Seun se liggaam gevind ná Hartbeespoortdam-tragedie

Argieffoto

Argieffoto

Die Noordwes-polisie het Maandagmiddag bevestig dat ʼn seuntjie se liggaam in die Hartbeespoortdam gevind is nadat ʼn rubberboot Sondagmiddag tydens ʼn plesierrit omgeslaan het.

Kol. Sabata Mokgwabone, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat die seun, byna twee jaar oud, se liggaam gevind is.

“ʼn Geregtelike doodsondersoek sal gedoen word,” het Mokgwabone gesê.

Maroela Media het vroeër berig die polisie se duikeenheid het Maandagoggend ʼn soektog na ʼn seuntjie van Pretoria hervat wat Sondag glo tydens ʼn plesierrit verdwyn het nadat die boot omgeslaan het.

Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), is vrywilligers van hul Hartbeespoortdam-tak omstreeks 15:45 na die suidelike deel van die dam naby die Eagle Waters-vakansieoord ontbied.

“Na wat verneem word het ʼn 4,5 meter lange rubberboot ʼn opblaasband gesleep voordat dit sowat 300 meter van die oewer naby die oord omgeslaan het,” het Lambinon gesê.

ʼn Gesin van Pretoria-Noord, ’n pa en ma en hul twee kinders – die vermiste seuntjie wat in Junie sy tweede verjaardag vier en ’n 18 maande oue babasussie – het vir die naweek in ʼn nabygeleë woonwapark tuisgegaan. Die gesin het met die boot, wat glo aan vriende behoort, gery. “Die skipper, die seuntjie se ma en drie kinders het voor op die boot gery. Die boot het twee persone  agterna op die band gesleep.”

Volgens ooggetuies het die boot ʼn skerp draai in die water gemaak waarna dit omgeslaan het. Almal wat op die boot was, is afgeslinger en vermoedelik het niemand reddingsbaadjies aangehad nie. Die mense wat op die band was, het nie afgeval nie.

Van die omstanders het mans met ʼn waterponie ontbied om die mense te help, en ander omstanders het die polisie, ambulans en NSRI ontbied. Daar was geen teken van die seun nie en daar word vermoed dat hy verdrink het.

Die polisie en NSRI het tot sononder na hom gesoek waarna die soektog weens swak sigbaarheid afgelas is.

Lees die opvolgberig hier.

Op versoek van die familie het Maroela Media besluit om die kommentaar op beriggewing oor hierdie voorval te sluit, ten einde spekulasie te voorkom. Die familie het onderneem om meer inligting met Maroela Media te deel sodra hulle gereed is om daaroor te praat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.