Seuns aangerand, besteel toe hul Pokémons gaan jag

Foto: screenrant.com

Twee laerskoolseuns is Saterdagmiddag aangerand en van twee selfone besteel toe hulle in Pretoria se Moot-gebied geloop en Pokémons vang het.

Een van die seuns se ma, wat verkies om anoniem te bly om die seuns se identiteite te beskerm, het Maandag aan Maroela Media gesê die seuns, onderskeidelik 12 en 13 jaar oud, het Saterdagmiddag gaan stap toe hulle omstreeks 16:30 aangeval is.

“Hulle was naby die kerk op die hoek van Louis Trichardstraat en 24ste Laan in Rietfontein toe hulle agterkom twee mans volg hulle te voet, met ʼn rooi Ford wat in die straat agter hulle aanry. Die volgende oomblik sê een van die mans: ‘Hey guys,’ waarna een van die aanvallers my seun se maat met sy arm in ʼn wurggreep beetgekry en sy foon afgeneem het,” het die ma gesê.

Haar seun het aanvanklik probeer om hom te verset, maar het die foon wat hy by hom gehad het, wat ook aan sy vriend behoort, laat gaan nadat die verdagte hom met sy plat hand deur die gesig geslaan het. Die mans het daarna in die rooi motor geklim en weggejaag.

Die seuns het hulp van ʼn motoris ontbied, asook ʼn inwoner wat besig was om uit sy erf te ry. Die saak is by die Villieria-polisie aangemeld en positiewe leidrade word ondersoek.

Kapt. Coba Brits, woordvoerder van die Villieria-polisie, het ʼn hernude beroep op die publiek, en veral kinders, gedoen om ten alle tye paraat en bewus is van hul omgewing te wees. Dié polisiestasies is nou betrokke by skole in die gemeenskap en waarsku leerders gereeld om versigtig te wees en veral nie met elektroniese ware oop en bloot in die publiek te stap nie.

“Leerders moet veral versigtig wees in gebiede waar daar gratis WiFi is, soos by skole, en nie selfone, skootrekenaars en tabletrekenaars hanteer as dit nie veilig is nie,” het Brits gesê.

Die ma het gesê albei seuns was geskok, maar is andersins nie ernstig beseer nie. “Al is ons woonbuurt nogal veilig, mag my kinders nie loop en op hul fone speel nie. As ouer wil ek ander ouers waarsku om maar net weer bewusmaking te skep van hoe vinnig so iets kan gebeur. Hulle selfone word sommer uit hul sakke gesteel, al loop hulle nie en speel met dit nie,” het sy bygevoeg.

Pokémon Go is ʼn werklikheidspeletjie op selfone wat geskoei is op gewilde Japanse karakters uit die 1990’s.

Pokémon Go gebruik ʼn foon se GPS en horlosie om vas te stel waar en hoe laat jy jou in die speletjie bevind. Pokémons “verskyn” rondom jou (op die skerm van jou foon) sodat jy hulle kan vang. Namate jy rondbeweeg, verskyn meer Pokémons, afhangend waar jy is en hoe laat dit is. Die gedagte is dat jy jou (werklike) omgewing moet verken om Pokémon te kan vastrek. Dié kombinasie van speletjie en werklikheid staan bekend as aangehelpte werklikheid (augmented reality).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Carine ·

Pokemon is ‘n spelwtjie wat net onder toesig by iets soos “bootcamps” vir leerders gebruik moet word. Kuberkrakers breek die GPS oop en weet presiws waar kinders hul bevind. Ouers moet op hoogte wees en navorsing doen oor watter speletjies op hul kinders se selfone is. Ouers gee te veel skiet wanneer kinders sê “Ag Pa/Ma, dis net ‘n speletjie” Hierdie ouers kan bly wees dir was net die fone wat in die slag gebly het!

Leahim ·

Dit in my area gee asb beter beskrywing was hulle wit , swart hierdie inligting kan lewens red soos die rooi ford watter ford ons het n goeie gevestigde buurtwag wat beter inligting doeltreffend kan gebruik

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.