Seun enigste oorlewende ná huisbrand

Argieffoto

’n Egpaar van die Strand in die Wes-Kaap is dood nadat hul huis Maandag vroegoggend aan die brand geslaan het. Die egpaar se tienjarige seun is die enigste oorlewende nadat hy daarin kon slaag om die vlamme vry te spring.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die brandweer en reddingsdienste in Kaapstad, het aan Maroela Media gesê die nooddienste is net ná 05:30 na ’n brandende huis in Vredenhofstraat ontbied.

Die huis was in ligte laaie met die nooddienste se aankoms op die toneel en brandbestryders moes die huis se voordeur afbreek om toegang tot die huis te verkry.

’n Man (49) en vrou (33) is bewusteloos in die huis aangetref. Paramedici het die egpaar tevergeefs probeer bybring en hulle is later op die toneel dood verklaar.

Die seun kon daarin slaag om betyds uit die huis te vlug en is ongedeerd.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê ’n geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Die oorsaak van die brand is nie in dié stadium bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.