Seun vermis ná boot op Hartbeespoortdam omslaan

Argieffoto: NSRI

Argieffoto: NSRI

Die polisie se duikeenheid hervat Maandagoggend ʼn soektog na ʼn seuntjie van Pretoria wat Sondag glo tydens ʼn plesierrit op Hartbeespoortdam in Noordwes verdwyn het nadat ʼn boot omgeslaan het.

Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), is vrywilligers van hul Hartbeespoortdam-tak omstreeks 15:45 na die suidelike deel van die dam naby Eagle Waters-vakansieoord ontbied.

“Na wat verneem word, het ʼn 4,5 meter lange rubberboot ʼn opblaasband gesleep voor dit sowat 300 meter van die oewer af naby die oord omgeslaan het,” het Lambinon gesê.

ʼn Gesin van Pretoria-Noord, ‘n pa en ma en hul twee kinders, die vermiste seuntjie wat in Junie sy tweede verjaardag vier en ‘n 18 maande oue babasussie, het vir die naweek in ʼn nabygeleë woonwapark tuisgegaan. Die gesin het met die boot, wat glo aan vriende behoort, gery. “Die skipper, die seuntjie se ma en drie kinders het voor op die boot gery. Die boot het twee persone agterna op die band gesleep.”

Volgens ooggetuies het die boot ʼn skerp draai in die water gemaak waarna dit omgeslaan het. Almal wat op die boot was, is afgeslinger en vermoedelik het niemand reddingsbaadjies aangehad nie. Die kinders wat op die band was, het nie afgeval nie.

Van die omstanders het mans met ʼn waterponie ontbied om die mense te help, en ander omstanders het die polisie, ambulans en NSRI ontbied. Die volwassenes en die baba is gered, maar daar was geen teken van die seun nie. Daar word vermoed dat hy verdrink het.

Die polisie en NSRI het tot sonsondergang na hom gesoek waarna die soektog weens swak sigbaarheid afgelas is.

Die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoeksaak geopen.

Lees die opvolgberig hier.

Op versoek van die familie het Maroela Media besluit om die kommentaar op beriggewing oor hierdie voorval te sluit, ten einde spekulasie te voorkom. Die familie het onderneem om meer inligting met Maroela Media te deel sodra hulle gereed is om daaroor te praat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.