Seun vas oor diefstal uit karre by BFN-kerk

Van die selfone wat opgespoor is Foto aan Maroela Media verskaf deur die SAPD

Van die selfone wat opgespoor is Foto aan Maroela Media verskaf deur die SAPD

ʼn 11-jarige seun verskyn Woensdag in die landdroshof in Bloemfontein nadat hy glo selfone uit motors by ʼn kerk gesteel het.

“Die kind sal saam met ʼn 48-jarige man van Nigerië in die hof verskyn wat na bewering ʼn duur selfoon by die kind gekoop het,” het sers. Thabo Litabe, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, in ʼn verklaring gesê.

Die duur selfoon, wat nog nie opgespoor is nie, is op 22 Junie 2014 uit ʼn polisiebeampte se motor gesteel terwyl hy die diens by St Patrick in Bochabela bygewoon het. “Die majoor, wat by die provinsiale kantoor in Bloemfontein gestasioneer is, het die volgende Sondag buite in sy motor bly sit waar hy ander voertuie in die kerk se parkeerarea kon dophou,” het Litabe bygevoeg.

“Omstreeks 10:00 op 29 Junie, het die polisiebeampte gesien hoe ʼn jong seun probeer om ʼn aantal motors oop te maak. Hy het hom genader en die seun het hom na ʼn huis geneem waar hulle drie selfone en ʼn DStv-masjien opgespoor het. Die seun het hom ook na ʼn plaaslike winkel geneem waar nog ʼn DStv-masjien opgespoor is.”

Die man van Nigerië is Maandagoggend by sy selfoonwinkel in hegtenis geneem en word aangekla van die diefstal van ʼn selfoon. Die minderjarige is intussen in sy ouers se sorg vrygelaat.

Litabe sê ʼn aantal klagtes is by die Mangaung-polisiestasie gelê oor diefstal uit voertuie by kerke in die omgewing. “Mense en hul besittings is nie meer veilig nie,” het hy gesê. “Nie eers by plekke wat heilig beskou word nie.” Hy versoek mense om altyd bedag te wees en seker te maak hul voertuie is gesluit en waardevolle items is nie sigbaar nie.

Persone wie se selfone by kerke in Bochabela, Phahameng, Batho en Sports gesteel is, word versoek om lt.kol. Gheshiwe Mananzi by Mangaung-polisiestasie by 082 526 2855 te skakel om te bepaal of van die selfone of DStv-spelers aan hulle behoort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Paul ·

Hoe weet jy dit was nie altyd so nie, Peter?
Net omdat jy vandag van so iets in die media lees, beteken nie dis die eerste keer wat dit gebeur nie.

Dis al van donkiejare af so dat misdadigers jong kinders gebruik om vir hulle steelwerk te doen – die kinders word moeiliker opgemerk en as hulle gevang word, word meer simpatiek teen hulle opgetree.

Dis ook nie net in Suid-Afrika die geval nie – dis die wêreld oor die geval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.