Seun verdwyn toe hy gaan jag

Die polisie se honde-eenhede van Cradock en Oos-Londen is ingespan om te help soek. Foto: Verskaf

Die soektog na ʼn sewejarige seun het ʼn gelukkige einde gehad nadat hy Saterdag in die Oos-Kaap vermis geraak het terwyl hy saam met ʼn vriend gaan jag het.

Kapt. Mali Govender, polisiewoordvoerder, het gesê die seun en sy vriend het Saterdag in ʼn woud in die Mgwalana-gebied, suid van Peddie, gaan jag.

“Die woud is baie dig en die twee seuns het mekaar in ʼn stadium verloor,” het Govender gesê.

Die seun het hulp by gemeenskapslede ontbied toe hy agterkom sy vriend is weg. Die gemeenskap het dadelik na die seun begin soek. Toe hulle teen 20:00 steeds geen teken van hom kry nie, het ʼn plaaslike raadslid die Peddie-polisie ontbied.

“Die polisie en gemeenskap het byeengekom en verder na die seun gesoek. Vroue het die koue weer trotseer en op die berg gaan sit en bid en angstig gewag vir enige nuus oor die vermiste kind.”

Volgens Govender was die soekgebied onherbergsaam en moes die polisie hul honde-eenhede van Cradock en Oos-Londen inspan om te help soek.

“Die seun se vriend het Sondagoggend een van die soekspanne vergesel en geneem tot by die punt waar hulle mekaar verloor het. Die spanne het verder gesoek en uiteindelik die seun se hulpkrete naby ʼn rivier gehoor.”

Hulle het gaan ondersoek instel en die seun onder ʼn rotsbank langs ʼn rivier gevind waar hy geskuil het.

ʼn Lid van die gemeenskap het in die rivier ingegaan om die kind te gaan haal. Polisiebeamptes het kort daarna by hulle aangesluit en gesorg dat die kind en gemeenskapslid na veiligheid gebring word. Die seun was veilig en ongedeerd en is kort daarna met sy familie herenig.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris van die Oos-Kaap, het die gemeenskap vir hul optrede bedank.

“Die gemeenskap se samewerking was merkwaardig. Dit sou baie moeilik gewees het as hulle, veral die seun se vriend, nie die polisie bygestaan het nie,” het Ntshinga gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

MAL ·

Sewejarige seun wat gaan jag. EK is jammer, maar moenie simpatie by my soek nie, ek is moeg daarvoor dat mense jammer gekry moet word wat verkeerde dinge doen. Op wie se grond het hy gaan jag? Het hy wettiglik gaan jag? Het hy met honde gaan jag, WAT het hy gaan jag? Wie se diere het hy gaan jag? Ek is bly hy is veilig gevind, maar kyk na julle kinders, hou op om sewejariges op JAGTOGTE uitstuur. Vreemd hoe hulle tekere gaan as ‘n boer ‘n sewejarige vra om lemoene te pluk maar ‘n sewejarige mag gaan jag??

Kiepie ·

Ag assblief tog julle. As 7-jarige het ek en my broers, nefies en selfs vriende gereeld in die dorp se meentgronde ‘n entjie van ons huis af gaan “jag” vir hase en voëltjies met ketties. Ons was bra onsuksesvol as ek reg onthou maar het ure se pret gehad en sonder om enige iemand skade te berokken.
Daar is niks in hierdie berig wat vir my sê hierdie kind was met enige iets anders as dit besig nie. Bly hy is veilig gevind.

Sanna ·

Kiepie… daar is n baie GROOT verskil tussen hoe ons land was toe jy 7 was en vandag. Geen kind van 7 behoort enigsins sonder ouer toesig eers buite te speel nie.

ek ·

Kiepie ons leef lankal nie meer in die tyd van toe jy 7 jaar oud was nie!

Hoe laat die kinders se ouers dit toe? Hul is NET 7 jaar oud!

Karma ·

@Kiepie, dit was seker honderd jaar gelede toe jy en jou broers/vriende gaan jag het as kinders! Normale, opgevoede, Westerse mense wat werk vir hul kos, klere en behuising het nie meer vandag se tyd nodig om te gaan jag nie. Ek sê en vra presies dieselfde dinge en vrae as Mal.

Nee Regtig ·

Almal wat nou so aangaan oor die 7 jarige wat gaan “jag” het. Het jy nooit as ‘n kind dinge gedoen waarvan jou ouers nie geweet het nie. Het jy nooit torries gaan skiet met ‘n kettie nie. Het jy nooit gaan speel waar jy nie mag nie. Dan het jy regtig ‘n baie vervelige kinderjare beleef.
Dankie tog hy is veilig gevind

Hannelie ·

Miskien moes die berig net beter geskryf gewees het en spesifiek beskryf het waarmee hulle gejag het. Ek twyfel of dit gewere of windbukse is. Seker ketties of stokke, ons sal nie een weet nie, want dit word nerens aangedui nie. Maar gelukkig is hul veilig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.