Seun langs voertuig gesleep ná diewe selfoon gryp

Argieffoto: ER24

Argieffoto: ER24

ʼn Leerling aan die Hoërskool Roosevelt in Randburg, Johannesburg, is Donderdagmiddag ná skool etlike meter ver langs ʼn voertuig gesleep toe hy glo probeer het om sy selfoon, wat pas gesteel is, te probeer terugkry.

Amanda Forsythe, ʼn DA-raadslid, het Vrydag aan Maroela Media gesê ʼn bekommerde inwoner, Carol Stier, het haar omstreeks 14:45 gebel om die polisie en nooddienste te ontbied.

“Daar is aanvanklik gedink die 15-jarige seun is in Beyers Naude-rylaan tussen die Wespark-begraafplaas en die Botaniese Tuin in Emmarentia, uit ʼn bewegende voertuig gegooi,” het Forsythe gesê. “Daar is egter later vasgestel dat die seun en sy vriend by ‘n busstop langs die pad gesit en wag het. Die slagoffer was besig met sy foon toe ʼn man hom oorrompel en die selfoon gegryp het. Die seun het aan sy selfoon vasgeklou en is deur die verdagte tot by ‘n Toyota Carolla gesleep wat naby die busstop stil gehou het. Die verdagte, met die seun wat steeds aan sy selfoon vasklou, is in die voertuig in, waarna dit weggery het, met die seun halfpad in die motor.”

Die voertuig het weggery en het die seun volgens Stier sowat 70 m ver langs die voertuig gesleep, waarna die rower die seun van die bewegende motor af weggestamp het. Hy het met sy gesig eerste die teerpad getref.

“Gelukkig het hy aan die kant van die pad geval en ʼn ander voertuig het hom nie in die besige straat raakgery nie,”  het Forsythe bygevoeg.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het aan Maroela Media bevestig paramedici van ER24 was op die toneel en dat die seun na die Helen Joseph-hospitaal geneem is vir behandeling. Hy het matige beserings opgedoen. Beamptes van die Parkview- en Sophiatown-polisiestasie was ook op die toneel.

Die skool het aan Maroela Media bevestig dat dit een van hul leerlinge is wat by die voorval betrokke was. Die seun se ouers het aan die skool gesê hul seun het nog nie sy bewussyn herwin nie. Hulle wag op meer inligting.

Forsythe het gesê dit is verblydend om te sien hoe ʼn gemeenskap kan saamstaan in die lig van so ʼn tragedie. “Die mense het uit hul pad gegaan om die seun en sy geskokte vriend by te staan en gemaklik te maak,” het sy bygevoeg.

Sy het ʼn beroep op studente en skoliere gedoen om nie waardevolle items soos selfone of tabletrekenaars in die openbaar te vertoon nie. “Daar is baie opportunistiese kriminele daar buite, wat nie sal huiwer om op weerlose slagoffers toe te slaan nie.”

Maroela Media het verskeie polisiewoordvoerders gekontak en wag vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Elfie ·

Ai, nou moet die publiek (in die geval leerlinge) weer voorsorg tref teen moontlike kriminele – daar is geen vryheid in ons land meer nie. Mens kan nie net stap dan word mens aangeval en besteel. En selfone is nie eers meer so duur nie, hoekom nou ‘n arme kind s’n gryp en die kind nog in die hospitaal ook laat beland. Ek dink ons almal moet wakker loop, neem van enige sulke goed wat jy sien selfoonfoto’s (dis nou vanuit ‘n veilige plek of iets, heng ek weet nie meer wat mens kan doen nie!) of maak ‘n nota van die registrasienommer – ons sal eenvoudig almal, op watter klein manier ookal, moet saamstaan teen kriminele! Dis ongelukkig hoe dit is!

Marlize ·

Hoeveel mense moet nog gesleep word? Ek bid dat hierdie kind nie te ernstig beseer is nie.

Asjas ·

Kinders moet asb die oudste, goedkoopste foon wat hulle het saam dra. Dis net om te kan bel ingeval van ‘n noodgeval, los die smartphone (letterlik) by die huis.

Bleskop ·

Asjas,

Goed en wel dat kinders die oudste en goedkoopste foon moet gerbuik, maar skole is dan nou besig om “peperless” te gaan met tablets, hoe nou gemaak? Loop met ‘n cheapy rond vir ‘n selfoon, maar die tablet is onder die arm in die plek van ‘n tas met skool boeke…

Drieks ·

Maroela, hoekom mag ek hierdie wreede misdadigers nie met Boko Haram vergelyk nie. ???
Ons het vir 20 jaar alles sien ageruit gaan en moorde wat toeneem.
Die groot moorde kom nou en elke burger in hierdie land gaan dit voel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.