Seuns by pa voor hy sterf ná vliegongeluk

Abel Pienaar en sy vrou, Marietha. Foto: Facebook via Kitty Hawk Clubhouse Restaurant

Abel Pienaar en sy vrou, Marietha. Foto: Facebook via Kitty Hawk Clubhouse Restaurant

Die twee seuns van Abel Pienaar (64), die man wat gister dood is toe sy vliegtuig op die Kitty Hawk-vliegveld oos van Pretoria neergestort het, was by hul pa toe hy op die toneel gesterf het.

Pienaar was die vlieënier van die vliegtuig waarin hy en Christo van der Wath was voordat dit minute nadat dit opgestyg het sowat 1 km van vliegveld neergestort het.

Dawie Pretorius, bestuurder van die Kitty Hawk-vliegveld, het aan Maroela Media gesê hy het Donderdag gestaan en kyk hoe die vliegtuig opstyg. “Die vliegtuig het bietjie langer as gewoonlik gevat om in die lug te kom, maar dit het nie gelyk of daar enigiets fout was nie. Ek het net gesien nadat hulle opgestyg het dat die vliegtuig nie die regte hoogte bereik nie en laag gebly het,” het hy gesê.

“Naby die vliegveld is ʼn klein heuwel met kragdrade bo-op en hulle het voor die kragdrade probeer omdraai. Ek het gesien hoe die een vlerk na bo wys soos hulle omdraai, toe het hulle vir ʼn oomblik agter ʼn klomp bome verdwyn en die volgende oomblik het die vliegtuig geval en neus eerste die grond getref.”

Pretorius het dadelik na die ongelukstoneel gejaag en was, saam met werkers van die plaas waarop die vliegtuig neergestort het, van die eerste mense op die toneel. “Abel was nog omtrent ʼn uur of so ná die ongeluk by sy bewussyn en het vir ons gesê dat hy baie pyn het. Hy was in skok en kon nie regtig verduidelik wat fout gegaan het nie,” het Pretorius gesê. “Paramedici was ook vinnig op die toneel en het hom probeer stabiliseer, maar Abel is toe op die toneel dood.”

Van der Wath het glo net ligte beserings opgedoen en is per ambulans na ʼn hospitaal vervoer. Volgens Pretorius was hy egter erg getraumatiseerd ná die ongeluk.

Pretorius het gesê twee van Pienaar se seuns was op die toneel terwyl hy nog by sy bewussyn was en kon met hom praat voor hy dood is. Pienaar se vrou, Marietha, het op die toneel aangekom kort nadat hy gesterf het.

“Ons almal hier by Kitty Hawk is regtig net soos een groot familie, so Abel se dood is baie swaar vir ons almal. Hy was bekend as ‘die grapmaker van Kitty Hawk’ en dit is hoe ons hom sal onthou. Altyd vriendelik, altyd opgeruimd en altyd gereed met ʼn grappie,” het Pretorius gesê.

Pienaar het as ʼn ingenieur by AWA Construction gewerk en het as deel van sy verpligtings na bouterreine gevlieg waar hy gewerk het. Volgens Pretorius was hy ʼn baie ervare vlieënier wat jare lank gevlieg het.

Die ongeluk word deur die Burgerlugvaartowerheid ondersoek. Geen begrafnisreëlings was nog teen Vrydag getref nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gesiggie ·

Aan :hierdie mense jul moes n baie hartseer oomblik beleef het, en so magteloos gestaan en toekyk, terwyl als voor jul gebeur…Baie sterkte aan jul deur die moeilikke tyd.

Chris Geldenhuys ·

Rus in Vrede, Abel. Menige male het jy saam met my in my Huurmotor gery as jy in Parys geland het …. hetsy dit vir jou oorlede ma in Sally Maartin Ouetehuis was of vir jou broer in Parys was. Baie Sterkte aan Sy familie. Ek sal jou grappies vir altyd onthou. Baie skokkende nuus !!

Tiger ·

Ons innige simpatie aan die gesin wat deur die’ tragedie getref is.Mag Mnr.Pienaar in vrede rus.

Pieter ·

‘n uur op toneel en toe sterf hy. ‘n uur… Hy moes sekerlik lankal al by ‘n hospitaal gewees het…

Barno ·

@ Pieter, hulle mag nie ‘n pasiënt vervoer as hulle hom nie eers kan stabiliseer nie.

Ons het dieselfde ondervind met ‘n familielid wat in ‘n motorongeluk was.

Tyd ·

Verder dink ek dit het hom darem tyd met sy seuns gegee, as hul hom sou probeer vervoer het, het hul sy laaste oomblikke gemis. Sterkte aan die gesin, dit is ongelooflik hartseer.

Hannelie ·

Baie sterkte aan sy geliefdes, mag jul vrede vind in God se arms.

Liza ·

My innige simpatie aan sy vrou, kinders en ander familie. Mag julle berusting vind. Rus in Vrede.

Josua Keys ·

Dit is nog altyd my begeerte om te kan vlieg, ek doen wel maar radio beheerde vliegtuie, ek verkyk my altyd as vliegtuie oor my huis vlieg dan sien ek myself in die manne se skoene, ek het tot n “Flight simulator” op my rekenaar by die huis en leef my soms so in situasies in en wens ek soms dat ek n vriend gehad het wat ‘n vlieenier was. Nou lees ek van een wat sy lewe verloor het en sink my gemoed terug in my skoene en kry somer n knop in my keel vir die familie en vriende se part. Regtig jammer om van jul tragedie te hoor maar as vertroosting wil ek vir julle sê, dit was die man se passie en sou ook so wou sterf en glo ek dat hy elke oomblik van sy vlieg loopbaan geniet het en kon dit met julle deel, hy is nou op n plek waar geen pyn, smart of hardseer hom ooit weer sal pla nie, sterkte vir die familie en vriende deur die moeilike tyd.

Blinde Sjambok ·

….Josua, as jy die statistieke volg is jou kanse op oorlewing in lugvaart oorweldigend beter as op die grond in jou motor. Moenie vir redes soek om nie jou droom te bereik nie …doen dit net!! My innigste simpatie met Abel se naasbestaaandes …’n ware tragedie, sterkte julle toegewens.

Cherokee ·

Dit klink na ‘n ‘stall’ en ek verwys nie na die enjin nie maar na die romp. Logiese afleiding om te maak is dat hy wou (of klaarblyklik moes) omdraai omdat hy nie hoogte kon wen en daar ‘n koppie met kragdrade voor was, volgens die beskrywing van ‘n ooggetuie.

As hy nie kon hoogte wen nie was daar waarskynlik ook nie genoeg krag om hoogte te hou tydens die omdraai. Die vliegtuig sou dan ‘stall’ (lugspoedstaak) omdat omdraai altyd spoed en hoogte kos tensy hoogteverlies met krag vervang kan word. Die beskrywing maak dit duidelik dat daar waarskynlik geen keuse was nie want dit was die enigste manier om die koppie en kragdrade te vermy.

Dit is altyd hartseer wanneer so iets gebeur. Sterkte aan Marietha en kinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.