Seuns sterf in huisbrand

Argieffoto (pixabay.com)

Argieffoto (pixabay.com)

Twee seuns, onderskeidelik 17 maande oud en vyf jaar oud, is Vrydagoggend in Krugersdorp in Gauteng oorlede nadat ʼn brand uitgebreek het in die huis waar hulle geslaap het.

“Dit is nog nie duidelik hoe die brand ontstaan het nie,” het sers. Tshepiso Mashale, woordvoerder van die polisie, Saterdag aan Maroela Media gesê. “Die twee seuns was in die huis vasgekeer.”

Volgens Mashale het ʼn polisiebeampte verby die huis in Rosenbergstraat in Burgershoop gestap en gesien die huis brand. Hy het die brandweer ontbied en gesien twee kinders slaap in die huis. “Hy moes ʼn venster breek om by die huis in te kom om die brand te probeer blus.” Lede van die gemeenskap het glo die beampte bygestaan om die kinders uit die huis te red.

Mashale het gesê die twee seuns is na die Yusuf Dadoo-hospitaal geneem vir behandeling teen rookinaseming, maar hulle het by die hospitaal gesterf.

Die twee seuns is nie broers nie en albei se ma’s was in die hospitaal by hul kinders. Dit is nog nie duidelik waarom die seuns alleen gelaat is by die huis nie.

“Maatskaplike werkers was op die toneel,” het Mashale bygevoeg. “ʼn Saak van kinderverwaarlosing word ondersoek.” ʼn Geregtelike doodsondersoek sal ook gedoen word.

Die name van die kinders is nog nie bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.