Seun slaan glo pa met ysterpyp dood

Foto: Reaction Unit South Africa

ʼn 48-jarige KwaZulu-Natalse man is Maandagaand in Verulam in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy pa met ʼn ysterpyp doodgeslaan het.

Reaction Unit South Africa het in ʼn verklaring gesê veiligheidsbeamptes het omstreeks 19:48 ʼn oproep ontvang van ʼn vrou wat gesê het sy het bloedspatsels in haar buurman se huis opgemerk en hy word vermis.

Veiligheidsbeamptes is na die toneel op Bridgefordweg in Mount View ontplooi en het een van die buurman se seuns by sy huis aangetref. Hy het aan die veiligheidsbeamptes gesê hy het by die huis gekom en sy broer gevra waar sy pa is. Sy broer het vir hom gesê sy pa is deur ʼn onbekende persoon in ʼn rooi motor opgelaai en het nog nie teruggekeer huis toe nie.

Die seun het egter agterdogtig geraak toe hy bloed in die erf opgemerk het. Hy het die veiligheidsbeamptes gewys hoe ʼn bloedspoor na die gesin se aanbiddingsplek op die perseel lei en daar het hulle die bebloede liggaam van sy pa met sy gesig na bo gevind.

Foto: Reaction Unit South Africa

Luidens die verklaring is paramedici na die toneel ontbied, maar daar was niks wat vir die man gedoen kon word nie en hy is dood verklaar. “Hy het diep wonde aan sy gesig, kop en bors opgedoen en sy kakebeen en een van sy ribbes was gebreek,” lui die verklaring.

Die man se ander seun is op die toneel in hegtenis geneem. “Toe veiligheidsbeamptes hom ondervra het, het hy gesê hy het sy pa met ʼn ysterpyp vermoor tydens ʼn rusie oor die voorbereiding van kos vir die gesin se drie honde.”

Aldus Reaction Unit het die verdagte jare gelede glo tydens ʼn rusie die gesin se huis afgebrand. “Hy het saam met sy pa en broer in die afgebrande huis gewoon nadat sy ma verlede jaar aan nierversaking oorlede is. Hy was tydelik in diens as ʼn verwer.”

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het bevestig ʼn 48-jarige man is in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn 68-jarige man. Hy sal binnekort in die hof verskyn.

Die verdagte se naam kan nie bekendgemaak word voordat hy in ʼn hof verskyn het nie. Die oorledene se naam word intussen ook weerhou om nie die verdagte te identifiseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gerrit ·

Waar is die mense nou wat teen pak slae en dissipline opvoeding is , hier is nou n duidelike voorbeeld van geen dissipline en opvoeding nie .

LouE ·

Weet glad nie hoe jy by daardie gevolgtrekking uitkom nie. Miskien het jy ‘n geskikte berig gesoek om jou sê te sê?

Piet Pompies ·

Dit gaan moeilik wees vir ‘n 68 jarige ouer om sy 48 jarige seun pakslae te gee. In ons land word vergeldings dade wat gewoonlik baie wreedaardig is met te veel versagting behandel. Oortreders kry nie die nodige straf wat hulle verdien en die verkeerde boodskap word uitgestuur. As kind kan ek onthou hoe ‘n werf hoender die dood van ‘n persoon veroorsaak het. Die hoender het bloot onderdeur ‘n doringdraad geloop en uit onkunde het die bure wat ook hoenders het, die hoender gevang en gaargemaak. Dit het konflik veroorsaak en die persoon wat die hoender geslag het is vermoor. Hier het ‘n seun sy pa vermoor oor konflik om vir die honde kos te gee/maak.

tw ·

Redelik maklik. Brand huise af = geen respek = geen dissipline.
Rand pa aan en vermoor hom nog wreed daarby = ……….. wat meer kan ek se.

Duitser ·

Die man sê as die kind dissipline en slae gekry het as kind sou hy nie gedoen het wat hy gedoen het nie is julle stadig of is dit julle onderwys stelsel wat julle gefaal het en nou die rippel effekte wat tevoorskyn kom.

Theresa ·

Moord en dit oor ‘n argument oor kos vir honde voorbereiding. Lewensrespek afwesig.

Gerrit ·

Dit is presies wat ek probeer sê as daar weer dissipline en christelike opvoeding is sal hierdie dinge nie gebeur.Ek maak nie mense dood nie , nie omrede ek bang is die polisie gaan my vang nie wat hulle is so useless ek glo nie hulle kan hulself vang nie maar omrede ek is geleer dat dit verkeerd is en dat God my sal straf want daar is nagevolge vir verkeerde aksies

Manie Strydom ·

Die wet se eer jou vader en jou moeder hy het dit nie geweet nie , hoekom ?

Se maar net 1 ·

Want die wet is nie op sy hart geskryf nie
Dis die antwoord op jou vraag hoemom hy nie sy ouers eer nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.