Seun herstel goed na patroon in hand ontplof

Darius Hay kort nadat hy Woensdag 'n operasie ondergaan het. Foto: Facebook

Darius Hay kort nadat hy Woensdag ‘n operasie ondergaan het. Foto: Facebook

Darius Hay, die tienerseun van Odendaalsrus in die Vrystaat, wat vier vingers verloor het toe ʼn swaarkaliberpatroon in sy hand ontplof het, was Woensdag weer op die operasietafel in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein.

Erika Hay, Darius (13) se ma, het aan Maroela Media gesê Darius se hand is van sy lies los gesny, waar dit vroeër vasgewerk is om die vel kans te gee om oor die hand te groei. “Hulle het ook vel van een van sy bene gebruik en op die hand oorgeplant waar dit nodig was. Ek dink hy gaan baie bly wees om die hand nou los te hê, want dit was baie ongemaklik,” het sy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Darius is op 28 November na ʼn hospitaal gehaas nadat die patroon by die Laerskool Odensia in Odendaalsrus in sy hand ontplof het. ʼn Vriend van Darius het glo die patroon skool toe gebring en gesê dit is onskadelik, omdat die kruit verwyder is. Darius het die patroon teen ʼn lamppaal gekap en dit het in sy regterhand ontplof.

Sy duim, wysvinger en middelvinger en die voorste stuk van sy ringvinger is heeltemal afgeruk en die vel op sy handpalm was ook af. Sy regterskouer is ook beseer toe die koeël vermoedelik deur die skouer getrek het.

“Die dokter het gesê as alles goed gaan, kan hy môre ontslaan word en dan kan hy gelukkig Kersfees by die huis wees. Hy moet dan net Maandag terugkom sodat die dokter kan kyk of alles reg is,” het Erika gesê.

“Darius is baie opgewonde om huis toe te gaan. Hy was nou baie lank in die hospitaal en ek dink hy is nou nogal keelvol daarvoor. Hy het gelukkig baie besoekers gehad en sy nefie het twee weke lank elke dag by hom kom sit. Maar hy is nou gereed om huis toe te gaan!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Buitestander ·

Waarom moet seuns altyd probeer man haftig wees en patroon teen ‘n ysterpaal slaan?

Henk ·

Ek is nogal nuuskurig om te weet wat die presiese kaliber van die patroon was wat soveel skade gemaak het, en of dit dalk ‘n baie ou rondte was wat nog kordiet (‘n lae-orde plofstof) gebruik het eder as ‘n meer moderne dryfmiddel. Daar is ‘n video op Youtube waar ‘n .416 Remington Magnum in die oopte afgeskiet word en op 15 cm gaan die punt nie eers deur Rhinobord nie.

Jan maak n plan ·

Glo my tot n gewone 222 (5.56mm) ronde maak baie groot moeilikheid as dit afgaan buite n loop. Die reel is moet onder geen omstandighede met enige ammunisie speel nie. Ek het al genoeg sulke gevalle moes ondersoek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.