Seun se grafsteen uiteindelik op

Christo Engelbrecht

Ná byna twee jaar se gewag, kon ʼn Pretoria-gesin uiteindelik vandeesweek ʼn grafsteen vir Christo Engelbrecht by die Zandfontein-begraafplaas oprig.

Louis en Marisa Engelbrecht se rooikrulkopseuntjie, Christo, is op 5 November 2015 in die ouderdom van drie dood. Hy het onverwags siek geword en moes ʼn beenmurgtoets (lumbale punksie) kry. Die toets het komplikasies tot gevolg gehad en is glo nie deur ʼn pediater reg gediagnoseer nie.

Hy is gevolglik breindood verklaar en nadat hy twee keer na verskillende Pretoriase hospitale oorgeplaas is, is hy uiteindelik na die Garden City-hospitaal gehaas. Ten spyte van dokters daar se volgehoue pogings, is Christo dood met sy ouers en boetie, Coert, en sussie, Zanie, aan sy sy.

Christo is op 10 November 2015 vanuit die Gereformeerde Kerk Innesdal begrawe en in die Zandfontein-begraafplaas te ruste gelê.

Die Engelbrecht-egpaar en vele ander geliefdes van mense wat oor die afgelope twee jaar by Zandfontein begrawe is, kon sedertdien nie grafstene by nuwe grafte oprig nie weens probleme wat ervaar is toe die Tshwane-metro ná die plaaslike verkiesing in 2016 van ANC- na DA-leierskap omgeskakel het.

Christo en sy ma Marisa

ʼn Woordvoerder van die Tshwane-metro het vroeër aan Maroela Media gesê die stad het baie skuld van die ANC-administrasie “geërf” en dat daar nie geld in die begroting was om die betonstroke, wat nodig is vir die basis van die grafstene, te lê nie. Onderhoud by talle begraafplase reg oor die stad het ook erg in die slag gebly.

Die metro het vir die nuwe finansiële jaar, wat van Julie 2017 tot Junie 2018 strek, nagenoeg R2,1 miljoen begroot het vir verfraaiingprojekte vir die stad wat ook begraafplase insluit. Zandfontein se betonstroke is uiteindelik in Augustus gelê. Toe dié stap gedoen is, kon die Engelbrechts die langverwagte steen vir Christo laat maak en dit is vandeesweek by sy graffie opgerig.

“Op 5 November is Christo’tjie twee jaar gelede dood. Toe ons sy steen oprig het dit gevoel of ons weer begrafnis gehou het. Die seer is rou maar ons is dankbaar dat sy naampie uiteindelik op is. ʼn Groot steen vir ʼn klein seuntjie wat reuse spore agtergelaat het,” het Marisa Donderdag aan Maroela Media gesê.

Die gesin besoek elke Sondag ná kerk Christo se graf en moes ʼn geruime tyd tussen die vervalle grafte blommetjies op hul seuntjie se graf sit “net om dit bietjie mooier te kon maak”. “Ons is bitterlik dankbaar dat daar nou ʼn steen is. Nou gaan Christo’tjie nie meer net ʼn naamlose hopie grond wees nie.”

Volgens Louis is deel van die rouproses ná die dood van ’n kind is om ’n steen vir die kind te kan oprig.

Christo se grafsteen. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Poeks ·

Ai tog my hart sommer nou baie seer Pragtige ou seuntjie sterkte vir die familie

Arsène Lupin ·

Ek is baie bly om te hoor dat jul seuntjie se graf nou sy naampie ophet.

My vraag is, hoeveel van die R2.1miljoen (wat in elkgeval bitter min geld is) gaan werklik gebruik word op begrafplase? As kind (in die jare 80) het ek ure lank in die Zandfontein begrafplaas rondgeloop, en na die grafte gekyk – die begrafplaas was ‘n lushof vir die oë gewees, met hoë bome, mooi tuine, en mooi versorgde grafte. Vandag is dit afskuwelik, die pad het slaggate, daar isnie dromme om vullis in te gooi nie, vullis lê in die strate, en tussen die grafte. Die gras wordnie gesny nie, dorings groei bo-oor grafte en voetpaadjies. Dit is afskuwelik!

CAROL ·

Jy is heeltemaal korrek. Ek was so paar maande terug by Zandfontein op n Sondag omtrent 11H00. Die gras is lank, lee beer bottels en papiere le die hele plek vol. Daar was mans wat op die sypaadtjie gesit en gesuip het!!! Wie gaan begrafplaas toe om te gaan drink??? Daar was n man met wie ek gepraat het en gevra waarom lyk die begrafplaas so erg. Hy het my geantwoord en gese dis nie meer Tswhane se werk om dit na te sien nie, maar ons eie werk. In die toekoms sal ek self na my grafte gaan omsien.

wielie ·

Mens voel nie veilig daar nie en dis net aan die hoofweg se kant wat dit versorg lyk! Gaan dieper in die begrafplaas, in die ouer deel, en dit lyk sleg Die gate in die gras van vervalle grafte – sonder name het my ook al lelik laat seer kry! Die gras is so lank en skielik die gat …… Daarom wil ek nie begrawe word nie want die vet weet ek sal “opstaan” en trek! Kis en al

Rita ·

Ek stem saam met jou. Ek wil nie begrawe word nie. Veras my eerder. Meng my as met grond en plant vir my ‘n pragtige akkerboom waarin die voëls later ‘n nes kan maak, en iemand die koelte kan geniet. Dis nie hoe jy begráwe word nie , dit is hoe jy stérf. Christus sal die asse laat verrrys net soos hy die dooies uit die see sal haal die dag as Hy terugkom om sy kinders te kom haal.

H ·

Ek was die 11 by die Heaterdale begrafplaas. Groot was my verbasing die werkers wat die plek moet onderhou en skoon maak le onder due bome en slaap. So trek hulle salarisse vir leeg le.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.