Seun dood, tientalle kinders beseer toe bus oor afgrond stort

(Foto: ER24)

’n Seun is dood en 86 ander, van wie die meerderheid jong kinders, is beseer toe ’n busbestuurder die naweek in die omgewing van Tzaneen beheer oor ’n bus verloor en dit oor ’n effense afgrond gestort het.

Die ongeluk het by die Deerpark-T-aansluiting plaasgevind. Die bus het tussen bome tot stilstand gekom.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê die nooddienste is Saterdagaand na die toneel ontbied. Verskeie kinders het met paramedici se aankoms op die toneel omstreeks 20:00 reeds uit die buswrak geklim en na die pad gestap.

’n Seun was in daardie stadium tussen twee sitplekke in die bus vasgekeer. Hy het egter reeds aan sy beserings beswyk en is dood verklaar.

Altesaam 80 kinders tussen ses en 11 jaar oud het ligte tot ernstige beserings tydens die ongeluk opgedoen en is op die toneel behandel.

Ses volwassenes is ook op die toneel behandel vir ligte tot matige beserings.

Die pasiënte is later almal na nabygeleë hospitale vervoer vir verdere mediese behandeling.

Die presiese omstandighede rakende die voorval is nie duidelik nie, maar die owerhede was Saterdagaand op die toneel om ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Di ·

Tragies – Miskien was die bus oorlaai as mens lees hoeveel mense in die bus was

Dandeleen ·

Mense kyk net vas in wat hulle wil, in vandag se lewe maak nie eers lewe self saak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.