Seun wat by oord sterf finaal gegroet

Aiden du Toit (10), die seun wat verlede Woensdag by die gewilde Zambibush-oord in die noorde van Pretoria dood is, sal vandag vir oulaas gegroet word.

ʼn Gedenkdiens word om 11:00 in die Lewende Woord-kerk in Brummeria gehou “om Aiden se lewe te vier”.

Maroela Media het vroeër berig  Adrie Smit, Aiden se tannie, het vertel hy was vir die dag saam met sy ma, twee maats en hulle ma’s by Zambibush. “Hulle het die seuns gevat, want dis mos nou vakansie, sodat hulle iets het om te doen vir die dag,” het Smit vertel.

“Hy het sy kop op een van die ritte gestamp – soos ek verstaan is dit ’n nuwe ding wat hulle gebou het. Hy het na sy ma toe gegaan en gehuil en gesê sy kop is seer. Hy het toe begin beter voel en hy en die maatjies wou toe weer gaan, want dit was vir hulle lekker,” het Smit vertel.

Smit vertel hy het toe weer sy kop gestamp en dié keer na sy ma toe gehardloop en histeries gegil: “My kop! My kop!”

“Hy het daar inmekaargesak, sy ogies het begin rol in sy kop en hy het sy bewussyn verloor.”

Volgens Smit word daar vermoed Aiden het werwels in sy nek gebreek en moontlik ook breinskade opgedoen, maar moet die presiese oorsaak van sy dood deur ʼn nadoodse ondersoek bevestig word.

Ao. Johan van Dyk, ‘n polisiewoordvoerder, het aan Maandag Maroela Media gesê die nadoodse ondersoek is intussen afgehandel, maar die uitslae daarvan is nog nie beskikbaar nie. “Ons kan dus nog nie die oorsaak van sy dood bevestig nie. Die uitslag sal eers binne twee, drie, vier maande beskikbaar wees.”

Smit het Aiden as “ʼn absolute nar” beskryf wat altyd almal om hom laat lag het. Sy ma is gebroke, sy neem nog nie alles in nie. Dit was ’n fratsongeluk, Aiden het nie verdrink nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

MRS N ·

My hart gaan uit na die ouers. Dis baie baie seer en niemand sal ooit die seun se plekkie kan vervul nie. Mag God julle bewaar en vrede in julle harte bring. ****BAIE STERKTE****

Deloris ·

Ai my hart is seer en stukkend saam met die ouers…. mag God julle gedin optel en omvou met sy liefde.. ons kinders word net vir ons geleen. Sterkte.

Lizette ·

3-4 maande vir die uitslag?Kan niemand die verslag tik nie?Baie STERKTE aan die ouers!Dit is baie hartseer!

Regtig? ·

Tweede kind in ‘n kwessie van 3 maande by dieselfde plek!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.