Seun vas oor moord op ouers

Die graf waarin Jeanette Taule (55) se liggaam opgespoor is. Foto: Verskaf.

ʼn Egpaar se 22-jarige seun is Donderdag in hegtenis geneem nadat die liggame van sy ouers vandeesweek deur die polisie aangetref is.

Kapt. Andre Beetge, woordvoerder van die polisie, het gesê die gemeenskap het die polisie omstreeks 14:30 Dinsdag in kennis gestel dat Mountain Sipho Taule (60) en Jeanette Taule (55) langer as ʼn week nog nie deur hul bure gesien is nie.

“Nadat die polisie van Kwadwesi hul huis in Mtistraat om 15:00 Dinsdag besoek het, is daar ook vasgestel dat hul 22-jarige seun nie by die huis was nie.”

Bewyse binne die huis het die polisie vuilspel laat vermoed en ʼn soektog na die egpaar en hul seun is van stapel gestuur. Die gemeenskap in die omgewing het die polisie na die seun help soek.

“Teen 08:25 Woensdag is die verkoolde oorskot van ʼn volwasse man sowat 70 m van die Taule-huis in ʼn oop stuk veld langs die Tyilulwaza Hoërskool aangetref. Forensiese kundiges het ook die moontlik verkoolde beenfragmente aangetref by die huis waar ʼn vuur onlangs gemaak is.”

Foto: Verskaf.

Daar word vermoed dat die beendere daar verbrand en die man se verkoolde liggaam toe in die veld gelos is.

Aanvanklik is vermoed dat die seun verstandelik gestremd was, maar volgens Beetge het speurders hom as op en wakker ervaar tydens ondervraging ná sy inhegtenisneming. Hy het moontlik dwelms misbruik.

Die seun het volgens Beetge teen 19:00 gisteraand erken hy het die moorde gepleeg en het vir die polisie die graf gaan uitwys waar hy sy ma begrawe het. Haar liggaam was nie verbrand nie.

Die seun sal Vrydag voor die New Brighton-landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord.

Die staatsaanklaer sal ook moet besluit of die beskuldigde vir verdere evaluasie gestuur sal moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet Magrietb ·

Kan ons dieselfde tipe media belangstelling vir hierdie saak verwag as vir die klein Van Breda moordenaar? Waarskynlik nie, want hierdie is die eerste wat ek van die saak hoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.