Seuntjie brand erg: ‘Ons kort net gebede’

Logan Barnard (5). (Foto: Facebook)

ʼn Vyfjarige seuntjie se ouers waak langs sy hospitaalbed nadat hy die naweek ernstig gebrand het in ʼn fratsongeluk by die gesin se huis in Mountain View in Pretoria.

Logan Barnard se gesin het reggemaak vir hul gebruiklike Saterdagbraai. Ma Chanie het by die swembad gesit en lees, pa Chris het buite by die tafel gewerskaf en ousus Mira (12) het met die honde rondgespeel.

“Logan het houtjies reggepak vir die vuur toe ek skielik ʼn vreeslike hitte agter my rug voel en hom hoor huil. Ek het gesien sy lyfie het heeltemal aan die brand geslaan,” het Barnard gesê.

Hulle het die seuntjie inderhaas in die swembad gedompel om die vlamme te blus en met hom na die Eugène Marais-hospitaal gejaag.

Klein Logan het vermoedelik petrol vir die grassnyer uit ʼn kan in sy handjie uitgegooi en dit het vlamgevat toe hy dit oor die vuur wou gooi, het Barnard gesê. Hy het vermoedelik kort tevore op die motor se enjinkap geklim om die petrolkan self by te kom.

By die Eugène Marais-hospitaal is Logan gestabiliseer en daarna met ʼn lugambulans na die Garden City-hospitaal in Johannesburg geneem.

Sy een long het platgeval en is erg beskadig. Sy niere het in ʼn stadium ook gesukkel. Logan se bloeddruk is egter een van die grootste bronne van kommer – dit styg en daal geweldig.

Logan se gesig het gebrand, asook ook ʼn groot gedeelte van sy regterarm en hand. Daar is ook brandplekke op sy ander arm en een been. Hy word steeds onder sterk verdowing gehou.

“As ons met hom praat, ruk sy lyfie. Ons mag glad nie aan hom vat nie. Hy is baie geswel – sy handjie en sy lippe – maar die dokter sê dit is normaal. Hy gaan môre weer teater toe sodat hulle die wonde kan ondersoek en om moontlik weer kunsmatige vel op te sit,” het Barnard gesê.

Die egpaar woon tydelik by familie in Midstream en pendel elke dag van daar na die hospitaal. “Ons is soveel as moontlik by die hospitaal,” het sy gesê.

Sy het gesê die personeel daar sien uitstekend om na Logan. “Hulle kyk na hom asof dit hulle eie kind is.”

Chris kan van die hospitaal werk, maar Chanie sê hoewel haar werkgewer in dié stadium baie tegemoetkomend is, vrees sy dat sy moontlik haar werk gaan verloor.

“Ek kán nie my kind los nie.”

Barnard het gesê Logan is veral snags onrustig wanneer sy ouers nie by hom is nie.

“Ek vat aan sy handjie, ek soen dit, of ek streel sy haartjies. Ek moet net ʼn bietjie aan hom ráák. Dis al wat ons kan doen.”

Mira woon intussen by haar grootouers, maar vra deurlopend hoe dit met haar boetie gaan. Sy is ʼn leerling aan die Laerskool Saamspan, terwyl Logan by die skool se kleuterskool, Krulletjies en Kuifies, ʼn leerling is. Die skool ondersteun haar geweldig baie, het Barnard gesê.

Honderde mense het ook boodskappe van bemoediging aan die gesin gestuur en Barnard het gesê hulle het ʼn fantastiese ondersteuningsnetwerk van vriende en familie.

“Ons is oukei. Ons kort net gebede.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

31 Kommentare

jongste oudste gewildste
Joey Campher

Sterkte julle is in my gebede…..

Alida

Ek bid vir julle, vertrou op Die Here en Hy sal voorsien. Hy is lief vir al Sy kinders. Julle gebede sal verhoor word.

Renee

Op al. My gebefsgroepe gesit. Speel audio Bybel genesings versies laat hy dit hoor. Dit gaan baie help. Sterkte.

Mossie

Ongelukke gebeur! Baie sterkte, ons bid vir genade en herstel.
Mense moet asb tog daarop let om nie iemand wat besig is om te brand met water te blus nie, dit veroorsaak groter skade. Ek weet n mens skrik en jou 1st reaksie is om water te gebruik. Skaf asb brandgel of burning gel aan en soos in die geval van die berig, smoor die vlamme met n handoek of op die gras/grond deur te rol. Die vel tel groter skade op deur water te gebruik.

Marinda

Sterkte en behou julle geloof.

Die swelling sal metertyd verdwyn. Sy lyfie moet nou eers weer genees. Hou net moed. Ons bid vir hom en julle. Wees net rustig en geduldig
(onthou Rome is nie in eendag gebou nie) en wees sy mamma en pappa. Laat hom weet julle is daar.