Seuntjie maand ná hy brand weer tuis: ‘Dis ’n wonderwerk’

Logan Barnard (5). (Foto: Facebook)

“Ek is só verlig. Elke oggend wanneer ek hom sien, is ek dankbaar dat die kind nog leef.”

Só het Chanie Barnard Dinsdag aan Maroela Media gesê nadat haar vyfjarige seuntjie, Logan Barnard, tot haar en medici se verbasing die afgelope naweek uit ʼn hospitaal in Johannesburg ontslaan is.

Klein Logan het sowat ʼn maand gelede ernstige brandwonde aan sy gesig asook ʼn groot gedeelte van sy regterarm en hand in ʼn fratsongeluk by die gesin se huis in Mountain View in Pretoria opgedoen.

Daar was ook brandplekke op sy ander arm en een been.

Chanie erken dat sy haar tóé daarop voorberei het om baie lank langs haar seuntjie se hospitaalbed te waak, maar Logan het elke dag beterskap getoon en Sondag is hy ontslaan om verder by die huis aan te sterk.

“Dit is ʼn wonderwerk. Die susters is ook baie verbaas oor sy herstel. Daar is susters wat hom ʼn week ná hulle hom glad nie gesien het, nie kon herken nie.”

Sy vertel dat Logan se wonde byna heeltemal herstel het en vir eers is dit net nodig om ʼn salfie aan sekere plekke te smeer.

Die kleuter het wel nog tuisversorging nodig en Chanie sal vir ʼn onbepaalde tyd by hom tuis bly.

“Hy kom mooi reg by die huis. Hy sukkel om te stap en ons gaan hom volgende week na ʼn neuroterapeut neem as dit nie dan beter gaan nie.”

Logan sukkel ná die ongeluk ook om te praat en sal na ʼn sielkundige geneem word sodra sy spraak verbeter.

Chanie verduidelik dat daar vir eers op Logan se stimulering gefokus word. Hy sal eers na ʼn speelgroepie gaan voordat hy eindelik terug skool toe sal kan gaan.

Hoewel die hospitaalpersoneel die afgelope maand baie goed vir die Barnard-gesin was, is dit baie lekkerder by die huis, erken Chanie.

Maroela Media het vroeër berig die gesin het die betrokke dag in Augustus gereedgemaak vir hul gebruiklike Saterdagbraai toe die fratsongeluk plaasgevind het.

“Logan het houtjies reggepak vir die vuur toe ek skielik ʼn vreeslike hitte agter my rug voel en hom hoor huil. Ek het gesien sy lyfie het heeltemal aan die brand geslaan,” het Barnard voorheen gesê.

Sy ouers het die seuntjie inderhaas in die swembad gedompel om die vlamme te blus en met hom na die Eugène Marais-hospitaal gejaag.

Logan het vermoedelik petrol vir die grassnyer uit ʼn kan in sy handjie uitgegooi en dit het vlam gevat toe hy dit oor die vuur wou gooi. Hy het vermoedelik kort tevore op die motor se enjinkap geklim om die petrolkan self by te kom.

By die Eugène Marais-hospitaal is Logan gestabiliseer en daarna met ʼn lugambulans na die Garden City-hospitaal in Johannesburg geneem.

Sy een long het platgeval en is erg beskadig. Sy niere het in ʼn stadium ook gesukkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Wonderwerk ·

So dankbaar hy is ontslaan!!! Dankie Vader dat hierdie mooie seuntjie oorleef het.

Reunie ·

Wat n pragtige ou seuntjie!!!! Sterkte vorentoe Logan en familie.

susan ·

Hierdie is ‘n absolute wonderwerk. Hoe jonger hoe vinniger is die herstel. Dankbaar. Het in Milpark baie hartseer verhale van brand gesien. Xx

Renee ·

Alle lof en eers aan GOD. Ons nasie almal saam gestaan. Toe antwoord GOD DIT IS WAT MOET GEBEUR IN DIE LAND KOM ALLE Suid Afrikaners alle kleur kom o s vat hande

Saayman ·

So bly dit gaan beter met hom! Mamma gee vir hom baie sweeties dit maak die eina sommer vinnig beter

Sophia ·

Aan U alleen kom al die eer toe, Vader! Ons het gebid, en U het gehoor!!

jakes ·

Is enige iets te moeilik vir die Here? Beslis nie. So bly vir die seuntjie en sy familie.

Charlene ·

Met sulke amazing ouers hoe dan anders. Chani, Chris julle is ouer 1000. Ons is dankbaar Logan is uit die hospitaal en nou kan dit net beter met hom gaan. Hy is n lewende wonderwerk.

Toy Joubert ·

Ek dank die Vaders vir julle auntie ek het 46 jaar so erg gebrand toe ek maar net 5jaar oud was. Die pad is nie maklik nie maar kan geloop word. Ek het 90% van my lyf gebrand en 3de graad. Die skool is nie maklik nie ek bid dat die Vader hom sal beskerem teen alles

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.