Seun sterf ná perd hom skop

Foto: Pixabay

Foto: Pixabay

Mondré Barnard (13) is die naweek oorlede nadat hy van ʼn kraalheining geval en deur ʼn perd geskop is.

Bettina Fouche, ʼn familievriendin, het gesê Mondré en sy ma, Selma, het Saterdag aan ʼn perde-uithourit deelgeneem sowat 30 km buite Kathu in die Noord-Kaap. “Hulle het die helfte van die rit voltooi en toe gestop om die perde te laat afkoel en hulle te voer.”

Mondré het langs die perd op ʼn kraalheining gesit terwyl sy ma die perd gevoer het. “Ons weet nie wat presies gebeur het nie, maar Mondré het agteroor geval. Die perd het geskrik en hom teen die linkerkant van sy bors geskop en skrams teen sy linkerribbes ook getref.”

Volgens Fouche het Mondré self opgestaan en na die bakkie geloop voor sy ouers met hom na ʼn hospitaal in Kathu gejaag het. By die hospitaal is hy in ʼn rolstoel gesit en die hospitaal binnegestoot. “Hy het self uit die rolstoel opgestaan en op die bed geklim en het heeltyd met almal gepraat.”

Dokters het Mondré ondersoek en besluit dat hy na ʼn hospitaal in Kimberley oorgeplaas moet word. “Sy ma en ouma het saam met hom in die ambulans gery. Hulle was net buite Kuruman op pad na Kimberley toe sy toestand begin verswak het. Daar is besluit om om te draai en terug te ry na die hospitaal in Kathu. Mondré is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.”

Volgens Fouche was Mondré ʼn bekwame ruiter en het naweke op die gesin se plaas buite Olifantshoek perd gery. “Hy en sy ma het al baie uithouritte gery. Hy het voor my grootgeword en ek het hom nooit hartseer of kwaad gesien nie. Hy het altyd gegiggel as hy iemand ʼn streep getrek het.”

Fouche het gesê Mondré het voluit gelewe. “Hy was bang vir niks nie. Hy was verskriklik lief vir sy motorfietse en het in Augustus ʼn nuwe motorfiets vir sy verjaardag gekry. Hy was altyd vriendelik en het lekker gesels. Sy ouers verwerk dit baie moeilik. Hulle is stukkend en hartseer.”

Mondré, ʼn gr. 7-leerder aan die CVO Kalahari-skool in Olifantshoek, word Saterdag begrawe. Hy laat benewens sy ma, ook sy pa, Raymond, en ʼn boetie en sussie agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

CQ ·

Ai soooooo hartseer♡
Hierdie is net n vloekskoot.
So jammer aan die ouers♡
Mag God julle hartseer ligter maak

Maritza ·

Vreeslik jammer om te hoor! Mag die Here jul vertroos in die moeilike tyd.

ena small ·

Die seer om ju kind te verloor is seker die seerste seer! Mag julle troos vind in die wete dat Mondre die lewe ten volle uitgeleef het en altyd onthou sal word vir wie en wat hy was!

Vid ·

So jammer om te hoor. Die seer raak nie minder nie en die verlange raak net meer en meer. Sy plek sal altyd leeg wees….. die pad is lank en hard voorentoe! Ons weet, ons stap hom. Wees geduldig met mekaar en moenie opgee nie. Baie sterkte

FM ·

So jammer om die slegte nuus te hoor. Raymond, ek sien jou soms by veilings op Olifantshoek. n Mens kan maar net simpatiseer. Dis seker bitter sleg vir julle, want julle was nie voorbereid hierop nie. Mag die LIEWE VADER vir julle die kalmte gee om dit te aanvaar. Onthou al die goeie tye wat julle van hom gehad het. Sterkte vir julle.

Jean ·

Dit is wat mens noem ‘n fratsongeluk. So jammer oor julle pragtige seun, mens weet nie altyd hoekom die goed gebeur nie. Sterkte in julle tyd van rou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.