Seun vas oor pa se ontbinde liggaam in bad

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 20-jarige man is in hegtenis geneem nadat sy pa se ontbinde liggaam Donderdag in ʼn bad in sy huis in Rustenburg, Noordwes, opgespoor is.

Sers. Kealeboga Molale, ʼn polisiewoordvoerder van Noordwes, het Vrydag aan Maroela Media bevestig die gru-vonds is gemaak nadat bure ʼn slegte reuk uit die huis in Geelhoutpark opgemerk het. Hulle het die 49-jarige man se familielede geskakel om dit aan te meld.

“Die familie het die polisie ontbied en hulle het saam die huis deursoek en op die liggaam afgekom,” het Molale gesê. Sy liggaam was in ʼn kombers toegevou in die bad. Hy is glo op 6 Junie laas lewend gesien.

Volgens Molale vermoed die polisie die man is drie weke gelede met ʼn skerp voorwerp doodgesteek.

Sy 20-jarige seun is kort ná die man se liggaam opgespoor is, in hegtenis geneem. “Die motief vir die moord is nog nie bekend nie.”

Die oorledene se naam mag nog nie bekendgemaak word nie. Sy seun sal na verwagting Maandag in die Rustenburg-landdroshof verskyn op ʼn aanklag van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.