Seun het moontlik beroerte gehad ná baksteen hom tref

Caden Slabbert voor die voorval. Foto: Facebook

Caden Slabbert voor die voorval. Foto: Facebook

Die agtjarige Caden Slabbert wat deur ʼn baksteen getref is terwyl hy saam met sy pa in ʼn motor op die N12 suid van Johannesburg gery het, het moontlik ʼn beroerte gehad nadat die baksteen hom teen die kop getref het.

Caden is in ʼn hospitaal in Johannesburg nadat hy onlangs uit ʼn geïnduseerde koma gebring is. Hy was op 30 April saam met sy pa, Justin, en sy suster, Eden (11), op pad na hul huis in Benoni toe ʼn man wat langs die N12 geloop het, ʼn baksteen deur die motor se passasierruit gegooi het.

Sy ma, Andriette Cooper, het Saterdag gesê hy is nog nie by sy volle bewussyn nie en huil baie. Volgens Cooper vermoed die dokters dat Caden ʼn beroerte gehad het as gevolg van sy besering. Sy spraak en persoonlikheid kan moontlik beïnvloed geword aangesien hy aan die linkerkant van sy kop getref is.

Cooper het bygevoeg dat die dokters tevrede is met sy vordering, maar dit ʼn hele ruk kan neem voor die familie weet of die skade permanent is.

Caden is die slagoffer van ʼn reeks van vier voorvalle wat aangemeld is waarby vermoedelik dieselfde verdagtes bakstene na verbygaande voertuie op die N12 geslinger het. Marionette Schwab (42) is ook teen die kop gegooi en is steeds in ʼn geïnduseerde koma. Darrel Badenhorst, haar verloofde, het Sondag gesê sy is nog aan ʼn ventilator gekoppel, maar haar medikasie is gestaak sodat sy haar bewussyn kan herwin.

Intussen het hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, gesê die man wat na bewering vir Caden en Schwab se beserings verantwoordelik is, is glo geestelik versteurd.

“Die JMPD werk sedert die voorval nou saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens en inligting is ontvang dat die verdagte geestelik versteurd is. Ons het inligting oor die individu en soek op die oomblik na hom,” het hy gesê.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mags ·

Die polisie weet al jare van hierdie man. My motor se voorruit is uitgegooi maar gelukkig is ek nie beseer nie. Hy hardloop heen en weer oor die N12 en koggel ons. Uiteindelik vang my man hom by Voortrekker straat maar ek kon nie sy gesig uitken nie net sy klere en hy is laat gaan. Hulle moes hom al lankal verwyder het want hulle weet hy bly in die stormwaterpype teen die snelweg en dat hy moeilikheid maak.

Jo ·

Geestelik versteurd of nie, hy is ‘n gevaar vir onskuldige mense en behoort agter tralies te wees vir die res van sy lewe. Hier is soveel hartseer, pyn en wroeging gedoen aan families en indiwidue dat dit net eenvoudig te veel is om te verwerk.

Elfie ·

Jo, stem 100% saam. Versteurd of te nie, as hulle bewus is van sy gedarg wat maak hy nog daar? Nie net het hy hartseer en pynverorosaak nie, maar van al die onkoste? En as die slagoffers nooit weer volkome herstel nie, sal die polisie wat dit kon verhoed deur hul werk te gedoen het, dalk uithelp met geld? GLO nie so!

Peet Schabort ·

Daar word huise vir ‘n vale gebou vir die “poorest of the poor” maar geen tuiste vir hierdie mense? Seker omdat hul versteuring veroorsaak dat hul nie by magte is om te stem.

Cobus Pretorius ·

Natuurlik is die verdagte/s geestelik versteurd. Enige iemand wat so iets ondenkbaars aanvang is geestelik versteurd! Ons glo en vertrou hierdie arme onskuldige mense sal ten volle genees!

SNEL ·

Mens se hart is sommer seer om te dink wat hierdie gesinne moet deurmaak langs hierdie hospitaal beddens. Ek hoop regtig dat Eden 100% sal herstel en dat sy spraak en persoonlikheid geen tekens van die insident sal toon nie. Baie sterkte aan almal. Bid vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.