Seuntjie (4) brand erg op kleinhoewe

Graham van Heerden se wonde word behandel. Foto: Verskaf.

Graham van Heerden se wonde word behandel. Foto: Verskaf.

Graham van Heerden, ʼn vierjarige seun van Bronkhorstspruit oos van Pretoria, het verlede week erge brandwonde aan sy bolyf opgedoen terwyl hy op ʼn kleinhoewe, waar sy gesin pas ingetrek het, gespeel het.

Sy ouers, Jolandi van Heerden (27) en Derick Roos (36), het aan die begin van die maand na die kleinhoewe buite die dorp verhuis.

“Die gras is nog lank en daar is baie van die vorige inwoners se goed wat nog rondlê,” het van Heerden Woensdag aan Maroela Media gesê.

Graham het verlede Woensdag buite die huis gespeel en êrens ʼn aansteker opgetel. Hy het daarmee begin speel en per ongeluk sy langmou nylon-hempie aan die brand gesteek.

“Hy het huilend na my toe gehardloop. Die hemp het nog gebrand en die vlamme was naby sy nek toe ek die hemp van sy lyfie afgeruk het.”

Van Heerden en Roos het vir Graham na ʼn nabygeleë kliniek gehaas met brandwonde aan sy maag, bors en linkerarm. Daar het ʼn verpleegster glo ʼn oliemiddel en salf op die wonde gesit, dit verbind en die seun huis toe gestuur met stroopmiddel vir pyn en ʼn ligte antibiotika. Die paartjie is aangesê om Graham weer Vrydag daarheen te neem.

Van Heerden het gesê sy moes geld leen om vir Graham ʼn beter pynmiddel te koop, aangesien die stroop nie sterk genoeg was nie. “Graham het ʼn ouer sussie, Robyn (5), en hy is die woeligste van die twee. Nadat hy gebrand het, het hy begin koors kry en hy kon nie slaap nie. Hy het net stil gesit en wou nie eet nie.”

Graham is weer Vrydag na die kliniek geneem waar dieselfde oliemiddel en salf glo gebruik is om op sy wonde te sit. Hy is daarna weer huis toe gestuur met instruksies dat Van Heerden Sondag die wonde moet oopmaak en versorg.

Toe Van Heerden Sondagaand die wonde oopmaak het sy gesien dit het begin septies raak op plekke.

Roos het Maandag foto’s van die wonde aan kollegas by die werk gewys en raad gevra, waarna sy kollegas geld ingesamel sodat Graham na ʼn plaaslike dokter geneem kan word. Die dokter het die wond weer behandel en verbind, en antibiotika voorgeskryf.

Intussen het Graham se verhaal onder die aandag van Hero Burn Foundation, ʼn nie-winsgewende organisasie wat ondersteuning bied aan en omsien na brandslagoffers, en South African Family Relief Project gekom.

Annerie du Plooy, die direkteur van die Hero Burn Foundation, het Woensdag aan Maroela Media gesê Graham is aangeneem as een van die organisasie se helde.

Die organisasie het gereël dat Graham Dinsdag na ʼn dokter geneem is wat spesialiseer in brandwonde en waar behoorlike brandwondsorg toegepas is.

“Dit gaan vandag al klaar beter met hom. Hy slaap weer normaal en het gister weer begin om goed te eet, trouens, hy wil nie ophou eet nie. Die kleur in sy gesiggie is ook weer normaal,” het Van Heerden gesê.

Graham se pad na herstel is egter nog lank. Dit kan hom ses tot agt weke duur om ten volle te herstel.

Hero Burn gaan die gesin bystaan en poog dat hy die beste produkte ontvang om sy brandwonde mee te behandel. Mense wat die organisasie finansieel wil bystaan en sodoende help dat Graham die beste behandeling ontvang, kan die bankbesonderhede hier kry. Gebruik “Van Heerden” as ʼn verwysing.

“Ek het al moed opgegee met die mensdom, maar is nou verras om te sien hoe baie mense omgee ná alles wat gebeur het. Hero Burn en Family Relief is baie behulpsaam. My verloofde se kollegas, in besonder oom Jacques en sy vrou Karin, is ook ware engele, asook almal wat ek nie eens ken nie, wat boodskappe van bemoediging stuur,” het ʼn dankbare Van Heerden gesê.

Du Plooy het gesê dit is verstommend om te sien hoeveel mense ingespring het om Graham tot dusver te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Elfie ·

Oliesalf op brandwonde klink net totaal verkeerd! Watter kliniek is dit die dat mens kan wegbly daar! Ek voel die kliniek moet ook aangespreek word vir verkeerde behandeling, alla wêreld! Sterkte ou seuntjie, hoop jy wod baie gou gesond!

H ·

Weet nie hoekom het mense kinders as hulle nie eers ordentlike mediese behandeling kan bekostig nie….. wat van die toekoms, kinders kry seer en word siek!!! Pateties.

nig ·

H – ja, nogals waar. En aanstekers wat “rondlê”? Jammer vir die kind maar ouers wat nie medies het en gevaarlike goed laat “rondlê”… kinders sal JUIS met sulke goed speel.

S ·

H – nie almal kan medies bekostig soos jy seker het nie. Nie almal kry derduisende rande salaris soos seker jy nie. Ek is ‘n enkel ma met 2 kinders. Ek het nie medies nie. Moet maar kinders kliniek toe ook vat. Wees maar versigtig wat jy sê.

Nig – lees die berig reg asb:
““Die gras is nog lank en daar is baie van die vorige inwoners se goed wat nog rondlê,” het van Heerden Woensdag aan Maroela Media gesê.

Graham het verlede Woensdag buite die huis gespeel en êrens ʼn aansteker opgetel. Hy het daarmee begin speel en per ongeluk sy langmou nylon-hempie aan die brand gesteek.”
Dis nie die ouers wat die aansteker laat rondlê het nie.

Tinus ·

Verbeel ek my of sien ek ‘n tattoo op die mannetjie se bors? Jek!

Ghia ·

Ek skaam my! die klein mensie het brand wonde en jy sien ‘n tatoo daarin? al gehoor van miljoeners wat bekrot verklaar word? Dieselfde met ouers wat kinders kan bekostig en dinge loop daarna skeef – of het ons gerieflikheids halwe vergeet van wit mense wat nie kan werk kry as hulle ge-‘retrench’ is nie? hou op kritiek lewer en help jou naaste!

Marisa Deetlefs ·

H jou kommentaar val nie vir my baie lekker op die oor nie – gaan op jou knieë en sê dankie dat jy nog nooit gesukkel het met geld nie. Om vandag ‘n mediese fonds te hê is net nie vir almal moontlik nie! Julle spreek darem vreeslik maklik oordeel uit! Ek is net dankbaar dit is behandel en hy sal oraait wees!

Hez ·

Tinus, watter kind het op die seuntjie se ouderdom ‘n Tattoo? Nog nooit gesien… Word wakker asb!

Katvis ·

Tatoeërmerk- Waar??? Probeer gerus die naaste oogarts- dit kan net tot voordeel wees!

Annemarie Basson ·

Tinus, is jy altyd so onnosel of net op sekere dae???

Lindie Lourens ·

Sies julle! Die man sê dan daar lê nog baie van die vorige eienaar se goed rond. Tinus, kyk bietjie nader… dis die aaklige brandwonde. Kyk die seer in sy ogies- wie se skuld dit ook al mag wees. Word gou weer heel, Kleinding.

Marinda ·

Tinus kan jy nie sien dit is brandwonde nie. Wat se Jek is dit. Mense hoekom moet ons kritiek lewer op ander mense. Die kind het onskuldig seer gekry. Almal kan nie medies bekostig. Hoeveel van julle wat nou so maklik kritiek lewer, het medies. Help eerder met ‘n bydrae om die kind te behandel, as om afbrekend te wees.

Hez ·

Ek stem volkome saam met “H” & “Nig”. Mens mag nie oordeel nie, maar sowaar! Dit gaan my verstand te bowe hoe mense kinder (s) het en nie in hul basiese behoeftes kan voorsien nie. Mediese-voorsorg is, NES Polisse uiters noodsaaklik! Maak mens woedend!

Ghia ·

Ek sal rustiger slaap as my kind in die aand ‘n bord kos het en nie medies nie, anders as nie die ander kant toe. Mens doen die beste wat jy kan en kinders eet elke dag ‘n paar keer maar het nie elke dag medies sorg nodig nie.

susan ·

Hez an Tinus. Sê dankie as julle nog net voorspoed en geluk in die lewe geken het. Hierdie pragtige seuntjie het nie julle kritiek nodig nie , Bid liewer vir spoedige herstel en voorspoed vir die familie.

Nina ·

Mense wat kots oor ander sonder om eers te dink, maak my woedend! 10 uit 10 vir elkeen wat die gesin nou afgekraak het. Julle is ysters!

Skatjie, hierdie tannie hoop jou eina is sommer gou gesond!

Josiah ·

Hez, jy steur jou nie juis aan wat mense skryf nie, ne? Enige een (ook jy!) kan in finansiële moeilikheid kom. Wat weet jy oor die mense? Wat met hulle dalk gebeur het dat hulle nie genoeg geld het vir mediese versorging nie?
Wat sou met die arme kind gebeur het as daar nie sulke barmhartige mense was wat bereid en in staat is om te help in plaas van te oordeel nie.

pop ·

En dan wonder ons hoekom dit sleg gaan met die wittes. Want julle kan slegse en klippe gooi en GROOT balke in ander se oe kry. Ek kry soms so skaam om wit te wees, rerig. Daai is n klein seuntjie, hyt pyn en sowaar, klim net van julle pedestals af. Wens ek kon nou vir Tinus en Nig en H en Hez in hulle mmmm”e in vloek

Ina ·

Ka nie verstaan hoe mense klippe kan gooi as hulle nie die omstandighede altyd weet nie. Ons kon ook baie dinge bekostig toe ek swanger was met my seun. My man het sy werk verloor, en was vir teee jaar sonder werk. Weet mense hoe lank dit vat om weer op jou voete te kom daarna?? Wat van die kind wat beplan was toe alles nog goed gegaan het. Ons was op medies. Het tien jaar gesukkel om my seun wat nou outistsies is uit te sorteer op medies met privaat dokters. Moes bedank om my kind te ondersteun. Nou na ses maande by Steve Biko hospitaal is hy uitgesorteer. Nee regtig mense dinge kan nie altyd met geld reg gesien word nie. Kinders kos geld ek weet dit maar wat het geword van ons geloof in God om te voorsien. Mens gooi ook darem nie net jou kind weg as dinge nie meer so goed gaan finansieel nie

Naas ·

Wil net gou daai spul vra as jy n goeie pos beklee en die dag breek aan dat hul jou laat loop is daar n plek waar jy die kinders kan terug gee want toe dit goed gegaan het kon jy dit bekostig. Mmm julle kan sien daar is mense wat nog nie swaar gekry het in hul tyd nie

Gert van der Merwe ·

Tinus en H van 25 Maart se kommentaar. Jek vir julle twee. Skaam julle nie om julle suid afrikaners te noem nie? As jull dan so ooglopend wil “brag” met julle baie geld, doen dan n goeie daad en doneer van dit vir daai pragtige seuntjie se herstel. Of dit stel jou seker tevrede dat jou inkomste geld vir 20,000 buite egtelike skool meisies gebruik word om hulle te onderhou. Ek self het n baie goeie mediese fonds vir jare al nou. Ek het goeie voorsorg vir my getref. Maar mediese fondse word nou onbekostigbaar duur, Ek self sukkel as pensionaris om R3500 per maand daarvoor te betaal maar ek kla nie en het nog n donasie vir die mannetjie gemaak uit gevoel dat ek bevoordeel is om n mediese fonds te kan he. Ek daag jou uit doen dit ook

Maronel ·

Tinus kort dalk brille. En my kinders het gereeld “tattoos” op hul lywe gehad. Die wat hul sommer self kan afwas. Niks fout daarmee. Al tattoo wat ek sien is tat-one en tat-two. En vandag groot sonder enige tattoos. As daar was, is dit tipies kind.

Sollie ·

As mens redelike kommentaar lewer word dit of afgehaal of gemodereer tsk tsk

antonie ·

Voorwaar se ek vir julle moenie oor die anc, die swart gevaar of enige iets anders bekommerd wees nie. Wanneer ek hierdie kommentaar lees vrees ek my mede afrikaners hulle sink alles en almal wat nie so briljant slim en welaf soos hulle is nie

Dave ·

Netjies – dan weet jy waar om volgende verkiesing te stem. Jy hoort by die DA of ANC.

HEVW ·

Tinus jy verbeel jou, maar ek veerbeel my nie dat jy sielloos is nie.

Daizy ·

Ek dink nie dit is tatoeëermerke op sy borsie nie. Dit is gebrande vel wat wit geword het van die olie wat op gesit is. Ons bid dat dit gou sal genees.

Neptunus ·

Dis sommer louter nonsens dat so iets plaasvind. Mens voel werklik jammer vir die arme kind. Hy’t nie gevra om gebore te word nie. Of dat sy ouers hom as ‘n vierjarige toelaat om rond te hardloop op ‘n plot sonder behoorlike toesig “waar die gras nog lank is en daar baie van die vorige inwoners se goed nog rondlê”. Wat as daar slange in die ruigte was, of hy in ‘n ou yskas versmoor het, gif gedrink het of deur ‘n booswig ontvoer was? Word wakker mense, as jy nie behoorlik toesig jou kind kan uitoefen nie, moet dan liewer nie kinders hê nie. Veral nie as jy nie ‘n mediese fonds het nie. Basta met die res, ek gee nie vir julle “moenie oordeel nie”-koor nie. Ons praat hier van kinders, nie een of ander troeteldier nie. Iemand behoort die welsyn te stuur om te gaan kyk of alles in die haak is.

Alet ·

Word gou gesond klein mannetjie en sterkte aan die ouers. Sulke ongelukkies gebeur of jy medies het of nie. In elk geval is vandag baie van provinsiale hospitale net soos goed soos privaat hospitale. So what. Dit gaan nie oor die medies nie maar die persoon wat die brandwonde hanteer het van die begin af wat moet aangespreek word.

snip ·

Goeiste, om hierdie kommentare te lees maak mens naar ek stem saam met Pop en Antonie, saamstaan onder wit bestaan nie, Dave is n goeie voorbeeld daarvan, hy dink ook net so ver soos Tinus. Medies of nie medies, n kind het liefde en aandag nodig. Almal wat kinders het weet goed hoe gaan, dis onmoontlik om so opgewonde outjie wat uit sy vel is oor sy nuwe blyplek binne te hou. Ja, goed het rond gelê, maar op die oog af het niks seker gevaarlik gelyk nie. Wie van ons is sonder foute, ons elkeen maak dit net op n ander gebied en vlak. Ek glo hierdie is n baie goeie ma, vol liefde en omgee vir haar seuntjie en ek is dankbaar dat daar mense en instansies is wat uitgespring het en hulle nou help. Mag die mannetjie sommer gou beter voel.

Gina Slabbert ·

Mense is gou om die welsyn uit te stuur? Genade man, dit was n ongeluk. n ma se oe kan nie orals wees met 2 kleuters nie en dit nog by die intrek. Julle wat so veroordeel sal wel veroordeel word. Los dan eerder gesin uit sodat hul kan aangaan met hul lewe. Hul het gevra vir hulp en nie om gestenig te word nie. Plaas dat almal wat wit is die gesin by staan maar nee..Nou wonder ek net weer hoekom is ons land in so gemors—dis deur sulke mense wat eerder wil klippe gooi teennoor hul eie nasie. Nee man dis nou tyd om bymekaar te staan. More is dalk te laat

Neptunus ·

Hou op om mense te steun bloot omdat hulle WIT is. Die seuntjie verdien die beste mediese hulp wat hy kan kry, natuurlik. Gaan loer gou op die ma se FB-blad, daar is foto’s waar die arme seun as baba al met aanstekers speel! Soek vir “Jolandi V Heerden”. Nee wat, meeste kommentators hierbo illustreer perfek hoekom ons “volkie” nie homself aan sy skoenrieme gaan kan optrek nie. Daar was nog altyd behoeftige Afrikaners, maar die mense van die ou tyd het nie alles en almal blameer nie maar skouer aan die wiel gesit.

sproetjies ·

Genade! Wil almal wat so kritiseer nie net ‘n bydrae maak tot Hero Burn Foundation & Family Relief nie. Mediesefondse is peperduur en allle mense is nie in die posisie om dit te bekostig nie.
‘n Goeie leuse vir al die kritiseeders is dalk: Leef en Laat Leef. Dit is baie beter om brue te bou as om dit af te brand. Sterkte aan die Van Heerden gesin. Spoedige herstel vir klein Graham.

Maronel ·

Neptunus, ek sien nie dat hy met aanstekers ”speel” nie. Tipies baba. Alles gaan mond toe want die tande jeuk. Lyk dit vir jou of hy dalk ‘n vuurtjie wil aansteek??? Belaglik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.