Seun uiteindelik vas oor ma se liggaam in puttoilet

Argieffoto (Foto: Tracey Adams/African News Agency/ANA)

ʼn 30-jarige man is Saterdag in die Mariannhill-omgewing in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem in verband met die moord op sy ma.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, het gesê die man sal Dinsdag in die Pinetown-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

Die slagoffer, Ncamisile Zondi (53) van Luganda, KwaZulu-Natal, is op 26 Desember 2020 as vermis aangemeld. Sy is laas op 23 Desember 2020 gesien. “Lede van die gemeenskap het na haar begin soek ná sy as vermis aangemeld is by die polisie,” het Mbele gesê. “Op 29 Desember 2020 het hulle in ʼn puttoilet, op Zondi se erf, begin soek. Hulle het gesien sand is op die werkende toilet gegooi. Hulle het die mure van die toilet verwyder en begin grawe.”

Toe die gemeenskap op klere afgekom het, insluitend beddegoed en ʼn ongewone reuk, het hulle ophou grawe en die polisie ontbied.

“Beamptes van Marianhill het reageer op die oproep en die soek- en reddingspan ontbied. Die liggaam van die vrou is gevind. Sy was steeds herkenbaar. Haar klere het sigbare bloedvlekke opgehad.”

Die tweeslaapkamerhuis, waar Zondi en haar seun gebly het, was gesluit. Beamptes het die deur oopgebreek en in die huis het alles ordelik gelyk, buiten die beddegoed wat verwyder is en in die puttoilet gevind is.

“Volgens die bure het Zondi se langverlore seun ses maande voor haar afsterwe teruggekeer. Die ondersoek het ook bevind Zondi het haar stokvel-uitbetalings ontvang. Sy sou teruggekeer het na Bulwer, waar sy oorspronklik vandaan kom.”

Die seun het voor Kersfees verdwyn en hy het vir die bure gesê hy gaan by EBuhleni in Inanda kamp. Dit was die laaste keer wat hy gesien is.

“Beamptes het ondersoek ingestel, maar die verdagte was nêrens te sien nie. Speurders van Mariannhill het op 20 Maart 2021 inligting ontvang dat die verdagte in Luganda is. Hulle het dadelik reageer en die man in hegtenis geneem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Misky ·

Skandelik!!!! Vermoor jou ma vir n paar rand en waar bring dit hom?

Magda ·

Bring die DOODSTRF terug – jou eie MA, jy verdien niks minder nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.