Seun steeds kritiek ná leeu-aanval

Argieffoto: Marianne Styan

Kristian Prinsloo (11) is steeds in ʼn kritieke toestand in ʼn Pretoriase hospitaal nadat hy die naweek deur ʼn leeumannetjie in Lephalale (Ellisras) in Limpopo aangeval is.

Sanet Dippenaar, woordvoerder van die Muelmed-hospitaal in Pretoria, het sy toestand Maandag aan Maroela Media bevestig.

“Hy word in die waakeenheid behandel en is aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel,” het sy gesê.

Dippenaar het gesê sy ouers het versoek om nie in die stadium met die media te praat nie. “Sy ouers en familie is erg getraumatiseerd en die kwessie is sensitief.”

ʼn Gebedsgroep op sosiale media het ʼn beroep op mense gedoen om ernstig vir Kristian te bid nadat hy tydens die aanval deur ʼn driejarige leeumannetjie bespring en aan die keel gebyt is.

Maroela Media het Sondag berig Kristian is Saterdag op ʼn familievriend se landgoed op die oewer van die Mogolrivier in Lephalale deur die leeu aangeval.

Hy is eers by die Mediclinic Lephalale gestabiliseer en geopereer, waarna hy die middag met ʼn helikopter van Netcare 911 na Pretoria oorgeplaas is. Sy ouers, Herman en Adri Prinsloo, waak by sy hospitaalbed.

Kristian het erge bytwonde en krapwonde aan en om sy nek opgedoen.

Dit is nie duidelik wat tot die aanval gelei het nie. Sy ouma het die leeu van die seun afgestoei waarna die dier gevlug het.

Die leeumannetjie wat hom aangeval het, is glo een van drie mak leeus wat op die landgoed aangehou word en as welpies daar grootgemaak is.

Die eienaar van die landgoed kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Ouma ·

Ons bid dat die Here sy lewe sal spaar. Wys jou – ‘n Ouma is liewer vir haar kleinkinders as vir die lewe self. Syhet so dapper opgetree. en het die dood trotseer om haar kleinkind te help. Ek hoop en vertrou julle kind herstel vinnig. Baie sterkte aan julle almal.

Wilde diere gaan altyd eerste vir kinders, want hulle sien dit as’n maklike prooi. Mens kan nooit aanvaar dat ‘n wilde dier 100% mak geword het nie. Sy wilde natuur is ingebore, en is altyd onderliggend.

oumie ·

Ouma ek stem 100% saam jou met als wat jy sê Sterkte boetman mag God jou bewaar en gou gesond maak Amen

Chris ·

Die Groot Katte kan nooit as “mak” beskou word nie, al word hulle hans grootgemaak. Hulle kan wel in ‘n mate “getem” word soos blyk uit talle soortgelyke aanvalle op leeu temmers en -telers in die verlede. ‘n Goeie voorbeeld is die voorval toe die bekende wildteler John Varty byna dood is toe sy hans groot gemaakte tier hom destyds aangeval en verskeur het. Die jag instink bly net te sterk. Ons bid vir Kristiaan.

Oupa ·

Dis nou ‘n bielie van ‘n ouma!!
Gou gesond word Kristian!!

MH ·

Wanneer gaan mense leer dat wilde diere nie jou speelmaatjies is nie? Hoop die seun herstel volkome.

Alida ·

MH ek is bly daar is nog mense wat soos ek voel. Dit is tragies maar wilde diere word NOOIT MAK nie. Hulle hoort in die wildtuin in die natuur. Dit is in hul gene. Hou huis katte aan nie flippen ongediertes nie. Hoop die kind word gesond en die leeus word vrygelaat waar hulle hoort.

Ada ·

Hoop die seun herstel vinnig en ek hoop ons sien binnekort n foto van die seun en die ouma saam!Maroela hou ons asb op hoogte? Daar was n beskermings engel by die seun en ouma. Ja en ek stem saam dat n “mak” wilde dier nog steeds op hul instink reageer.

sandy ·

Hy sal ten volle genees. GOD is in beheer en besig om hom gesond te maak. Onse HEER vat nie net nie. Ons bid saam

anri nel ·

My vriend het op 17 op sy rolskaatse verongeluk en is al 20 jaar ‘n tetrapleeg. Die Here toor nie alles reg op hierdie sondige planeet nie. Siekte, ongeluk en seer en sonde en swak beskuite loop hulle gang hier op die aarde.. Soms gryp Hy in en soms laat Hy toe dat dinge gebeur… Maar alles sal ten goede meewerk as ons Hom dien. My vriend raak duisende aan met juis sy gestremdheid. Van die skouers af verlam ondertoe maar kies lewe en geloof en vreugde en dankbaarheid. ‘n voorbeeld en getuienis vir ons almal.

Hanna ·

Dis baie hartseer, ek bid vir sy volkome herstel. Wel gedaan aan die ouma. Dis waar ons was al by plaas waar mak leeus groot gemaak is, en die een spesifieke leeu het heeltyd sy oog op klein dogtertjie gehad, gelukkig was leeu agter hoë heings, hy het nie sy oë van haar afgehaal nie. Ek voel baie jammer vir die hele gesin en wens hul alle sterkte toe.

Asmain ·

Ai dis so tragies! Daar is egter nie iets soos n mak leeu nie!
Ouma, jy is voorwaar n ystervrou!

CobusC ·

Ek verstaan nie. Iemand wat leeus aanhou behoort beter as ons te weet dat die een ding wat jy NIE kan uit- TEM nie is instink. Instink om te jag en dood te maak wat net bewys word deurdat hy sonder om geleer te word, weet om vir die keel te gaan. Dis hkm selfs mak leeus in kampe aangehou word. Ek glo dat die eienaar verantwoordelik gehou moet word. Die Allergrootste Geneesheer het die seun nou in Sy Hande en ons moet net glo!!! Sterkte aan sy familie en dankie aan ‘n wonderlike dapper ouma!!!

Cheryl ·

Baie Baie sterkte klein seun hoop jy word some vinnig gesond en mag ons ALMAGTIGE GOD se hande jou aan raak en jy vinnig herstel en genees… Dink aan die hele familie deur hierdie seer tyd. Sterkte.

ouma ·

Ek wil net sê dat daar geen “mak” leeu bestaan nie. Ons as mens sal nooit ‘n wilde dier kan mak maak nie, wel tot in ‘n mate kan tem ja. Ons dink en glo dat die jagtersinstink aamleiding tot die aanval gegee het. Maar wat het in die leeu se gedagte aangegaan voor die aanval. Dalk het Kristiaan die huis binne gegaan en die leeu wou dalk vir sy ‘ma’ (ouma) beskerm het? Ons kan nie die vraag beantwoord nie. Hopelik sal daar eendag wetgwewing ingestel word teen die aanhou van alle wilde diere. So gaan daar nou weer ‘n “mak” onskuldig leeu met sy lewe boet agv van die mens. Ons gebede met die gesin en Kristiaan.

Michelle ·

Nou gaan die arme leeu seker weer doodgeskiet word, en dit as gevolg van die natuur wat nie in die natuur gelos word waar dit hoort nie!

Lulu ·

Kristiaan, mag jy die wonderbaarlike genesingskrag van God ervaar. Ouma, jy is ‘n yster! Sterkte aan die familie.

Ek wil net ‘n beroep doen op die eienaars van die leeu. Moet asseblief nie die dier van kant maak nie. Hy het slegs uit instink reageer. Kristiaan was ongelukkig ‘n maklike prooi, dus is die insident nie die leeu se skuld nie.

Verstom ·

In plaas van om negatiewe gedagtes te koester oor ‘n konsuises mak leeu, bid eerder dat ons Hemelse Vader vereer sal word omdat ons weet Hy vir Kristian sal genees en al die EER na Jesus sal gaan. Daar is krag in gebed en die versoek was vir ‘n gebedsgroep nie kritiek nie. KRISTIAN JY IS JESUS SE KIND, BRING AL DIE KINDERTJIES NA MY MOET HULLE NIE VERHINDER NIE, moenie struikelblokke wees vir GODDELIKE genesing nie.

Skerp Spioen ·

Moet nooit vergeet nie dat dieselfde bloed deur hierdie ouma se are vloei as diè van die vroue wat kaalvoet oor die drakensberge gestap het ter wille van ‘n (beter) lewe vir hulle mense . Pasop vir ‘n boervrou. Sy sal letterlik soos leeuwyfie veg vir mense van haar bloed. Ek salueer u mevrou!

Bosbok ·

Johan, volgens die artikel is hy op n familievriend, nie familielid, se plaas aangeval. Dus is die ouma voorwaar die yster

Corrie van Rooyen ·

Moet asb nie die leeu van kant maak nie. K stem saam mt almal se mening – ‘n wild dier bly wild en behoort in sy natuurlike omgewing, nie in mensdom se woning. As ‘n ouma self, sal k alles in my vermoeë doen as iets of iemand my kleindogter bedreig. Dit help nie om te vra hoekom en waarom nie – die Lewende God is in beheer van sake en op Hom moet ons vetrou en glo vir Kristiaan se geneesing en volkome herstel. Alle sterkte en krag vir hele familie – ouma ingesluit.

Cheryl ·

Ag my MAGTIG man… Die leeu die leeu die leeu!!!! Ek wil van my kop af raak al die mense wat meer oor die diere gewarry is as oor ñ kind nog so jonk. As dit moet maak die leeu van kant daai kind veg om sy lewe en en die leeu wat doen hy???? Die mens dom in ons land is belaglik maak my siek!!!! Ek bid vir jou seun jy verdien die lewe meer as die leeu!!!!!

Michelle ·

Mevrou, nie seker of jy ‘n Christen is nie, maar uit ‘n Christelike oogpunt wil ek sê dat die Here ons oor Sy skepping aangestel het, om dit te behoed en te bewaar. So ja, die leeu se lewe maak ook saak. Die leeu kan nie vir homself dink nie en kan ook nie praat om sy kant van die saak te stel nie. Die leeu kon nie verhelp wat hy doen nie, hy het op instink reageer, hoekom moet hy dus van kant gemaak word oor die nalatigheid van die mensdom? Maar ek vra om verskoning as hierdie stelling teen jou geloof indruis.

Annetjie ·

Kan iemand ons asb sê hoe dit nou met Kristian gaan? Om kant te kies tussen kind en dier is baie onredelik. So kom ons konsentreer asb op Kristian? Wat sê die dr’s en sy mamma en pappa?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.