Seuns tuis ná weerlig tref: ‘God is goed’

Ethan Jacobs en Dylan Van Wyk.

Ethan Jacobs (11), een van die twee laerskoolseuns van Potchefstroom wat verlede Donderdag ná hul skool verdaag het deur weerlig getref is, is uit die hospitaal ontslaan.

Riaan Jacobs, Ethan se pa, het aan Maroela Media gesê Ethan is Saterdag ontslaan. “Hy gaan môre vir sy maatjies by die skool hallo sê.”

Jacobs vertel Ethan se gifstoftelling wat Vrydag 1 000 was, was teen Saterdagmiddag 450. “Hulle gaan dit môre weer toets, want dit moet daal tot onder 100.”

Foto: Verskaf.

Ethan kan nou weer klein afstande loop en sy pyn raak ook meer hanteerbaar. “Hy is wel nog baie stil en teruggetrokke, en ruk wanneer hy slaap. Die skool het ʼn sielkundige gekry wat hom gratis sal bystaan,” het Jacobs gesê.

Marilise van Wyk, die ma van Dylan van Wyk (10) wat ook deur die weerlig getref is, het aan Maroela Media gesê Dylan se oë is nog sensitief maar kenners meen dit is normaal en sal mettertyd beter raak. “Daar is amper geen merke van sy brandwonde oor nie, die velkleur verskil net. As ek hoor ander mense oorleef dit nie en die twee het so goed daarvan afgekom … wow, God is goed!” het Van Wyk gesê.

Van Wyk het aan Maroela Media vertel albei seuns het op dieselfde plekke in hul hare ʼn streep gebrand. “Ek wou nie al sy hare afskeer nie, toe kry Electroman maar ʼn weerligstraal! Ethan hou ook baie daarvan, so ons sal vir hom ook ʼn weerligstraal skeer.”

Albei seuns gaan eers in 2018 weer terugkeer skool toe.

Maroela Media het vroeër berig die seuns was op pad na ʼn naskoolklas by die Laerskool Bailliepark toe die voorval plaasgevind het. “Toe Ethan by ʼn boom kom, wou die ander maatjie terughardloop, en toe slaan die weerlig. Soos ek verstaan, het die straal die grond geslaan en hulle van onder af getref,” het Aletta Myburgh, Ethan se ma, vroeër vertel.

Volgens Van Wyk het Dylan tans korttermyn-geheueverlies. “Hy onthou net so stuk-stuk wat gebeur het. Ethan was volgens hom onder die boom – hy het na hom geloop om hom te waarsku hulle moenie onder die boom staan nie, toe die straal tref.”

Dylan van Wyk. Foto: Verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Genieve ·

Dis baie goeie nuus en ja wonderwerke gebeur nog as ons glo.

OumaLien ·

Ek is so dankbaar dat hulle albei oorleef het, daar is nie baie mense wat dit kan sê nie. Wonderwerke gebeur nog want God is groot!

CG ·

Klink na n wonderlike skool. Klink na wonderlike ouers en wonderlike kinders – dink jou aan , geniet dit nou om ‘n weerlig haarstyl te he! ‘ n Wonderlke storie. ‘n Wonderlike God!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.