Seun gesoek wat in Oranjerivier verdwyn

Die gebied waar Jean en sy vriendin gaan swem het. (Foto: Verskaf)

Die Oranjerivier word sedert Dinsdagaand gefynkam nadat ʼn 17-jarige seun van Kakamas saam met ʼn vriendin gaan swem en skielik onder die water verdwyn het.

Kapt. Nelis Prins, polisiewoordvoerder, sê Jean van Reenen Olivier het omstreeks 17:50 saam met die vriendin, wie se naam weerhou word, by Swartbooisberg gaan swem.

“Toe sy weer om haar kyk, was hy weg,” sê Prins.

Dit is nog onduidelik wat presies gebeur het, maar Prins sê lede van die gemeenskap het dadelik ingespring en met private vliegtuie en hommeltuie na die seun begin soek.

Die soektog is laat Dinsdagaand gestaak en weer vroeg Woensdagoggend hervat, met polisieduikers, reddingspanne, honde-eenhede en nooddienswerkers wat almal die oewer fynkam.

“Soos sake nou staan, kon die spanne nog nie Jean opspoor nie,” sê Prins.

“Dit is ʼn aaklige situasie vir almal, maar sy ouers is nog hoopvol.”

Volgens Prins bemoeilik stroomversnellings reddingspanne se werk.

“Die spanne sal weer tot laat in die aand soek en môre bymekaarkom om die soektog te hervat. Dit is nog nie duidelik hoe lank die soektog sal voortduur nie.”

Die voorval volg op verskeie ander gevalle waar mense deur rivierstrome of oorspoelde gebiede meegesleur is nadat swaar reën die afgelope paar dae oor groot dele van die land uitgesak het.

Die owerhede het onlangs mense aangeraai om riviere of sterk strome heeltemal te vermy tot die watervlakke beduidend daal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.