Seun se dood: Dokters kry borgtog; Sama bekommerd

Zayyaan Sayed.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) sê die twee dokters wat aangekla word in verband met die dood van ʼn tienjarige seun het ook regte en is onskuldig tot die teendeel bewys word.

Prof. Peter Beale, ʼn pediatriese chirurg, en dr. Abdulhay Munshi, ʼn narkotiseur, het Dinsdag in die landdroshof in Johannesburg verskyn op aanklag van strafbare manslag.

eNCA berig die twee dokters is op borgtog van R10 000 elk vrygelaat. Hul borgtogvoorwaardes sluit onder meer in dat hulle nie Gauteng mag verlaat of met getuies mag kontak maak nie. Munshi het wel toestemming gekry om na Doebai te reis, maar moet sy paspoort inhandig sodra hy terugkeer. Die saak is tot Maart uitgestel.

Zayyaan Sayed het op 11 Oktober ʼn laparoskopie by die Netcare Park Lane-kliniek ondergaan nadat hy lank met refluks gesukkel het. Beale het die operasie uitgevoer, terwyl Munshi die narkotiseur was. Zayyaan het later dieselfde aand gesterf.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van Sama, meen ʼn behoorlike ondersoek moet gedoen word om al die faktore in ag te neem wat ʼn rol gespeel het in die uitkomste in gevalle waar die dokters van nalatigheid beskuldig word.

“Dit is ook nodig dat hierdie faktore aandag kry om te verseker dat dit nie in die toekoms herhaal word nie,” het Coetzee gesê.

Sama het sy simpatie betoon met die betrokke families en die hoop uitgespreek dat die saak vinnig afgehandel sal word sodat daar berusting kan kom vir almal wat betrokke is.

Coetzee is verder van mening dat die saak nie in die media gelitigeer moet word of ʼn politieke speelbal moet word nie.

“Die families moet gerespekteer word terwyl behoorlike ondersoek gedoen word deur die relevante owerhede soos die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe (RGB).

“Die insluiting van mediese kundiges by die ondersoeke is van kritieke belang, aangesien hierdie professionele persone die nuanses van wat moontlik verkeerd geloop het verstaan. Enige ondersoeke moet ook billik en deursigtig wees.”

Volgens Coetzee is die beroep inherent riskant. “Ernstige gevolge is ongelukkig nie ongewoon nie – selfs al was daar nie enige foute nie. Totdat die ondersoek afgehandel is, is daar nog nie genoeg feite om enige mediese gevolgtrekkings te maak nie,” het Coetzee gesê.

Zayyaan se ma het vroeër aan Maroela Media gesê hulle het lank gewik en geweeg om wél die operasie te laat doen, maar het eindelik ingestem.

“Dit was die laaste keer dat ek hom [Zayyaan] [lewend] gesien het. ʼn Uur en ʼn half het verby gegaan. Toe twee ure. Ek het op en af gestap. Ná twee en ʼn half ure het ek begin wonder wat aangaan…,” het Zaheera Sayed gesê. Die operasie het eindelik nagenoeg vier uur geduur. Zayyaan is later dieselfde aand dood.

Netcare het kort ná Zayyaan se dood die twee dokters se voorregte opgeskort, maar die RGB het nog geen aanduiding gegee van die stappe, indien enige, wat hy doen of beplan om te doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swanna

Munshi gaan nie weer terug kom nie. Weereens ‘n groot fout deur ons reg stelsel, maar is dit ‘n fout of is dit opsetlik? Beale gaan die gelag betaal weant hy kan nie ontvlug nie.

Duppie

Verseker het hulle ook regte wat erken moet word. Niemand is skuldig voor die wet nie so beslis het nie. Wat my egter pla is dat dokters te maklik wegkom as daar iets verkeerd geloop het. Dokters het versekering vir eise teen hulle of hulle praktyk en ek voel dat of die dokter of die versekering moet betaal as iets verkeerd loop. Motor of huis versekering werk tog ook seker net so, as ek “onskuldig” is in die eis, dan betaal my versekering dit mos uit. Indien ek “skuldig” is moet ek self die kostes betaal. Indien die dokter my… Lees meer »

Rubber

So jammer dat die seun dood is, maar geen operasie is sonder risiko’s nie. Te min inligting. Bid dat die twee dokters regverdig behandel sal word.

Griet

Ek glo ook nou werklikwaar nié, ń dokter, sal iets opsetliks verkeerd doen nie! Maar as hulle nalatig was, moet dit ondersoek word. STERKTE aan die familie en almal betrokke, dit moet ñ baie pynvolle pad wees

Izak

Twee gerespekteerde Dokters se name word geskend en hulle word reeds beskou as skuldig, nog voor Hofsaak afgehandel is. Wag vir uitslag en oordeel dan. God neem besluite en dan moet n mens nie Sy besluite in n Hof wil laat toets nie