Seun het ‘nie gehuil of geskree nie’, hoor Coligny-hof

Sonneblom-Reint-Dykema

Foto: Reint Dykema.

Phillip Schutte, een van die twee mans van Coligny wat van die moord op Matlhomola Mosweu aangekla word, het Woensdag in die Noordwes-hooggeregshof gesê hy het nie vir Mosweu hoor skree om hulp nie.

“Hy het nooit in my teenwoordigheid gehuil of geskree nie,” het Schutte gesê.

Schutte (34) het getuig in die verhoor waarin hy en sy medebeskuldigde, Pieter Doorewaard (26), daarvan beskuldig word dat hulle op 20 April 2017 Mosweu (16) na bewering van ʼn bewegende bakkie af gestamp of gegooi het en dat hy weens dié val gesterf het. Die staat beweer dit het gebeur nadat die twee mans Mosweu betrap het waar hy sonneblomme-koppe uit hul werkgewer, Pieter Karsten, se landerye steel.

Karsten is Doorewaard se oom.

Staatsaanklaer adv. Moeketsi Moeketsi het vir Schutte gevra hoekom Mosweu sou geskree het ‘Ma, help my, ek sterf’ as Mosweu “sy samewerking gegee het” en self op die bakkie geklim het nadat hy in die mielieveld ingehardloop het.

Maroela Media het vroeër berig Schutte het gesê Mosweu “het vrywilliglik uit die mielieveld na ons toe gekom, self op die bakkie geklim en Pieter het vir hom gesê om in die middel van die bak te sit eerder as op die rand van die bak”.

Moeketsi het gesê ʼn persoon sou nét die uitroep maak as hy in die moeilikheid was en hulp gesoek het.

“Het jy vir hom gesê hoekom hy op die bakkie moet klim?” het Moeketsi gevra. Schutte het geantwoord dat hulle vir hom gesê het hulle neem hom polisiestasie toe.

Schutte het in sy getuienis gesê toe hulle die seuns in die landerye betrap en gevra het wat hulle doen, het hulle die sonneblom-koppe laat val en in verskillende rigtings laat spat. Mosweu het in die mielielande ingehardloop, terwyl ʼn ander seun terug in die sonneblomland ingehardloop het.

Volgens Schutte het Mosweu, ook bekend as Faki onder sy maats, sowat 25 m in die mielieland in gaan stilstaan en uit vrye wil terug na die mans geloop.

Volgens Schutte het Mosweu agterop die bakkie geklim en toe afgespring toe hulle om ʼn draai gaan.

“Ek het beweging in die stof gesien in die linkerkantste spieëltjie [van die bakkie] en het toe gekyk na die agterkant van die bakkie en agtergekom die seun is nie daar nie. Ek het geskree dat die seun gespring het,” het Schutte gesê.

Hy het bygevoeg die voorval het in ʼn “breukdeel van ʼn sekonde” plaasgevind.

Schutte het Dinsdag aan die hof gesê die bakkie was ʼn enkelkajuit en daar was dus nie plek vir Mosweu in die kajuit van die bakkie nie. “Hy moes dus agterop die bakkie sit,” het hy gesê. Hy het gesê Mosweu het ook sy samewerking gegee en daarom het hulle nie omgegee dat hy agterop die bakkie sit nie.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

busiswe ·

die staatssanklaer het nie een episode van la law gemis nie. dalk die hele opleiding gewees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.