Seun in hof ná pa se dood

Lion de Necker. Foto: Facebook

Lion de Necker. Foto: Facebook

Jan-Lion de Necker (21) het Maandag in die Belfast-landdroshof verskyn in verband met die moord op sy 47-jarige pa.

Lion de Necker, Jan-Lion se pa, is Saterdag vroegoggend doodgeskiet tydens ʼn beweerde familietwis.

Volgens brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, was De Necker sr. en sy vrou, Catryn, omstreeks 03:00 in ʼn rusie betrokke. De Necker was glo met ʼn mes gewapen waarna Jan-Lion glo tussenbeide probeer tree het. Jan-Lion is glo deur sy pa met die mes aangeval voordat hy vermoedelik ʼn vuurwapen gaan haal en sy pa doodgeskiet het.

De Necker sr. is op die toneel dood verklaar en Jan-Lion, wat tydens die voorval ʼn meswond opgedoen het, is in hegtenis geneem. Dit is in dié stadium nog nie duidelik of die wapen waarmee De Necker sr. geskiet is gelisensieerd is nie.

Volgens sers. Gerald Sedibe, woordvoerder van die polisie, het Jan-Lion intussen Maandag in die hof verskyn op aanklag van moord. Hy is op borgtog van R1 000 vrygelaat. Sedibe kon nie onmiddellik bevestig wanneer hy weer in die hof moet verskyn nie.

Jan-Lion de Necker. Foto: Facebook

Jan-Lion de Necker. Foto: Facebook

Die Middelburg Observer berig intussen Catryn het gesê dat haar man haar en hul jonger seun [ouderdom onbekend] met die mes wou aanval en dat Jan-Lion tussenbeide getree en glo sy pa gewaarsku het om nie sy ma en jonger boetie seer te maak nie. Volgens Catryn het De Necker glo gedreig om hulle almal dood te maak.

Maroela Media het vroeër berig De Necker sr. se ander seun, Pierre (24), is in Julie verlede jaar so erg aangerand deur ʼn groep mense wat hom glo van diefstal beskuldig het, dat hy die volgende dag aan sy beserings beswyk het. ʼn Groep van tussen 15 en 20 mense het glo reg in eie hande geneem nadat hulle Pierre van die diefstal van ʼn motor verdink het. Die voorval hou glo verband met die diefstal van ʼn wit Volkswagen Golf, wat vroeër as gesteel by die polisie aangemeld is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

snoefie ·

is enige van die moordenaars van Pierre De Necker aangekeer? het hy die kar gesteel? het die polisie lid wie op die toneel was, ooit vorentoe betree met wat hy gesien het en verhoed was om te keer?

AL ·

Sjoe dis n tragiese verhaal. Ek glo die seun is onskuldig. Ander mense se sake is duister.

Marlene ·

Ai mense, hierdie familie is stukkend, verpletter en verwoes. Dis so bitter hartseer. Hierdie skade sal nooit kan herstel word nie. Ek bid vir die familie?

celia ·

Dit is nie moord nie dis selfverdediging en verdediging van sy ma en jonger sibling. Die pa was op moord uit – dit is duidelik, teen n weerlose ma en haar jonger kind. Het ouboet nie tussenbeide getree nie, was sy en die jonger kind dood. Sterkte

Hoop hy kry n goeie prokureur!

Koos ·

Dis moord. Vuurwapen was met voorbedagte rade gaan haal.

Kon die pa gewond het in die been, of so iets. Nie nodig gehad om hom te dood nie.

Annelize ·

@ Koos, vir wat was die pa dan gewapen met ‘n mes? Was dit nie ook voorbedagde rade nie? Jnr MOES hom seker tot ‘n wapen wend as beskerming, in hierdie geval ‘n vuurwapen. Hierdie klink vir my inelkgeval na een woes disfunksionele gesin.

Nico ·

Hierdie tragiese verhale het dikwels ‘n laaang aanloop. Soms oor etlike jare. Dan kook die pot oor. Dankie vir genade en kalmte van gees, anders het baie van ons ook reeds oorgekook….

EK stem ·

Nico – dis nes jy sê. There, but for the grace of God go I…

R van Pretoria ·

Al my simpatie is met Jan-Lion, sy ma en familie. Hy was deur omstandighede gedwing..ons ken hierdie mans wat met aggressie leef en almal boelie, ons ken die lyding! Sterkte Jan-Lion, hou moed, met tyd sal jul vrede kom.

Elize ·

Baie sterkte aan Jan lion en sy familie. Jy het niks verkeerd gedoen nie net jou familie beskerm. Ek bid vir jou jong man. Mag Jesus jou dra deur die tyd en styf vas.

susan ·

Ek se nie wat Lion gedoen het is reg nie maar hy wou sy ma en jonger broer beskerm het. Nie een van ons weet wat Lion al moes beleef het in sy jongmens leewe.

Ekke ·

My hart is so seer vir Jan-Lion, nou moet die jongman vir die res van sy lewe daarmee leef dat hy sy pa doodgemaak het. Al was dit om sy mamma en boetie te beskerm, sal dit vir hom breek vorentoe. Ek hoop en bid hulle kry emosionele hulp om te kan aangaan.

cc ·

Wonderlike kind wat sy ma en boetie beskerm het. Gebede en tyd bring genesing seun – sterkte

Johanna ·

Simpatie vir hierdie gesin. Kinders wat sulke mishandeling moet deurmaak kan dit soms net nie meer hanteer nie. Ek glo hy wou sy ma en boetie beskerm. Dis self verdediging. Mag God jou bystaan in hierdie saak.

Sjoe ·

Sjoe Anne, dalk ken jy die mense en weet van goed wat ons nie weet nie. Ek wil egter vir jou sê, passop om te oordeel, dit is nie in ons hande en ek as buitestaander lees net 1 sin in die berig wat aandui dat die seun nie ‘n fout gemaak het nie, hy het die reg van sy Ma en klein boetie beskerm, die reg om te lewe, die reg om nie in vrees vir jou lewe teen iemand sterker as jy te veg nie, sy eie lewe te beskerm, dink jy werklik die Pa het die reg om hul te mishandel, aan te val met ‘n mes en dreig om hul dood te maak. As jy weet hoe sulke mense se koppe werk sal jy besef die slagoffers hoef nie iets verkeerds te doen om dit te verdien in die oë van die geweldenaar nie. Ek is trots op jou seun dat jy vir die regte goed opstaan al beteken dit dat jy deur die hofsaak en wat daarop volg gaan, mag die Vader jou krag gee. Ek hoop ook alle ouers van seuns sien die hartseer gevolge van seuns wat net altyd hul sin kry, later is dit nie meer genoeg nie en dan ontaard dit in so situasie en jou kleinseun moet iets doen waarmee hy sy lewe lank gaan sukkel om te verwerk en ‘n hele gesin en familie is in pyn!

Henry ·

Dis die een kant van die storie, n Ma sal haar kind beskerm. Net n paar mense weet wat het regtig gebeur……………………………..Verbasend hoeveel mense aannames maak.

AL ·

Weet jy die werklike verhaal? Onthou ons weet nie altyd wat agter n toe deur van huis aangaan nie. Baiekeer flous n persoon sy vriende en dra hy n ‘masker’.

AL ·

Dis maklik om van die kantlyn te oordeel. Kom ons wag vir die uitslag van die saak. As die pa sy eie kind met die mes aangeval het nadat hy sy ma wou beskerm, is hy die slagoffer en nie moordenaar nie.

liza ·

Selfverdediging! Die kind het sy ma en broer probeer beskerm en is deur sy pa ‘n meswond toegedien. As ‘n pa sy eie kind, eie vlees en bloed, met ‘n mes steek, sou hy sekerlik ook nie geskroom het om sy vrou dood te maak nie. Ek wil nooit in so ‘n situasie wees waar ek ‘n besluit moet maak oor wie van my gesin ek teen wie moet beskerm nie.

Hope ·

As kind het ek huishoudelike geweld in vrees aanskou. As vrou het ek dit eerstehands beleef en my kinders ook. Na buite was my oorlede man die toonbeeld van ‘n goeie vriend en sou hy alles doen om ander te beïndruk, maar binne die huis was dit die meeste van die tyd onhoudbaar. Dit het ‘n vernietigende uitwerking op alle lede van die gesin en die skade wat dit aan my kinders gedoen het, kan ek nie ongedaan maak nie. Ek sit nou nog in geselskap waar mense sê party vrouens hou daarvan om geslaan te word, hulle soek daarvoor. Dan bly ek stil, want ek weet ‘n mens bly omdat die beloftes wat aan jou gemaak word elke keer nuwe hoop bring totdat jy eendag terugkyk en besef dit was leë beloftes en dat jy en jou kinders die verloorders is. Ek hoop almal wat hierby betrokke was, sal met tyd genesing vind en weer heel word.

Tammy ·

Ek oordeel nie, maar my gesonde verstand se vir my hierdie jongman moes van bitter klein af al verwerping en geweld ervaar. Hy het geweet om op te tree as jy wil oorleef. Hoe hartseer kan dit wees. Sterkte jongman ek bid vir jou en onthou jy is nie sleg nie, jy het jou moeder en boetie beskerm.

Ouvrou ·

Koos jy weet heel duidelik nie hoe dit in so huis met so pa gaan nie. Almal is elke dag in trauma. Stomme seun. Hy gaan n lang pad van berading nodig he om dit agter hom te sit. Hulle almal kan nou die toekoms veilig ingaan.

Hope ·

Hierdie is vir Koos – kom ons veronderstel vir ‘n oomblik dat die man wel die geweldenaar was in die gesin. Daar is nie tyd om te dink of jy gaan wond of doodmaak nie. Ek glo die kind het net geskiet en gehoop om die situasie te stop. Die vrees in so ‘n situasie is groter as enige logika.

Soekie ·

Hierdie man se seun het uit jare se toekyk van wrede mishandeling van sy moeder, opgetree. Hy is onskuldig. Hy was daartoe gedryf. Genoeg is op ‘n dag net regtig genoeg. Hoop hy vind genade in die oog van die wet. Want God weet dat hy het hom nie vermoor nie, hyt beskerm.

mareke ·

Daar is n groot probleem in ons gemeenskappe dat dit aanvaarbaar is dat mans hul families se lewens hel maak en geen gevolge verwag van hul optree nie en daai optrede na die volgende geslag van jonk mans deur gegee word as jul hul familie moet hanteer en in charge moet wees en wys hoe jou vrou hanteer moet word en die nuwe norm onder mans is slegter hoe beter. Ek dink aan die jong man hy het besef sy pa is nie cool nie en sy ma en broer beteken meer vir hom. Die ge- reg sal aan sy kant wees, staan sterk.

olie ·

Die pa was nie ‘n voorbeeld vir sy kinders nie. Wat verwag jy van die seun moet hy kyk hoe sy pa sy ma aanrand. Pappas moet onthou hul seuns word ook groot en vergeet nie wat hulle aan hul mammas doen nie. Seuns is gek oor hul mammas

Madelyn ·

Glo my, ek kom uit n huis waar my ma sielkundige hulp nodig gehad, sy het ons almal se lewens hel gemaak deur ons ongelooflike fisies, emosioneel en sielkundig te mishandel. Na ek n Christen geword het moes ek my ma met my hele hart vergewe. Met wat my ma aan ons gedoen het moes sy in die tronk gesit het. Maar in meeste huise kom sulke mense skotvry want die kinders is te bang om te praat. Hierdie jongman klink vir my hy het nie die fisiese krag gehad om sy pa te kon teenstaan nie, so hy het net gedink “my pa gaan my ma en boetie doodmaak” en die enigste uitweg is om die pistool te gaan haal. Ek wonder of dit ooit in sy kop was om sy pa “dood” te skiet, miskien wou hy hom net wond? Maar dis verskriklik as n ma of pa n kind mishandel, die gevoel van hopeloosheid is n VERSKRIKLIKE gevoel. Ek bid vir Jan-Lion dat hy sy liefde en vergifnis by Jesus se voete sal vind en dat al die jare se wonde, genees sal word deur die wonderlike genesende liefde van Jesus…

Sarel Strydom ·

Die koste van Hofsaak kan maar gespaar word. Die Jurie het klaar die saak afgehandel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.