Seun kry nuwe oog, neus ná hiëna-aanval

Rodwell sal binnekort met sy prostetiese neus toegerus word. (Foto: Smile Foundation)

Die Zimbabwiese seun wat vroeër vanjaar tydens ʼn deurnagkerkdiens deur ʼn hiëna aangeval is, is uit die hospitaal ontslaan en spog reeds met ʼn prostetiese oog. Hy sal binnekort ʼn nuwe neus kry en as alles goed gaan, keer hy en sy ma in Oktober terug huis toe.

Dr. Ridwan Mia, ʼn plastiese chirurg van Sandton en een van Rodwell Khomazana se dokters, sê die negejarige seun is ʼn bondel vreugde nadat hy ʼn reeks operasies die afgelope paar maande ondergaan het.

“Hy is ʼn heeltemal ander seun as die een wat in Mei by die hospitaal aangekom het. Hy is ʼn gelukkige kind wat optimisties is oor die toekoms.”

Rodwell is op 15 Augustus uit die Mediclinic-hospitaal in Johannesburg ontslaan nadat hy maande lank in ʼn hospitaalbed deurgebring het.

Rodwell het sy neus, linkeroog, die meeste van sy bolip en gedeeltes van sy voorkop tydens die aanval verloor. Spesialiste van Suid-Afrika het ná dié tragiese voorval hul vernuf en tyd aangebied om sy gesig te rekonstrueer.

Volgens Mia was Rodwell aan die babbel toe hy Woensdag sy prostetiese oog ontvang het.

“Terwyl hy by die oogkundige was, het hy verstom vir homself in die spieël gestaar. Hy is baie gelukkig dat hy weer twee oë het,” het Mia gesê.

Dr. Ridwan Mia is een van Rodwell se dokters. (Foto: Smile Foundation)

Rodwell werk saam met verskeie terapeute om onder meer sy balans en dieptepersepsie te herstel ná die voorval.

Hy sal binne die volgende drie tot vier weke met sy prostetiese neus toegerus word wat deur magnete aan sy gesig geheg word.

“Dit is ʼn ingewikkelde proses en hy moet weekliks ingaan om te verseker dat sy prostetiese neus perfek pas. Die Sun International-hotelgroep huisves hom en sy ma, Shamiso Mabiko, totdat hulle kan terugkeer huis toe.”

Albei het glo heimwee en smag na ʼn bekende omgewing.

Sy ma sê noudat hy weer meer soos homself lyk, is hy gretig om huis toe te gaan en sy lewe as ʼn kind te hervat.

“Al Rodwell se operasies is afgehandel en hy kan uitsien na ʼn lang en gesonde lewe,” het Mia gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

Sterkte seune. Wat ‘n vreeslike ervaring. Sien jy ou David Mabuza ons het die doctors in die land. Ons hoef nie Rusland toe te gaan op belastinbetalers se ontkoste, of Kubane doctors in te voer nie! Waaneer gaan jy nou weer Rusland toe ou onder-president?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.