Seun wat verdrink was ʼn ‘sterk swemmer’

Louis Mc Callaghan-Grobler en sy ma, Marie. Foto: Facebook

Louis Mc Callaghan-Grobler en sy ma, Marie. Foto: Facebook

Die familie van Louis Mc Callaghan-Grobler (19) wat Donderdagmiddag in die Zonderwaterdam in Cullinan verdrink het, het gesê hy was ʼn sterk swemmer wat ure langs die viswaters deurgebring het.

Amanda Grobler, Louis se tannie, het aan Maroela Media gesê die familie weet nog glad nie hoe dit gebeur het dat Louis verdrink het nie. “Hy was ʼn sterk swemmer, so ons weet nie hoe hy in die moeilikheid gekom het nie. Hy was absoluut mal oor hengel en was gereeld langs die viswaters. Dit was sy groot liefde,” het sy gesê.

“’n Nadoodse ondersoek sal nou gedoen word om te kyk of daar dalk iets anders fout gegaan het wat dalk kon veroorsaak het dat hy verdrink het.”

Louis het Donderdagmiddag saam met vyf vriende by die dam gaan hengel toe die voorval plaasgevind het. Kapt. Marissa van der Merwe, woordvoerder van die polisie, het vroeër gesê die Tshwane soek-en-reddingseenheid het ure lank na die liggaam gesoek voordat die polisie se duikeenheid ontbied is om met die soektog te help. Louis se liggaam is kort daarna uit die dam gehaal.

“Hy was so opgewekte kind wat altyd besig was om grappies te maak. As jy net gedink het aan hartseer wees, was Louis klaar daar om jou op te beur,” het Amanda gesê. “Almal wat hom geken het, was mal oor hom. Hy was so geliefd onder sy skoolmaats en sy onderwysers – of jy hom ʼn dag of ʼn jaar geken het, jy het van hom gehou.”

Volgens Amanda was Louis mal oor kook en het hy onlangs ʼn kookkursus voltooi. “Hy het gehoop om eendag ʼn professionele sjef of ʼn professionele hengelaar te word. Dit is waaroor hy mal was.” Louis was die oudste van drie kinders en sou in Desember 20 jaar oud geword het.

Geen begrafnisreëlings is nog getref nie aangesien die familie wag vir die nadoodse ondersoek om afgehandel te word. ʼn Geregtelike doodsondersoek is geopen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.