerton gestuur waarna die ma in ʼn ernstige toestand na die hospitaal gehaas is. Die kind se vinnige optrede en die bystand van die beampte in Pretoria het nooddienspersoneel gehelp om daarin te slaag dat die vrou binne 20 minute na ʼn hospitaal geneem kon word,” lui die verklaring.

Community Medics het ʼn pleidooi aan ouers gerig om kinders reeds van ʼn jong ouderdom te leer hoe om in sulke situasies op te tree.

“Weet jou kinders wie om te bel wanneer jy beseer is of skielik siek word? Dis belangrik om die noodnommers vir jou kinders te leer of om dit minstens êrens op te plak waar dit duidelik sigbaar is. Ons gee erkenning aan hierdie jong seun wat vandag ʼn held geword het.”

Community Medics is ʼn niewinsgewende organisasie wat slegs op borge en skenkings staatmaak. Vir meer inligting oor dié organisasie besoek hul webwerf of Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Mike ·

Aan die onbekende beampte in Pretoria :
Baie dankie dat jy nie net die foon doodgedruk het nie maar moeite gedoen het!

Willem ·

Wow dis nou ‘n mooi storie, die seun bel die verkeerde nommer en word reg gehelp, die ou van PTA is ook n held!

Sal net graag wil weet wat die erns van die arme vrou se saak was, wat het met haar gebeur?

Anoniem ·

Sjoe! Sommer baie trots op hierdie knapie! Ons kan nou wel nie vir hom ‘n Bells gee nie, maar wat van ‘n groot roomys?

snoefie ·

belangriker nog is om bevoegde personeel aan te stel wie soos in die geval opgetree het en n lewe gered het. baie dankie aan beide die seun en die beampte vir hulke flinke optrede en beterskap aan die ma.

joey ·

Kan al die regte betrokke nommers geplaas word? Want hoeveel nommers werk nie.

Andrea ·

Ja, groot asb. Ek het ook nie meer n idee wie om te bel nie.

Adri ·

Sluit aan by Crisis-on-Call. Bel enige tyd, enige plek oor eninge krisis: 0800 911 011.

Jolene ·

Nasionale nommers wat jy kan gebruik is :

ER24 084 124
Netcare 082 911

hulle sal landswyd kan help , daar is baie privaat dienste maar hulle is tot n spesifieke area gebind

Andre ·

Daar is nog goed in die lewe , dit gee mens hoop. Mooi so boeta , jy is n yster ! Dankie vir die persoon in Pretoria , jou onbaatsugtigheid gee hoop .

Hansie Slim ·

Ja nee wraggies Magda, ek staan verstom, hier wil ene Adri raad gee met ‘n noodnommer en dan het sy dit verkeerd, nee maggies bly dan eerder stil en sê niks voor jy lewens kos deurdat mense nie deurkom na die regte nommer nie!

Jolene ·

Die 2 grootste nasionale dienste is ER24 en Netcare 911 , hulle nommers is

ER24 – 084 124
Netcare 911 – 082 911

Daar is baie privaat dienste maar is gewoonlike net in n spesifieke area so dit hang af van area to tot area

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.