Die Reddingsboei vir dapperheid word in Die Voortrekkers slegs oorhandig aan ʼn lid wat sy eie lewe in gevaar gestel het om die lewe van ʼn ander persoon te red.
Dr. Danie Langner, hoofleier van Die Voortrekkers, het gesê die hoofbestuur van die organisasie het op 31 Oktober 1969 die Reddingsboei vir dapperheid goedgekeur vir Hermanus Gerbrand Steyn (12 jaar oud) van Grewarlaan 10, Parys, na aanleiding van verklarings deur Philo de Villiers, Bettie Buitendag en haar ma mev. Buitendag, wat ooggetuies van Herman se heldedaad was.
“Gedurende Desember 1968 was Herman, sy pa dr. HG Steyn en mnr. P de Villiers in ’n skibootongeluk te Savora, Mosambiek betrokke. Hulle het ongeveer 1 kilometer in die see visgevang toe hoë golwe die boot omgeslaan het. Al drie vissermanne was sonder redddingsgordels of enige reddingsapparaat,” het Langner verduidelik.
De Villiers het aan ʼn petroltenk vasgeklou en het na die strand geswem. Die boot het onderstebo op die strand uitgespoel.
“Herman se pa se skouer is tydens die ongeluk ontwrig en sy bene in die warboel van vislyne verstrengel. Hy was nie in staat om homself te help nie. Ten spyte van ʼn harde hou teen sy kop het Herman sy pa tussen die hoë golwe bly soek totdat hy hom gevind het. Herman het met behulp van ’n drywende binneband sy pa met ’n groot gesukkel tot op die strand na veiligheid gehelp.”
Alhoewel die Reddingsboei in 1969 deur die hoofbestuur van Die Voortrekkers goedgekeur is, is dit nooit formeel oorhandig nie. Die brief met die toekenning het iewers in die pos verlore geraak en eers by Parys Voortrekkers uitgekom nadat Herman en sy ouers na Bloemfontein verhuis het. Eers met die regpak van die argiefmateriaal met die oog op Parys Voortrekkers se 85ste fees het hulle weer die vergete koevert ontdek.
“Vandag, 51 jaar ná die dapper daad is die Reddingsboei formeel aan oom Herman oorhandig. Watter onbeskryflike voorreg!” het Langner gesê.
Herman se pa kon Desember 1968 in Mosambiek gesterf het, maar danksy Herman se dapper optrede het hy nog 37 jaar geleef en is eers in 2004 oorlede.
“Hierdie is nie net ʼn verhaal van moed en dapperheid nie, maar ʼn getuienis van ʼn seun se liefde vir sy pa.”
pragtige verhaal, daardie tyd se pos het ook maar verlore gegaan, maar baie bly dat dit uiteindelik opgedaag het
Wonderlike ware verhaal. So bly hy kon dit ontvang na so n lang tyd..sy vader sou so trots gewees het om ook daar langs hom te staan..baie geseënd.
Markwaardig ….ongelooflik en baie geluk !
Geluk, dis n mooi verhaal.
wow stunning! Wat n dapper daad!
Wow..pragtige verhaal
Awh, dalk kan hierdie ‘n fliek raak! Love dit!
Laat mens dink….
Wat van hedendaagse Afrikaner helde?
Nou dat ons tweederangse burgers is in die nuwe SA moet ons dalk ons eie mense vereer wat groot selflose dade doen?
Ons hoor heeltyd hoe sleg ons is… Dink aan Naka Drotskie wat sy gesin beskerm het, en baie ander…
Sit hierdie mense bietjie op die voorgrond en vereer hulle in die openbaar dit sal die wêreld se goed doen aan ons self-waarde.
Stem saam – en ons noem dit die Herman Steyn Toekenning vir Dapperheid.
Wow dit is lekker om ‘n positiewe berig te lees. Baie geluk Herman.
Hoendervleis mooi! Baie geluk!
Dis goed om so storie tussen die daaglikse moor en doodslag te kan lees. Geluk Herman.