Seun met halwe hart se ouers wil ander help

(v.l.n.r.) Basson, Hugo, Chris en Celeste (Foto: Verskaf)

ʼn Wes-Kaapse gesin se lewens is 12 jaar gelede in “millisekondes tot stilstand geroep” toe een van hul tweelingseuns met ʼn seldsame hartdefek gediagnoseer is – en nie ʼn enkele tree op dié moeilike en uitdagende pad kon die gesin op nóg ʼn terugslag voorberei nie.

Hugo en Celeste Truter het Woensdag in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel hulle staan keer op keer verstom oor hoe ʼn mens kan staande bly te midde van donker tye en storms wat woed. Maar nou het die egpaar weer – vir die “soveelste keer” – besef dat daar ook uit dié verhaal iets positief kan kom: ʼn storie van hoop en bemoediging.

Die Truter-egpaar het in 2006, toe Celeste maar 12 weke swanger was, gehoor dat een van hul seuns, Chris, ná geboorte verskeie ingrypende noodoperasies sal moet ondergaan wat waarskynlik sy lewe sal red. Chris en Basson is op 36 weke met behulp van ʼn keisersnee gebore – Chris het 2 kg geweeg en Basson was ʼn gesonde 3 kg.

Die egpaar kon nié soos ander ouers hul tweelingseuns huis toe neem nie. Chris is met hipoplastiese linkerhartsindroom gediagnoseer – ʼn toestand wat tot gevolg het dat hy as’t ware net ʼn “halwe hart” het.

Weens dié toestand is Chris sowat agt weke in die waakeenheid van die Mediclinic Panorama-hospitaal gehou waarna hy na die Netcare Christiaan Barnard-hospitaal oorgeplaas is om geopereer te word. Chris het by dié hospitaal drie ingrypende operasies ondergaan wat onder meer die bloedvloei van sy hart herstel het en waar daar aan are van sy hart geopereer is.

Volgens mediese kenners was Chris, toe maar net agt weke oud, een van die eerste babas wat dié operasie suksesvol ondergaan het.

“Hoewel daar baie bekommernisse was oor sy gesondheid, kon hy met behulp van behandeling ook soos ʼn normale seuntjie ontwikkel,” vertel Celeste. “Hy moes onder meer medikasie neem en arbeids- en fisioterapie ondergaan, maar hy kon lewe en later selfs skool toe gaan – daar was dinge waarin hy nie deel kon hê nie soos byvoorbeeld sport, maar ons kind het gelewe en dit het meer geweeg as enigiets anders.”

Die egpaar se grootste nagmerrie het in Augustus verlede jaar waar geword toe Chris op 11-jarige ouderdom onomkeerbare hartversaking opgedoen het. Die gesin was met vakansie in Botswana toe hulle die eerste keer opgemerk het dat Chris se gesondheidstoestand drasties versleg.

“Chris het skielik baie moeg geraak – hy was lusteloos en wou nie eet nie en wou konstant slaap. In ʼn stadium het hy selfs begin blou raak. Ons moes terugdraai huis toe, maar omdat sy dokters nié in daardie spesifieke stadium beskikbaar was nie, het ons hom na ʼn Rooi Kruis-kinderhospitaal geneem. Die wonderlike dokter daar het dae later met Chris se kardioloog kontak gemaak, en nadat hy later vir toetse geneem is, het die dokters aan ons bevestig dat hy wel hartversaking het.

“Dié nuus was ʼn ongelooflike terugslag. Elke tree van die laaste paar jaar se dikwels moeilike pad kom onmiddellik in jou gedagtes op. Dis as’t ware asof jou lewe in millisekondes tot stilstand gedwing word; byna asof jy teen ʼn hoë spoed op die snelweg jaag en skielik moet briek. ʼn Mens bly maar verras oor hoe geruk jy nog kan word deur sulke nuus – selfs al moes die moeilike pad van die verlede jou in ʼn mate op sulke nuus voorberei het,” vertel Celeste.

Chris is sedert Augustus verlede jaar op die waglys vir ʼn hartoorplanting. Die egpaar sê hulle was aanvanklik platgeslaan met die wete dat hulle niks kan doen om dié proses aan te jaag nie: nie eens ʼn groot bedrag geld kan dié oorplanting vandeesweek laat gebeur nie.

“Maar gebede kan vrede bring – dís wat ons geleer het,” vertel Celeste. “Ons moes aanvaar dat ons niks kan doen behalwe glo, bid en wag nie. Ons moes leer dat elke dag saam met ons seuns kosbaar is en dat ons dié proses een dag op ʼn slag moet aanpak.”

Die Truter-egpaar vertel hulle het daarom onlangs ʼn veldtog van stapel gestuur om bewusmaking oor orgaanskenking te bewerkstellig. ʼn Groep van die gesin se vriende het intussen ingespring om onder meer ʼn webwerf en pamflette te ontwerp en te vervaardig, en dié projek het pas ook momentum by ʼn Wes-Kaapse skool gekry.

“Ons speel al lank met die idee dat ons dié pad wat ons stap wil gebruik om iets vir ander mense te beteken. Ons moes leer en aanvaar dat ons nie enigiets kan doen behalwe om te hoop dat Chris binnekort dalk ʼn hartoorplanting sal kan kry nie. Wat ons wel kan doen, is om bewusmaking te skep oor orgaanskenking – miskien kan dié veldtog eendag iemand se lewe red wat moontlik ʼn orgaanoorplanting sal moet ondergaan.”

Talle belangstellendes het reeds na die egpaar uitgereik vir die Heart4Chris-veldtog om gesprekke oor dié onderwerp aan te bied by onder meer skole, universiteite en besighede.

Samantha Nicholls, uitvoerende direkteur van die Stigting vir Orgaanskenkers, het aan Maroela Media gesê meer as 4 300 mense is sedert vandeesweek op die waglys vir ʼn orgaanoorplanting.

“Ons is in dié stadium teleurgesteld in die land se passiwiteit, apatie en gebrek aan belangstelling. Dis baie maklik om jou oë te sluit vir die duisende mense wie se lewens moontlik deur orgaanskenking gered kan word,” sê sy.

Jooste Vermeulen, kommunikasiedirekteur vir die stigting, sê daar is tans sowat 241 000 Suid-Afrikaners as orgaanskenkers geregistreer. Volgens Vermeulen is twee derdes van dié skenkers vroue wat hoofsaaklik in Gauteng en die Wes-Kaap woon. “Die stigting het so vier jaar gelede begin om dié databasis van skenkers saam te stel. Ons grootste bekommernis is hoofsaaklik ʼn tekort aan manlike skenkers, en in provinsies buiten Gauteng en die Wes-Kaap wat nie noodwendig dieselfde hoeveel skenkers oplewer nie,” sê hy.

241 000 geregistreerde skenkers beteken minder as 1% van Suid-Afrika se bevolking is as orgaanskenkers geregistreer – dít terwyl ʼn oorgaanskenker die lewens van sowat 50 mense ingrypend kan verander of in baie gevalle ook ʼn lewe red.

Vir meer inligting oor die Stigting vir Orgaanskenkers, besoek hul amptelik webwerf. Om in kontak te tree met die Truter-gesin, stuur ʼn e-pos aan [email protected] of besoek die Heart4Chris-webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Annette Sartori ·

Ek en my 19-jarige seun het verlede jaar geregistreer as orgaan skenkers As ek doodgaan kan hulle maar vat wat hulle wil, ek gaan dit nooit weer nodig kry nie.

Leilani le Roux ·

STERKTE- jou kommentaar was onvanpas en heeltemal uit verband.
Hou asb jou negatiewe kommentaar en selfsuftigheid vir jouself.
Hierdie is n baie positiewe berig en ons as vriende van die Truter-familie en hul seuns bid dat hierdie bewusmakingsveldtog vir CHRIS en honderde ander mense ‘n tweede kans sal gee op LEWE!!
-LEILA-

[email protected] ·

Baie positiewe berig ek hoop regtig hy kan gehelp word deur ‘n onselfsugtige daad van iemand daar buite. Iets wat ek graag onder die oorplantingsvereniging se aandag wil bring is dat daar “stickers’ by die verkeersdepartemente moet wees om op jou nuwe lisensiekaart te plak. Die ou kaart word stukkend geknip en daarmee saam ook die “sticker”. Is daar nie dalk al skenkers op dié manier verbygegaan ten tye van afsterwe nie? Ek vra maar net.

Jammerte ·

Dis ‘n jammerte ons het nie ‘n instansie in Namibia waar ons kan registreer vir orgaanskenking nie. Dink net hoeveel organe gaan verlore wat ‘n lewe kan red.

Bronwyn ·

Het altyd gewonder of ek my organe moet skenk of nie. Jou storie het my dadelik laat registreer. Dankie en sterkte. My gebede gaan uit na julle toe. Ek weet as ouer met ‘n kind wat siek is, is dit nie maklik nie. My seuntjie is gister 5 jaar terug oorlede. Jou seun het ‘n kans. Hoop hulle vind gou ‘n hart vir hom. Met God is alles moontlik!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.