Seun brand nes Pippie erg met aansteekjel

Arno van Greunen in die hospitaal. Foto: Verskaf

Arno van Greunen in die hospitaal. Foto: Verskaf

Arno van Greunen (7) van Meyerton in Gauteng, word in die pediatriese brandeenheid van ʼn hospitaal in Johannesburg behandel nadat hy Saterdagmiddag gebrand het toe ʼn bottel aansteekjel in sy pa se hand ontplof het.

Bernadine van Greunen, Arno se ma, het Donderdag aan Maroela Media gesê hul familie het Saterdagmiddag fondue gehou en die prettige geleentheid het vinnig in ʼn nagmerrie ontaard. “Ons het aansteekjel gebruik om vuur in die fonduehouertjies te maak. My man, Schalk, se houertjie was leeg en hy wou dit hervul,” het sy gesê. “Dit was lig buite en dit het gelyk of die vlam in die houer dood was. Toe hy die jel uit die bottel in die houer gooi, het ʼn vlammetjie egter uit die houertjie in die bottel ingegaan.”

Arno het in daardie stadium agter sy pa verbygeloop toe die houer met sowat 1 liter jel ontplof en die brandende jel op Arno, sy sussie Melissa, en twee ander familielede gespat het.

Volgens Bernadine het haar skoonsuster en skoonma ook gebrand en Schalk het brandwonde aan sy gesig en hand opgedoen.

Arno en sy suster Melissa, skaars 'n paar dae voor die ongeluk plaasgevind het.

Arno en sy suster Melissa, skaars ‘n paar dae voor die ongeluk plaasgevind het.

“Arno het die ergste gebrand. Hy het geskrik toe sy hemp aan die brand slaan en hy het weggehardloop. My dogtertjie se hare het aan die brand geslaan, maar sy het darem stilgestaan en ons kon dit gou doodklap. Ek was nog besig om haar te help toe Arno teruggehardloop kom.” Benadine het gesê daar was vlamme op Arno se hemp, in sy gesig en aan sy arms.

“Toe ek vir boetie sien, het ek dadelik gegil ‘My kind! My kind!’, waarna my man en swaer die vlamme met ʼn handdoek geblus het. Hulle het sy hemp uitgetrek en hom in ʼn koue stort gaan sit. Ons het hom in ʼn nat handdoek toegedraai en met hom na die Kopanong (Vereeniging)-hospitaal gejaag.”

Arno is van daar na die Sebokeng-hospitaal oorgeplaas, maar aangesien daar nie ʼn brandeenheid is nie, moes hy spoedig na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas word. “Daar was egter nie ʼn helikopter beskikbaar nie, en hy is eers Maandag oorgeplaas.”

Hy is in die brandeenheid opgeneem, aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel en onder verdowing geplaas.

Arno het 45% persent derdegraadse brandwonde aan sy maag, bors, arms en gesig opgedoen. Sy longe is ook gebrand. Melissa het gelukkig nie seer gekry nie.

“Sy dokters het aan ons gesê hulle is tevrede met sy vordering so ver,” het Bernadine bygevoeg. “Ons kan nou net bid dat hy vinnig en volkome herstel.”

Volgens die dokters is daar sover nog nie permanente skade nie. Arno se arms het die ergste gebrand en het reeds veloorplantingsoperasies ondergaan. “Ons hoop net sy liggaam aanvaar dit maar sover lyk dit goed.”

Bernadine het ʼn beroep op die publiek gedoen om haar seun in hul gebede op te dra. “Ons weet gebede help want soos ons vir hom bid, hoe sterker word hy.”

Bernadine en Schalk ry daagliks van Meyerton, waar Arno ʼn leerling aan Laerskool Voorwaarts is, na Johannesburg om hom tussen 14:00 en 16:00 te besoek.

Annerie du Plooy, die direkteur van die Hero Burn Foundation, ʼn nie-winsgewende organisasie wat ondersteuning bied aan en omsien na brandslagoffers, het aan Maroela Media gesê Arno is aangeneem as een van die organisasie se helde.

Die organisasie gaan die gesin bystaan en poog dat Arno die beste produkte ontvang om sy brandwonde mee te behandel.

Mense wat die organisasie finansieel wil bystaan en sodoende te help dat Arno die beste behandeling ontvang, kan hul bankbesonderhede hier kry. Gebruik “Van Greunen” as ʼn verwysing.

Pippie Kruger. Foto: Facebook

Pippie Kruger. Foto: Facebook

Arno het gebrand net soos die tweejarige Pippie Kruger op Oujaarsaand 2011 gebrand het. Die ideaal sal wees as hy behandeling by die Millpark-hospitaal kan ontvang.

Pippie het derdegraadse brandwonde oor 80% van haar lyfie opgedoen toe aansteekjel tydens ʼn braai in haar pa Erwin, se hande ontplof het. Pippie het in Junie 2012 baanbrekerchirurgie ontvang waar haar eie gekloonde vel, wat in ʼn laboratorium in Boston gekweek is, op haar wonde oorgeplant is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Carl ·

My gedagtes en gebede gaan aan die familie veral die ouers.

Wanneer gaan die produk nou van die mark verwyder word? Of nog beter wanneer gaan ons slim genoeg wees om nie dit te gebruik nie?

Lourens Erasmus ·

Kan ons nou die verdomde jel van die mark afhaal asb?

Maritza du Toit ·

Ek stem heeltemal saam….hoeveel ongelukke nog????

Simon ·

Hulle moet die aanstekjel van die mark af haal, dis dodelik vlambaar. Ek weet dit is handig maar sukkel eerder om die ou vuurtjie aan die gang te kry voor mens die sort risiko loop met n produk. Ek koop dit lank nie meer nie. Dis te plofbaar.

anet ·

Arno, ons dra jou op aan ons Hemelse Vader, by HOM is niks onmoontlik nie. Omgord die familie met U Liefde, gee asseblief vir hulle elke dag die krag en energie om op hulle seun se spoedige herstel te fokus.

Vriende van Maroele maak julle harte oop en maak ‘n bydrae vir hierdie seun se behoeftes

Chantelle ·

Sjoe, dit is verskriklik! Ek is skoon ontsteld, my seuntjie is ook 7, ek wil myself nie eens indink waardeur jul moet gaan nie. Verban die simpel jel nou, hoeveel mense moet nog daaronder skade ly, die arme kind. Here hou U hand van beskerming en genesing oor klein Arno en gee vertrosing en krag aan die familie.

Liesl ·

Ek het die jel al voorheen gekoop, maar iewers moet ons saam staan en net weier om dit verder te koop. As niemand dit koop nie sal dit wel met tyd verdwyn van die mark af.

Anoniem ·

Hulle moet dan sommer petrol ook verban omdat mense dit ook gebruik om vure aan te steek en hulleself verbrand. Moenie die goed naby ‘n oop vuur gebruik nie. Dit is mos logies.

Carl ·

Petrol? Wie is nog so dom onnosel om dit te gebruik om vuur aan te steek? Nee kyk so help Darwin om dan die genepoel skoon te kry.
1. Koerant
2. Fyn hout
3. Vuurhoutjie. Wat meer het jy nodig?

lana ·

Carl jou komentaar is nie snaaks nie. Dis nie van Darwin se genepool nie, hy het net n fout begaan. Sy se mos dit was lig buite en kon die vlam nie sien brand nie. Almal maak foute, dit beteken nie jy is dom nie.

Carl ·

Uhh Iana my verwysing is na Anoniem wat van petrol praat. Die pa in die berig het nie petrol gebruik nie so ek verwys nie na hom nie. Soos hulle op skool gesê het: lees die vraag noukerig deur voor jy antwoord.

Lillian ·

Hou op om die jel te koop!!!! Wanneer gaan mense besef dis gemors? “Fire lighters” werk nog altyd goed …

Sterkte aan die familie

Pippie lyk pragtig!

Carina ·

weier om die jel te Koop boikot besighede wat dit en crackers verkoop

Elfie ·

Jinne, kan hulle nie die vervaardigers van die jel in die hof aanvat omdat die goed nie veilig genoeg is nie? Is daar nie een of ander veiligheidstandaard waaraan sulke produkte moet voldoen nie en indien NIE, HOEKOM nie? Ek meen as dit nou in Amerika was was dit ‘n huuuuge hofsaak. Laat hulle help betaal vir hospitaalkostes, alla wêreld. Ek stem ook saam dit moet verban word en klaar!

Takkie Takooza ·

Ag ou Careltjie ek is nie so ‘n ou bangat soos jy nie. Ek is seker die oorspronklike grotman. Ek light vir hom met petrol my pappie. Ek laaik dit as hy sê “woef”. Ek loop sukkel nie met koerantpapiere en fyn houtjies nie. Ons gaan nou braai! !!

juanita ·

Sterkte aan arno se familie mag god julle deer die moeilike tyd help om n kind te veloor is alle ouers se vrees hy is nou by god en da sal hy rus vind en ni meer seer het nie mag god julle trane af fee en julle veilig hou

William Gibbens ·

Ons moet NOU ophou om te praat en elkeen kan begin met ‘n veltog in jou dorp of voorstad Ons moet al die winkels,Pick and Pay, Checkers, Shoprite, al die Hardeware winkels Ko-op winkels , enige winkel wat die GEL VAN DIE DOOD aanhou, identifiseer en hulle name publiseer en protes aksies begin. Moenie vergeet om te kyk vir die groot winkels se NO NAME BRAND. EIS dat die gel dadelik van die rakke moet verdwyn sowel as van die perseel af. Wanneer sal daar ‘n winkel onder die gel aan die brand slaan en hoeveel sal dan sterf. BEGIN NOU!!! Plaas die protes aksie ook op You Tube

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.