Seun van struggle-veteraan reageer op private vervolging

Adv. Gerrie Nel en Monique van Oosterhout by die perskonferensie. Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Alexis Bizos, seun van die wêreldberoemde menseregte-advokaat George Bizos, het glo voorheen ook ʼn klag van aanranding teen sy vrou aanhangig gemaak.

Adv. Gerrie Nel en AfriForum het Dinsdag tydens ʼn perskonferensie aangekondig dat hulle Alexis Bizos privaat gaan vervolg. AfriForum het aangedui dat Alexis Bizos sy vrou, Monique van Oosterhout, glo verskeie kere aangerand het, maar die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit het om hom nie te vervolg nie. Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, tree namens Van Oosterhout op.

Hanro Friedrich, Alexis Bizos se regsverteenwoordiger, het in reaksie op die bewerings gesê sy kliënt het in Maart 2015 ook ʼn klag van aanranding teen Van Oosterhout aanhangig gemaak in dié verband.

“My kliënt ontken die bewerings rakende huishoudelike geweld en haar weergawe wat deur AfriForum voorgehou is,” het Friedrich in ʼn verklaring gesê.

“Die NVG het geweier om die saak te vervolg. My kliënt het ʼn beskermingsbevel teen Van Oosterhout gekry nadat al die bewyse aan die gesinsgeweldhof voorgelê is.”

Friedrich het gesê sy kliënt glo die private vervolging is kwelsugtig, betreurenswaardig en spesifiek ontwerp om hom en sy gesin in die verleentheid te bring.

Hy het gesê AfriForum en Van Oosterhout se private vervolging word gedoen vir die rolspelers se eie gevestigde belange, insluitende ʼn dreigende datum ten opsigte van hul egskeiding waarvan sy kliënt die eiser is in die hooggeregshof.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het Dinsdag gesê daar is ʼn vlaag van geweld teen vroue in Suid-Afrika. Bizos en Van Oosterhout is al 23 jaar getroud en sy is glo by verskeie geleenthede aangerand.

Maroela Media het vroeër berig Nel en AfirForum wil Bizos spesifiek vervolg in verband met ʼn beweerde voorval op 16 Maart 2015 waar Van Oosterhout glo so erg aangerand is dat sy ses ribbes gebreek het. Volgens Kriel is Bizos in hegtenis geneem ná die voorval, maar daar is besluit om hom nie te vervolg nie.

Kriel het gesê AfriForum glo in gelykheid voor die reg en het daarom besluit om in te gryp in ’n saak waar ’n geweldenaar teenoor ’n vrou skynbaar nie vervolg word nie, bloot op grond van die feit dat sy pa ’n prominente figuur is.

Benewens die bykomstige viktimisering wat daarmee gepaardgegaan het om die saak by die polisie aan te meld, kon Van Oosterhout ná verskeie interaksies met die NVG nie daarin slaag om die NVG sover te kry om Bizos te vervolg nie. ’n Nolle prosequi-sertifikaat is gevolglik op 11 September 2015 deur die NVG uitgereik.

Volgens Nel het AfriForum opnuut aansoek gedoen vir ’n nolle prosequi-sertifikaat en sal Bizos privaat vervolg word vir aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Van Oosterhout het versoek om nie die media te woord te staan nie. Volgens Nel is Van Oosterhout en Bizos steeds getroud, maar is ʼn egskeidingsproses reeds aan die gang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Gerhard ·

Dit voel vir my asof AfriForum besig is om ‘n glas goeie wyn te geniet terwyl die huis afbrand.

Piet Snot ·

Wat doen jy, Gerhard, om water op die vuur te gooi?
Of kritiseer jy maar net?

Piet Snot ·

Ek kritiseer waar dit toepaslik is. Jy hou jou tog op met sake wat dringend aandag kort. Die lyk eerder vir my na ‘n stokperdjie waarmee die manne hulself besig hou omdat hulle niks het om te doen nie.

Sarel swartbrand ·

Ek stem saam met Gerhard en kon dit self nie Beter stel nie.

Coen ·

Gerhard , jy is doodreg die regering dreig met onteiening sonder vergoeding ,mense word aangehou sonder om borg te kry oor n klompie mense voor n hof betoog ,afrikaanse skole word gekaap en Gerrie Nel vervolg cuchi mugabe of Bizos se seun .My opinie is Solidariteit mors ons lede se geld.

adriana ·

So, gaan daar hierdie keer iets gebeur?
Op is dit maar net ‘n opskrif?

Watwou! ·

Afriforum, julle gaan dan elke vrou of man wat nie geregtigheid ontvang het nie moet verdedig. Ek sou dink julle moet eerder fokus op sake in belang van die land en sy mense. Dit lyk vir my na n heksejag. Mors van lede geld net oor die d skuldige die verkeerde van het

Riaan ·

Stem saam …….plaas dat hy die korruptes en dies meer vervolg………hierdie is in huishoudelike geweld saak….niks met landsake te doen nie……. Sover is Gerrie Nel net i wind bal en het nog geen daadwerklike belangrike vervolgins gedoen nie…. As jy my vra mors hy net hulle geld.

Anoniem ·

Hoekom moet daar wéér aansoek gedoen word vir ‘n nolle prosequi sertifikaat?

OMDAT ·

Omdat jy binne DRIE MAANDE nadat die sertifikaat uitgereik is die persoon moet vervolg wat die dame NIE gedoen het nie as gevolg van finansiele redes.

Danie ·

Die een ding wat al die sake wat Afriforum aanvat kenmerk is dat die teenparty alles in hulle vermoë doen om sake so lank as moontlik te laat sloer. Ek vermoed dieselfde gaan hierdie keer oom met Bizos gebeur. Hulle is almal karperde van dieselfde tuig. Anders as die gewone ou kan Afriforum die vertragingstaktiek hanteer en die golf uitry. Dit maak dit nie saak hoe lank die saak sloer nie, op die ou end moet hulle finaal in die hof verskyn.

christa ·

ek stem saam teen huislike geweld maar is daar nie belangriker mense om te vervolg nie? Zuma, Abraham ens

Boetman ·

Christa, onthou Abraham het net gedreig om sy tienerseun te offer – deur ingryping het hy dit toe nie gedoen nie.

Frikkie Geld en huis ·

Ek wonder wie proeflees MM se berigte. Volgens die eerste paragraaf is Bizos deur sy vrou aangerand en het hy klagtes teen haar ingedien.
Volgens die tweede paragraaf het hy sy vrou aangerand.

OOK "N VROU ·

Dit is nou die grootste belaglikheid waarvan ek nog ooit gehoor het . dat AFRIFORUM hulle nou met huishoudelike geweld bemoei .. GAAN VEG eerder vir EIENDOMSREGTE en grondondonteiening van julle LEDE en landsburgers wat ‘n baie belangriker kwessie is as ‘n man wat sy vrou se ribbes afgeslaan het (en dit nou ontken het) nou is ons besig om huishoudelike geweld aan te pak .. van AKTIVISTE wat hierdie land in die toestand het waarin hy is .. julle raak nou regtig BELAGLIK.

Ronel ·

Om hierdie rede het ek vanoggend my lidmaatskap by Afriforum beeindig. My bydrae gaan nou na my kind se universiteitsfooie, wat hoog is en ons is ongelukkig nie van die genadigdes wat dit gratis en verniet kry nie! Elke gesin moet maar self sy huishoudelike kwessies oplos, ek moes my egskeiding self finansier!

Ag ASB TOG ·

Dit is alles oe verblindery, plaas AFRIFORUM die boere help om hulle grond te behou sit en speel hulle met ‘n model-geselskapsdame wat geslaan is deur Mugabe se vrou, Duduzane Zuma wat nooit vervolg gaan word nie, en huishoudelike geweld tussen ‘n aktivis en sy vrou . agnee regtig .. ek het AL MY VERTROUE in Afriforum verloor. NOU is die tyd dat ons moet saamstaan en veg (deur die reg) vir wat ons s’n is .. nou hardloop ons agter geselskapsdames en vermeende vroueslaners aan …

EIER ·

Hulle gaan agterkom die man en vrou het MEKAAR geslaan dan is daar NOG meer eier op GERRIE se gesig wat die laaste jaar net mooi NIKS uitgerig het nie .. ENGELS/MUGABE saak . enige vordering daar gemaak miskien?

Johann ·

Lyk my Kallie Kriel LIKE van op sy eie kassie staan en aandag trek vie Afriforum? Seker vandat hy Thumi Morake genooi het vir tee wat hy so aandag soek?

HPV ·

Gerrie Nel, ‘n man van sy statuur moet nou huismoles sake doen. Ag nee man!

Joe Hall ·

Ag ja!
En so sal daar altyd ‘n spul klakouse wees wat sal teem oor wat ookal op deeske aarde, deur wie ookal in hierdie droewe land met sy korrupte regime ge-DOEN word. Selfs wanneer dit gedoen word as deel van die stryd om die ongeregtighede van ‘n bevoorregte minderheid aan die kaak te stel.

Met die klem op die DOEN, ipv om aan’t TEEM te gaan

Waarom Bizos en Zuma se kjeenirs deur Afriforum geteiken word, is tog heel duidelik. Dit is deel van die stryd teen ‘n regime se weiering om VERAL die kastige hoi-polloi, hul spul pelle en uitgebreide families te vrywaar teen kriminele en siviele aanklagte wat uit bewysbare oortredings spruit.

Alzo.
Kap hulle Gerrie en vennote!!!

Gerhard ·

Persoonlik dink ek hierdie is geldverkwisting. Daar is BAIE belangriker sake wat aandag geniet.

GELDMORS ·

Terwyl die land brand en die boere in vrees en onsekerheid leef oor hulle eiendom wat met geweld van hulle afgeneem word. REGTIG ons verstaan die politiek agter hierdie sake, hoekom hy sekere mense aanvat, maar ek dink daar is baie belangriker goed waarmee Afriforum en Gerrie Nel hulleself mee besig moet hou .. Ek stem saam met Gerhard dat hier goeie geld GEMORS word waarmee Afriforum in die buiteland vir ons eiendomsreg, menseregte, diskriminasie en onderdrukking kon gaan veg en onderhandel .. nou poer poer ons met gebreekte ribbes van ‘n vrou van ‘n aktivis wat beweer SY het HOM geslaan. Haibo.

christa ·

Plaas dat Afriforum hom bemoei met sake wat van belang is vir die gemeenskap. Gerrie Nel is so goed, plaas hy die parlement/regering skelms aanvat

Stormrider ·

My dierbare vriende, Rome is besig om te brand.
Met wat is Gerrie Nel besig om sy tyd hier te mors? Hierdie tipe sake bevorder mos nie Afrikanerbelange nie?
Daar is duisendmaal groter euwels aan die uitbroei!
Asseblief Gerrie – Sanral, grondonteiening, korrupsie, plaasmoorde – dis tyd om jou briljante brein te begin fokus.
Aktiviste en politieke stryders se huweliksprobleme is mos ‘n klomp nonsens?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.