Seun vas ná hy pa (77) glo met byl doodkap

Argieffoto

ʼn 43-jarige man is in hegtenis geneem nadat hy glo sy pa met ʼn byl in Willowvale in die Oos-Kaap doodgekap het.

Kapt. Jackson Manatha, woordvoerder van die polisie, het gesê die 77-jarige man is Dinsdag in Zintakumbeni in Willowvale dood. Die voorval het omstreeks 03:30 plaasgevind.

“Die dogter van die oorledene het ʼn gil in haar huis gehoor. Die vrou was besig om wasgoed te was by ʼn nabygeleë gemeenskapskraan en het huis toe gegaan om te kyk wat aangaan,” het Manatha gesê.

Volgens Manatha het sy haar vasgeloop teen die verdagte wat met bloed bedek was. “Sy het haar pa in ʼn plas bloed aangetref, hy was reeds dood.”

Die vrou het volgens Manatha die gemeenskap in kennis gestel van die voorval en die polisie is ontbied. “Hulle het die verdagte opgespoor en hom in hegtenis geneem.”

Volgens Manatha is die motief vir die moord nog onduidelik. Volgens hom staan die oorledene net bekend as “Tallman”.

Die seun sal Vrydag in die Willowvale-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Altie ·

Dalk n informele nedersegting as ek na die naam kyk. En wasgoed was by n gemeenskaplike kraan. Dan kan dit maklik 03:30 wees. Hulle moet so vroeg opstaan en met die hand goedjies was voor hulle regmaak vir werk en dalk nog ver stap vir naaste taxi. Ons ken later opstaan en hou in outomatiese masjoen gooi voor die dag begin.
Maar nietemin….dis baie sleg om op dit af te kom. Ai die lewe raak net erger en erger. Nes die Woord dit stel….kinders sal teen ouers opstaan en broer teen broer. Niemand aal meer vor ander omgee nie. Ek sien dit oral om my in ons daaglikse verhoudings ook…..dis n liefdelose era. Soos die oumense gesê het: elkeen vir homself en die duiwel vir die res!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.