Seunshuis by Louis Botha-kinderhuis in brand vernietig

‘n Brand by die Louis Botha-kinderhuis het een van die seunshuise in puin gelê.

ʼn Brand by die Louis Botha-kinderhuis in Pretoria het groot skade aan een van die seunshuise aangerig.

Die brand het Maandag laatmiddag op die boonste verdieping in een van die seunshuise by die kinderhuis in Queenswood uitgebreek.

“Groot skade is aangerig maar genadiglik is niemand beseer nie en die seuns kon saam met hul huisouer in ʼn ander huis op die perseel geplaas word,” het Charlene Grobler, uitvoerende hoof van die Louis Botha-kinderhuis, gesê.

Die brand het in ʼn 18-jarige seun se kamer uitgebreek. Die seun het al sy besittings in die brand verloor en benodig onder meer ʼn bed, skoolklere en toiletware.

“Behalwe vir die brandweer wat op die noodroep gereageer het, het die plaaslike GPF en trauma-beraders hulp op die perseel aan die 12 seuns verleen. Die nodige ondersoek word tans gedoen en die bevindings sal mettertyd na afhandeling daarvan met die kinderhuis se bestuur bespreek word.”

Volgens Grobler het die gemeenskap onmiddellik opgetree en gehelp om ʼn lys van behoeftes wat opgestel is te begin insamel.

“Die kwartaallikse staatsubsidie dek slegs sowat 43% van die kinderhuis se uitgawes. Vir die verskil leun ons swaar op die gemeenskap om ons eie standhoudende projekte aan te vul. Hierdie brand-voorval plaas bykomende finansiële druk op die kinderhuis met uitgawes waarvoor daar nie begroot was nie en hulp in die verband is broodnodig.”

Die Louis Botha-kinderhuis is ʼn geregistreerde kinderhuis wat met die Jakaranda-kinderhuis in East Lynne geaffilieer is en versorg skoolgaande kinders wat deur die Kinderhof in hul sorg geplaas word.

Volgens Grobler het elke huis ʼn toegewyde huisouer wat na tien tot 12 kinders in sy of haar huis omsien. “Behalwe vir die normale behoeftes wat aandag kry, word mediese sorg en terapie asook daaglikse vervoer na en vanaf 23 verskillende skole voorsien.

“Dit is die kinderhuis se doelwit en elke strewe om die kinders in hul sorg se potensiaal, optimaal te ontwikkel en die kinders tot so ʼn mate toe te rus, dat hulle eendag in hul onderskeie gemeenskappe, ʼn positiewe verskil kan maak. Dit kan slegs vermag word met die positiewe, standhoudende ondersteuning van die gemeenskap, wat tydens hierdie ontstellende voorval, weer eens bewys is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

George ·

Hoekom brand dit altyd so by kinderhuise? – ernstige vraag, voel of elke jaar daar n brand by n kinderhuis ontstaan.

Leona ·

Sterkte julle! Dankie dat julle sorg vir ons kosbare kinders

Leeubekkie ·

Sterkte aan julle almal. Dankie vir jul liefdevolle sorg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.