Seun wat glo ouers vermoor vir sielkundige waarneming gestuur

Herman Pienaar se Facebook-profielfoto wat hy glo kort voor sy ouers se moord opgelaai het. Dit is intussen weer verander.

Herman Pienaar se Facebook-profielfoto wat hy glo kort voor sy ouers se moord opgelaai het. Dit is intussen weer verander.

Herman Pienaar (35) wat daarvan verdink word dat hy sy ouers in hul huis in Valhalla in Centurion, Gauteng, vermoor het, is vir sielkundige waarneming by Weskoppies-psigiatriese hospitaal gestuur.

Kapt. Agnus Huma, ʼn polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê Pienaar en sy medebeskuldigde, Clinton White (30), het Woensdag in die Pretoria-landdroshof verskyn. “Hy is daarna deur die distriksgeneesheer by die Kgosi Mampuru-gevangenis ondersoek. Die geneesheer het aanbeveel dat hy vir 30 dae lank by die hospitaal waarneming ondergaan,” het Huma gesê.

Maroela Media het vroeër berig Herman sr. (58) en Christine Pienaar (49) is op 27 Februarie by hul huis in Valhalla in Centurion, Gauteng, doodgeskiet. Hul huishulp het die volgende oggend net na 07:00 op hul liggame afgekom.

Pienaar en White is op 1 Maart in Boksburg in verband met die moord aangekeer. Hulle albei staar twee aanklagte van moord in die gesig. Hulle word ook van diefstal en die onwettige besit van ammunisie en vuurwapens aangekla.

ʼn Familielid, wat anoniem wil bly, het aan Maroela Media gesê dat Pienaar na bewering bipolêr-depressief is. Hy het glo twee keer vantevore probeer selfmoord pleeg, en dat die egpaar se ander seun vroeër selfmoord gepleeg het.

Maroela Media het vroeër berig volgens die bron het Pienaar op die dag van sy ouers se moord glo op sy Facebook-blad gesê hy gaan mense vermoor. Hy het glo op dieselfde dag ook ʼn profielfoto gelaai waarin dit blyk dat hy ʼn vuurwapen na die kamera rig. Lees meer hier.

White is Woensdag op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Pienaar moet in April weer in die hof verskyn.

Lees ook:
Seun vas oor ouers se moord
Polisie op soek na vermoorde egpaar se seun

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

sarie ·

Hoekom moet daar altyd sielkundige probleme in kom,hulle het nie sielkundige probleme as hulle die daad doen nie,dan is die kinders normaal,so hierdie is weer n snert storie.As hy nou weer in die hof voorkom,is dit die ouers se skuld,dis hoekom hulle nou weer die rol aan neem van is nie wys nie.Al so moeg om te hoor daar is ‘n sielkunduge probleem.Hy weer nie lus vir ‘n werkie nie en die ouers het dalk ‘n paar rand iewers waarvoor hulle hard gewerk het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.