Lt.kol. Moatshe Ngoape, woordvoerder van die polisie, het gesê Remember Mkhari het in die rivier by die Xihoko-nedersetting geswem toe hy in die moeilikheid geraak en deur die rivier meegesleur is. “Inwoners van die omgewing het gesien wat gebeur en het ingespring om hom te help,” het Ngoape gesê.
Die seun is uit die rivier gehaal en na ʼn plaaslike kliniek gehaas. Hy is met sy aankoms by die kliniek dood verklaar.
“Daar word ʼn beroep op inwoners gedoen om die damme en riviere in hul omliggende omgewing te monitor wanneer kinders daar swem. Kinders moenie gedurende tye van swaar reën in ’n rivier wees nie om te verhoed dat so ’n tragedie weer gebeur,” het Ngoape gesê.
ʼn Geregtelike doodsondersoek is geopen.