Seun geskors ná aanranding by Krugersdorp-skool

‘n Skermskoot uit die video

ʼn Storm het op sosiale media losgebars nadat ʼn video versprei is wat wys hoe ʼn seun ʼn meisie by ʼn Gautengse hoërskool aanrand.

Die video wys hoe die seun die meisie stamp voordat hy haar aan die hare gryp en klap.

Die voorval het Dinsdag by HTS Nic Diederichs in Krugersdorp, Gauteng, plaasgevind. Die kinders is as twee gr. 10-leerders geïdentifiseer.

Steve Mabona, woordvoerder van die departement van onderwys in Gauteng, sê die seun in die video is Woensdag geskors en sal op 12 Februarie dissiplinêr verhoor word.

Die departement het ook Woensdag die skool besoek om omstandighede rondom die voorval te ondersoek.

“Ons psigososiale ondersteuningspan is ontplooi om berading en trauma-ondersteuning aan die slagoffer te verskaf,” bevestig Mabona.

“Ons veroordeel, in die sterkste sin, hierdie veragtelike gedrag. Niemand kan toegelaat word om iemand in ons skole aan te rand nie, en ons veroordeel veral enige vorm van geslagsgebaseerde geweld. Ons is bly dat die oortreder geskors is en nie weer by die skool toegelaat sal word voordat die nodige rehabilitasie plaasgevind het nie,” het Matome Chiloane, LUR vir onderwys in Gauteng, gesê.

Die departement doen ʼn beroep op ouers om te help om dissipline binne en buite die skoolomgewing op hul kinders af te dwing.

“Ons sal voortgaan om die situasie te monitor en verdere optrede dienooreenkomstig toe te pas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.