Seun na plek van veiligheid ná skok-aanrandingsvideo

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Negejarige seun, wat erg aangerand is deur ʼn buurvrou in Nquthu, KwaZulu-Natal, is na ʼn plek van veiligheid geneem. Die vrou is intussen in hegtenis geneem.

Weziwe Thusi, provinsiale LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het sy skok uitgespreek oor ʼn video van die voorval. Volgens ʼn verklaring deur sy departement het die vrou die seun daarvan beskuldig dat hy ʼn selfoon en geld van haar gesteel het.

“In die video sien mens hoe die vrou, wat ook ʼn vuurwapen by haar het, die seun met ʼn tou aan ʼn paal vasbind en hom eers met ʼn sambok en later met ʼn stok aanrand,” het die departement gesê. “Daar na wurg sy hom. Sy dreig ook een van die bure wat die aanrading probeer keer.”

Thusi het gesê hy is met afgryse vervul. “Ek kan nie glo dat ʼn vrou só wreedaardig kan optree nie. Dit is duidelik die aanranding was met die doel om ernstige skade aan te rig. Ek hoop sowaar sy word aangekla van poging tot moord, want wanneer mens ʼn kind met ʼn tou vasbind en só hard daaraan trek, bedoel jy om iemand dood te maak,” het hy gesê.

Die vrou is in hegtenis geneem nadat die kind se peetma ʼn saak teen haar aanhangig gemaak het. Hy is in ʼn plek van veiligheid geplaas.

“Dit is die tweede soortgelyke voorval in Nquthu,” het Thusi bygevoeg. “Ek onthou ook ʼn vrou wat ʼn skolier aangerand het nadat sy die kind daarvan beskuldig het dat sy haar kêrel wou steel. Mense het duidelik nie uit daardie saak geleer dat niemand die reg het om kinders te mishandel nie.”

Thusi het gesê hy wil die kind se peetma bedank dat sy behoorlike stappe gedoen het en die polisie dat hulle vinnig reageer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stuart ·

Arme kind, die res van sy lewe het hy ‘n letsel. Al het die vrou ‘n vuurwapen moes sy tog beide hande vry hê om die arme kind vas te maak en daar moes mos oomblikke wees wat die bure wat meer as sy is, kon saamstaan en haar oorrompel en stop! Liewe hemel die tipe goed is onverstaanbaar, regtig!

Griki ·

Ek het ‘n vraag: Hét die kind wel die selfoon en geld gesteel? Misdaad is buite beheer en nou is slagoffers van misdaad ook buite beheer. Want dit help nie om die polisie te kontak nie. Partykeer weet slagoffers wie die misdaad gepleeg het, maar kan dit nie bewys nie, in welke geval die misdadiger daarmee wegkom. Ek sê nie dis die geval in hierdie saak nie, maar hierdie geval demonstreer duidelik die magtelose woede van misdaadslagoffers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.