Seuns verdrink op bouperseel

Een van die gate vol reënwater. (Foto: SAPD)

Die polisie in Noordwes doen ’n geregtelike doodsondersoek nadat twee seuns by ’n bouperseel in die omgewing van Makwassie buite Wolmaransstad verdrink het. Die twee het glo saam met ’n groep maats in gate vol reënwater gaan swem.

Volgens die polisie het die voorval Dinsdag omstreeks 11:00 by ’n bouperseel buite die Lebaleng- informele nedersetting plaasgevind.

Lt.kol. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie, sê in ’n verklaring sewe seuns, almal tussen die ouderdomme van agt en tien jaar oud, het die betrokke oggend die water in die gate gesien en besluit om daarin te swem.

Twee van die seuns het egter in die moeilikheid beland en verdrink. Hulle was onderskeidelik agt en nege jaar oud.

Volgens Funani het die ander seuns opgemerk dat twee van hul maats onder die water verdwyn het, waarna een van die seuns na die informele nedersetting gehardloop het om hulp te ontbied.

Die seun het ’n polisievoertuig voorgekeer en die polisiebeamptes het na die toneel gehaas. Polisieduikers is ook ontbied en die liggame van die twee seuns is uiteindelik uit die water gebring.

Die polisie doen opnuut ’n beroep op veral ouers en voogde om hul kinders te waarsku om nie in damme, riviere, dongas of steengroewe te swem nie, aangesien die water nie helder is nie en moontlik baie diep en gevaarlik kan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anel ·

11:00 die oggend gaan swem! Moes hulle nie in die skool gewees het nie?

Scalla ·

As ek so na die foto kyk lyk dit eerder na n lekplek op n pyp en wat uitborrel en nie reenwater nie!!!

Moedeloos ·

Hul moet ondersoek gaan instel by die skool hoekom is hierdie kinders se ouers nie ingelig dat hul nie by die skool opgedaag het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.